Daar in die veld ontmoet die Bobiane daardie seun en vra aan hom

wat hij daar maak. Hij antwoord: "Ek kom stokke vir mij vader haal:

van hierdie gaan hij kieries maak en van daardie een 'n boog om die

mense te skiet wat op hulle hakskene sit."

Die Bobiaan roep toe sij maat wat daar naasaan wei, en sê: "Maat,

kom luister hier watter praatjies gesels die seun hierso!"

Die maat stap nader en sing:

"Ek kom nou,

En luister

Na die kind bij jou."

En hij vra: "Wat sê daardie seun?"

Die eerste Bobiaan antwoord: "Hij sê hij kom stokke vir sij pa haal:

daardie stokke is vir kieries, en die ander een vir 'n boog om die

mense wat op hulle hakke sit, mee te gooi en te skiet."

"A so!" roep die tweede Bobiaan uit en hij roep sij maat wat naas

hom gewei het, en sê: "Kom luister na die stories van hierdie seun!"

Die derde Bobiaan kom nader en sing ook:

"Ek kom nou,

En luister

Na die kind bij jou."

Hij vra toe wat die seun gesels, en toe die praatjies van die seun

oorvertel word, roep daardie Bobiaan ook sij maat wat naas hom wei. En

so het iedereen sij maat geroep, totdat algaar kom luister het.

Die allerlaaste roep hul die ou voorman. Hij kom en sing ook dieselfde

liedjie. Toe hul hom vertel dat die seun kom stokke vir die Hotnotsgod

haal om kieries en 'n boog van te maak om die mense wat op hulle hakke

sit, mee te gooi en te skiet, toe roep die ou uit: "Wie anders word

bedoel as ons! Grijp die seun, vat die stokke af en slaan hom!"

Die klomp Bobiane bestorm die arme seun en slaan hom met die stokke

en met hulle vuiste dat sij kopbeen breek en sij oog uit die kop

rol. Die seun was toe dood.

Toe grijp een die oog van die seun en roep uit: "Hier het ek 'n mooi

iets om bal-bal mee te speel. Die Bobiane staan toe reg. Die een wat

die oog vang, roep uit:

"Dis mij bal dié!"

Die een wat die oog na die ander gooi, roep uit:

"Dis jouw bal dié!"

En so gaan die rondgooi aan onder die uitroep:

"Dis mij bal dié!".

"Dis jouw bal dié."

Hulle speel toe net geesdriftig en val oor mekaar dat die stofdamp

opslaan.

Die Hamerkopvoël, wat alles gesien het wat daar gebeur, vlie oor na die

Hotnotsgod om te vertel wat die Bobiane aan sij seun gedoen het. Die

ouman spring haastig op, vat sij boog, pijlkoker en knapsak mee en

hij hardloop na die plek toe waar sij seun dood lê. Van ver af sien

hij reeds die stof soos die Bobiane bal-bal speel. Die trane kom in

sij oë en hij begin bedroef oor sij seun te huil. Maar voor hij bij

die Bobiane kom, droë hij die trane van sij oë af, sodat hulle nie

moet sien dat hij gehuil het nie.

Toe hij daar kom, sit hij sij boog, pijlkoker en knapsak neer, en hij

vra om saam te speel. In plaas van dadelik te antwoord, staan die

Bobiane die ouman met verwondering aan te kijk; want dis nie aldag

dat hul hom te sien krij nie. Die ouman, 'Kaggen, gaan tussen hulle

staan en begin mee te speel. Hulle wou die oog van sij seun nie na hom

toe gooi nie, dog hij spring vooruit en vang die oog toe hul dit na

'n ander Bobiaan gooi.

Meteens voel die oog dat dit sij vader se vat was, en toe die vader

dit gooi, rol die oog tussen die Bobiane rond. Hulle val oor mekaar

om dit in hande te krij; maar vang ieder skoot mis. Die vader vat

weer die oog en gooi dit na 'n Bobiaan; die oog gaan in die lug op

en verdwijn. Toe roep die Bobiane uit:

"Waar is mij bal?

Toe, gee dit hier!

Ek wil dit hê;

Maak gouw, maak gouw!"

Die oog het in die knapsak van 'Kaggen onopgemerk ingekruip. Die

Bobiane soek orals rond, maar vind dit nie. Een roep uit: "Kom ons

deursoek die pijlkoker en knapsak!"

'Kaggen roep uit: "Pas op, as jul aan mij goeters kom!" Maar onopgemerk

pak hij die oog in sij knapsak met sij een hand, verberg dit in

die palm van sij hand. Hij skud die knapsak uit, keer dit om en sê:

"Kijk hier is niks." Daarop sit hij die knapsak weer neer en verberg

die oog daarin. Toe ondersoek hul die pijlkoker en vind ook niks.

Toe roep die Bobiane algaar tesame uit en sê:

"Waar is mij bal?

Toe, gee dit hier!

Ek wil dit hê;

Maak gouw, maak gouw!"

En hulle begin die Hotnotsgod met die vuiste te slaan. 'Kaggen slaan

terug, en die geveg word heftig. Die Bobiane was baie in getal en

so raak hul hom baas. 'Kaggen hol na sij goed, pak dit en hol vinnig

weg. Die Bobiane blij agter en soek een streek deur.

Daar voor bij die water gaan 'Kaggen sit en was hom met water. Hij haal

die oog uit sij knapsak en plaas dit in die water, met die woorde:

"Toe, liggaam van mij seun, kom hiernatoe; kom lê hier in die water

dat jouw oog weer op sij plek kan aangroei, en word weer net soos

jij tevore was."

Toe kom die liggaam van die seun deur die lug en val bij die oog in

die water. Daarop stap 'Kaggen huistoe; want hij voel siek van die

slaan en veg.

Toe hij bij sij huis kom, vra een: "Oupa, waarom is jij so vol bloed

en wonde?"

'Kaggen vertel toe dat die Bobiane sij seun dood gemaak het en met die

oog bal-bal gespeel het. Hij vertel dat hij gaan saam speel het--net om

die oog in hande te krij, en toe raak hul aan baklei. Hierop bestraf

die kleinkind sij oupa en sê: "Oupa is so oud en waarom loop oupa

alleen in die veld rond?"

Toe 'Kaggen weer alleen was, stap hij van huis reguit na die gat

water toe. Toe hij daar aankom sien hij sij seun buitekant in die son

sit. Die ouman was blij en stap stadig nader; maar die seun hoor hom

en spring pardoems! nes 'n Padda in die water.

Die ouman draai toe om, gaan huistoe en vat 'n voorvel en 'n karos

vir die seun. Daarop stap hij terug.

Hij stap weer stadig, en net toe die seun die water wou inspring,

pak die Hotnotsgod hom aan die arm en roep: "Moenie bang wees nie;

ek is jouw vader, 'Kaggen, en jij is mij kind. Dè, hier is klere,

wat ek vir jou gebring het, trek dit aan en kom saam met mij huistoe."

Op hierdie woorde herken die seun sij vader, en na hij sij voorvel

en karos omgesit het, stap hij saam huistoe.

Bij die huis vra die kleinkind weer: "Oupa het dan kom vertel dat

oompie dood, en sij oog uit is, en hier is oompie dan gesond terug

bij ons?"

Die oupa antwoord: "Die waters het hom weer uit die Dode laat

opstaan. Hij is nog swak, en ons algaar moet hom nou mooi oppas tot

hij weer sterk en fris word."

Die seun het bij die dag sterker geword en is nou gesond.

NO. 19

DIE MEID VAN DIE WATERS.

OPMERKINGS:--In hierdie Storie word ons vertel van 'n

veronderstelde Gees in die gedaante van 'n vrouw, wat die krag

besit om iemand met haar onsigbare wil die waters in te trek.

Daar was 'n jongmeid wat altijd water bij 'n fontein gaan haal

het. Daar nabij die fontein was 'n groot gat water, en in daardie

gat water het pragtige Blomme gegroei. Haar ma het haar dogter altijd

gewaarskuw om tog nie daardie mooi Blomme te gaan pluk nie; want hulle

is jongmeide wat na die water weggevoer was om daar Blomme te word.

Maar daardie Blomme was vir daardie jongmeid tog te aantreklik,

en die versoeking om hulle te pluk was tog te groot, sodat sij die

drang om hulle te pluk nie kon weerstaan nie. Sij wou dit maar net

eenmaal waag. Sij stap daardie gat water in, maar toe verdwijn die

Blomme onder die water, en die groot Waterslang trek meteens die

jongmeid ook in die water. Die jongmeid word toe nie in 'n Blom of

Padda verander nie; maar sij blij mens, wat die krag krij om ander

mense met haar onsigbare wil die waters in te trek--buitekant die

water het sij daardie mag nie besit nie. Sij was dus mens, maar kon

net soos 'n Padda in die water en daar buitekant lewe. So stap sij

van een gat water na die ander rond.

Die jongmeid het toe die Meid van die Waters geword.

In die water besit sij die mag om mense op onsigbare wijse in te

trek; daar buitekant betower sij weer die mense met haar skoonheid,

sodat hulle haar onwillekeurig volg.

Toe haar ma en die ander mense merk dat die jongmeid nie terugkom

nie, gaan hul na haar soek. Hulle krij haar bij die fontein nie;

toe stap hulle na die groot seekoegat, en daar sien hul haar karos en

haar armringe lê. Die moeder begin te huil, dinkende dat haar dogter

verdrink het.

Maar hulle voel nou dat daardie seekoegat 'n groot aantrekkingskrag

gekrij het; so word hul bang om na aan die kant te staan. Algaar huil

en gaan tekeer; want almaal het daardie jongmeid so lief gehad.

Meteens hoor hulle 'n vrouwspersoon daar bij die onderste seekoegat

sing; hulle kijk op en daar sien hul haar staan. Maar nou is sij

mooier en sij het pragtiger ringe om haar arms en bene--ook haar

voorskoot skitter, o, so mooi.

Hulle hol daarheen en roep haar op haar naam. Sij blij daar staan,

groet hul met wenke van haar hande, sij lag met hulle, en toe hul

nabij was, spring sij in die gat dat die water so spat.

Toe slaan haar moeder hande saam en roep uit: "Mij kind het van

daardie Blomme van die Waterslang gaan pluk en nou moet sij ook bij

die Waterslang gaan woon. O, mij dogter het nou 'n Toorgees geword!" En

sij huil bitter en almaal met haar, en hulle stap bedroef huistoe.

Die broer van die jongmeid sê toe aan sij ouers dat hij sij suster

van die groot Waterslang sal gaan verlos. Hulle vra aan hom hoe hij

dit sou doen; want wie kan daardie groot Waterslang baas raak?

Hij antwoord dat hij die blink steen op die kop van die Slang sou

gaan steel; want sonder daardie steen is die Slang mos magteloos en

kan niks doen nie.

Hulle raai hom dit ten sterkste af; want as daardie groot Waterslang

magteloos is, dan sal al die fonteine vanself opdroog.

Maar die broer van die jongmeid wou hom nie van sij plan laat afbring

nie, en werp teë dat hij dan die Reënbees sal krij om baie te laat

reën, en dan sal hulle altijd volop water hê.

Die ouers wijs hulle seun daarop dat die Reënbees die vader van die

groot Waterslang is, en dat hij vir 'n lang tijd nie sal laat reën

nie--net om hulle van dors te laat omkom. Maar vir hierdie waarskuwing

het die broer van die Meid geen ore gehad nie.

Hij stap weg om die groot Waterslang te gaan beloer om te sien waar sij

die steen gaan wegsteek eer sij in die water gaan. Hij krij haar net

toe sij rondseil. Maar die Slang kom sij planne agter en sij bestorm

hom eer hij die steen in hande gehad het. Sij verander hom toe in

'n ou Skurwepadda, wat gewoonlik ver van die water boer. Sij boog

verander sij in 'n ou bros stok, sij pijlkoker val aan stukkies, en

die pijle daarin verdor sij in kaf. Hij het nog nie vrouw en kinders

gehad nie, so het die groot Slang net sij ouers gestraf om al die

fonteine te laat opdroog. Maar die Meid van die Waters het jammer vir

haar ouers gevoel en het hulle toegelaat om bij die seekoegat water

te kom skep sonder hulle in die gat in te sleep--op hierdie manier

is hul van die dood gered geword.

Maar die Meid van die Waters, of somaar kortweg, die Watermeid, leef

vandag nog; sij woon nog in al die diep gate water; so waarskuw die

moeders altijd hulle kinders om tog nie nabij die kant van die diep

waters te gaan nie; want dan sal die Watermeid die kinders in die diep

waters intrek, waar hul in Paddas verander word. Om hierdie rede is die

kinders tot vandag toe nog bang vir groot seekoegate en blij daar weg.

NO. 20

DIE GENIEPSIGHEID VAN DIE SKILPAD.

OPMERKINGS:--In hierdie Storie krij ons bepaald te doen met

'n Bosegees, wat sij vermaak daarin gehad het om mense te pijnig.

In die dae van die ougeslag was daar 'n Toorheks, wat alte graag mense

seer gemaak het. Sij het verskeie gedaantes aangeneem, maar het haar

meestal vertoon in die gestalte van 'n groot Skilpad. Dit was nooit

bekend geword dat sij ooit iemand goed gedoen het nie.

Om haar streke beter uit te voer, het sij haar altijd siek aangestel,

waarmee sij die mense jammer vir haar laat krij het. En as die mense

vir haar kom dokter, dan sit hulle aan die pen.

As 'n Skilpad het sij maar min geëet en gedrink. Verder het sij

'n lui-lekker lewe gelei.

Bij 'n seker geleentheid lê sij in die skaduwee van 'n bos. Daar

kom toe 'n man verbij, en sij roep uit: "Mij liewe ou broer, kom tog

nader! Ek het so 'n ondraaglike pijn in mij nek, kom vrijwe tog mij

nek in met vet."

Die man kom nader, vat die vet, kniel voor haar en begin haar nek te

vrijwe. Meteens ruk die groot Skilpad haar nek in die dop, en vas

sit daardie man se hand. Hij brul van pijn en soebat mooi dat sij

tog haar kop moet uitsteek dat hij sij hand kan uitruk. Maar alle

smekings was verniet. Hij grijp met die ander hand 'n klip en skrop

daarmee die dop, en van daardie grilligheid steek sij haar kop uit,

en toe eers kon hij sij hand uitruk. Maar al die vleis en velle was

daarvan af--net die kaal senings en bene het oorgeblij.

Net toe kom daar 'n ander man verbij, en die groot Skilpad roep uit:

"Mij liewe ou broer, kom smeer tog mij nek met vet--ek het daar so

'n vreeslike pijn in dat ek daarvan kan beswijk."

Die eerste man steek gouw sij seer hand onder sij karos en sit,

met sij pijn, bedaard aan te kijk wat nou sal gebeur.

Die groot Skilpad steek haar nek lang uit, en die man begin die nek

met vet in te vrijwe. Meteens ruk die Skilpad haar nek gouw in, en

vas sit daardie tweede man se hand ook. Hij krul en skree van pijn;

maar los is min.

Die eerste man wil toe wegstap, en laat die ander so in sij smarte

sit. Die tweede man roep uit: "Ou broer, waarom het jij mij so 'n

stel laat aftrap?"

Die eerste man haal toe sij hand onder die karos uit en wijs hoe dit

lijk, en sê: "Ek voel net soos jij nou daar voel," en hij gaan weg.

Die tweede man, wat toe nog vassit, vat met sij ander hand sij kierie

en begin op die dop van die groot Skilpad te timmer. Toe steek die

Skilpad haar kop uit, en hij ruk toe gouw sij hand uit. Maar die

velle en vleis het daarvan afgeskeur. Hij stap toe ook huistoe,

so te sê blind van pijn.

Die twee mans het op dieselfde plek gewoon, en hulle stap toe saam

huistoe. Toe hulle thuis kom, was die Maan nog jonk. Soggends, as

hulle opstaan, neem hul van die douw, wat die water van die Maan is,

en was hulle hande daarmee. En namate die Maan groei, so ook groei

die vleis oor hulle kaal senings en bene. Toe die Maan vol was,

was hulle hande volkome gesond en was weer net soos dit tevore was.

Daarna stap die twee mans saam die veld in en krij die ou Skilpad

weer op 'n ander plek lê. Weer roep sij: "Mij liewe twee broers,

kom smeer tog mij bene met vet, ek het vretende pijne daarin, sodat

ek van die krampe kan doodgaan."

Die twee mans stap nader en maak nes of hul haar bene met vet wil

smeer, maar rol die ou Skilpad op haar rug en stop klippe rondom haar,

sodat sij nie weer kan reg rol nie. Hulle stap toe weg, onder die

vermoeding dat hulle haar gestraf het.

Daar voor ontmoet hul twee Kraaie. Hulle betower die Kraaie, sodat

waar hul Skilpaaie op die lijf mag loop, hul dan die vleis van die

Skilpaaie lewendig moet uitpik. Hulle stuur toe die twee Kraaie na die

groot Skilpad toe om haar vleis lewendig uit haar dop te skeur. Maar

die ou Toorheks het van alles geweet en hou haar gereed; want sij

voel geen pijn nie.

Toe die Kraaie daarheen vlie, roep die een uit:

"Die ou is maer, die ou is maer!"

Die ander Kraaie antwoord:

"Haar oog is vet, haar oog is vet!"

Toe die Kraaie daar kom, val hul meteens op die Skilpad aan en pluk

haar vleis lewendig uit haar dop. Maar sij is 'n ou Toorheks en voel

daar net niks van nie, en laat die Kraaie maar hulle gang gaan. Sij

het wel gemaak of sij seer krij.

Toe die Kraaie die dop skoon uitgepik het, vlie hulle weg om die

tijding aan die twee mans te bring. Die twee mans was baie blij om

die berig te krij, en hulle spring in die rondte en dans van vreugde.

Maar net soos die twee mans die Kraaie betower het om Skilpaaie te

vreet, net so het die ou Toorheks die Bije betower om mense te steek

waar hul die mense ook al krij.

Oor 'n ruk loop een van die mans in die veld rond en sien daar die

leë Skilpaddop lê. Hij tel dit op om dit te bekijk. Maar daar het

'n swerm Bije ingetrek, en die Bije pak daardie man en steek hom dat

hij nie weet waar in te kruip nie--want die man se lijf was amper

kaal en met min klere bedek. Hij neem die vlug huistoe, maar op weg

beswijk hij van pijn en val neer. Hij gooi toe stof in die lug. Die

mense thuis weet wat daardie stofgooierij beteken; hulle storm toe,

tel die man op en dra hom onder groot smarte huistoe.

Onderwijl het die ander man daar bij die leë Skilpaddop aangekom. Hij

tel ook die dop op om dit te bekijk, en die Bije pak hom ook en steek

hom dat hij nie weet waar in te kruip nie. Hij vlug ook huistoe; maar

val ook van pijn op die weg neer. Hij neem ook toevlug tot stofgooi

in die lug. Net toe die mense die eerste man in sij huis neersit,

sien hul die tweede stofgooierij. Hulle storm daarheen en vind die

tweede man ook in sij smarte. Hul dra hom ook huistoe. En die twee

was lank siek voor hul gesond geword en rondgeloop het.

NO. 21

DIE MÔRESTER IS DIE HART VAN DAGERAAD.

OPMERKINGS:--Hierdie Storie het ons hoor vertel op Katkop,

Limoenkop en op Klipfontein, langs Hantamrivier (dist. Calvinia),

en daaruit is die inhoud saam gestel. Wolf bij die Boesman is 'n

slim man, en hier word vertel waarom hij 'n uitgeteerde agtervoet

het: ook waarom die Rooikat klossies hare aan die punte van sij

ore het en net vleis eet.

Die Son was eers 'n mens van die ougeslag, en het toe in die lig

van sij blink gesig rondgestap, gejag en plesier gemaak. Maar die

ander ouvolk het boos op hom geword en het hom toe vermoor, en hulle

kinders het die Son se skitterende kop in die lug gegooi, alwaar dit

aldag nog skijn.

Die oudste seun van die ouman was baie gek na sij vader, en word toe

die boodskapdraer van sij vader en het verskeie werkies vir die ouman

verrig. Die naam van die seun was Dageraad.

Sij eerste werk vroeg in die oggend was om die liggies van die

Sterretjies dof te maak, en dan die blouw lug uit te hang, waaragter

die Sterretjies verberg blij. Daarna staan die Son uit sij bed op; en

die werk vir die seun vir die dag is dan afgedaan. Hij gaan dan jag,

kos grawe of gesels.

Sodra sij ou vader, die Son, sij dagwerk verrig het, en van moegheid

saands aan die westekant op die rantjies gaan sit, dan stap die tweede

seun, wat Aandskemering heet, oor, om sij vader, die Son, in sij bed

te sit. Dan is Aandskemering ook vrij om te doen wat hij wil. Maar

nooit het Dageraad en Aandskemering--al was hulle broers--van mekaar

gehou nie; so het hulle ver van mekaar gaan woon.

Eendag, na Dageraad, na ou gewoonte, vroeg opgestaan het en kos en

water na sij ou vader, die Son, se bed gebring het, stap hij rond

en sien 'n mooi jongmeid van die ougeslag. Wolf se dogter was ook

daar. Dageraad wou met die mooi jongmeid trouw; maar Wolf se dogter

was te smoor verlief op die skone Dageraad; sij word jaloers.

Dageraad trouw met die mooi jongmeid, en hulle het toe later 'n mooi

meisiekind gehad. Die ouers, en algaar, was baie gek na die kind--net

Wolf se dogter nie.

Op 'n ander dag, toe Dageraad die werk van sij ou vader, die Son,

klaargemaak het, toe neem hij sij vrouw en kind veld-toe, hij lê die

kind in die koelte onder 'n bossie, en gaan jag; onderwijl grawe sij

vrouw en haar jong suster mierrijs.

Jakhals kom daar en wil met die kindjie speel; maar die kind wou niks

met hom te doen hê nie. Toe kom Wolf se dogter daar en wil ook met

die kindjie speel; maar die kind wil ook met haar niks te doen hê

nie. Daarop kom Bobiaan daar en wou ook pret met die kindjie maak,

dog eweneens wou die kind met hom ook niks te doen hê nie. Ten laaste

kom Swart Kraai daar; maar sij praatjies het die kind nie aangestaan

nie. Maar toe die moeder die kindjie optel en met haar speel, toe lag

en spring die kind in haar moeder se arms; want sij het haar moeder

geken en was blij om bij haar weer te wees.

Jakhals word jaloers en draf weg. Wolf se dogter word jaloers en gaan

bij haar vader, wat daar nabij was, kla en huil oor die belediging

wat die onskuldige kindjie aan haar gedoen het.

Wolf erg hom somaar in sij hart en roep uit: "Dis jouw eie slegtigheid

dat jij nie die vrouw van Dageraad geword het nie; hoekom het Dageraad

dan die ander meid gevat en nie vir jou nie?"

Maar toe sij so bitter huil, krij hij vir haar jammer en sê: "Ek

sal jou vertel wat jij moet doen om die vrouw van Dageraad te word:

Neem van die swartagtige sweet wat agter jouw skouerblaaie sit, en

gooi dit op die mierrijs wat Dageraad se vrouw sal eet, en jij sal

sien wat sal gebeur."

Wolf se dogter hol gouw terug en gaan toe na die hut waar die vrouw van

Dageraad die mierrijs sit en was. Ongemerk gooi sij van haar armsweet

op die gewaste mierrijs. En toe die rijs gaar gemaak was, eet die

vrouw daarvan; maar sê aan haar jonger suster: "Moenie van hierdie

rijs eet nie, want ek voel ek word gek en raak van mij verstand af."

Daarop val die ringe om haar nek af, en lê op die grond; toe val

haar armbande af, en lê op die grond; toe weer die ringe wat om haar

enkels was; daarop val haar karos en velrok af, en algaar blij op die

grond lê. Die dogter van Wolf vat dit alles en trek haar daarmee aan

en sit die ringe vir haar om.

Die vrouw van Dageraad voel dat sij 'n wilde dier word, en sij hol die

veld in. Haar jong suster hol, met die kind agter haar rug, agterna en

wou haar vang en vashou. Dog die vrouw hol ver en vlug 'n kol riete in.

Die jonger suster roep uit: "Wag eers, en laat jouw kind drink,"

daarop oorhandig sij bij die rietkol die kind aan die moeder.

"Ja, gee haar hier, dat ek mij kind kan voed, eer ek 'n wilde dier

word!"

En toe die kindjie versadig was, gee sij die kind weer terug, en sê aan

haar jonger suster: "Kom môre vroeg weer, dat ek die kind kan voed;

want ek voel dat ek in mij harsings gekrink raak. Ek voel ek word

'n verskeurende dier."

Hierop vat die jonger suster die kind, stap huistoe, en die vrouw

gaan gouw weer in die riete lê.

Die aand kom Dageraad thuis en dog toe dat Wolf se dogter sij vrouw

was, en vra: "Waarom laat jul die kind so huil?" Waarop sij skoonsuster

geen antwoord gee nie, maar sus die kind in slaap.

Die oggend, toe Dageraad lig maak, hol die suster met die kind na

die rietkol en roep uit: "Suster, suster! hier is ek met jouw kind!"

Die moeder kom uit die riete, vat die kind, en na sij haar kind

gevoed het, gee sij dit aan haar jonger suster terug en sê: "Jij moet

vanmiddag die kind weer bring, sodat, eer ek 'n verskeurende dier is,

ek mij kind weer kan voed."

Die jonger suster het só op die middag, en ook teen die aand, gedoen.

Daardie aand gee die ouvolk 'n 'Ku-dans; dan klap die meide op hulle

hande, die volk kom voor die meide flikkers maak, buig en knik met

hulle koppe. Die dogter van Wolf dink dat hul die 'Ku-dans vir haar

gemaak het, dog sij sit in die donker, met haar rug na die dansers

toe. Ook was sij bang om die ringe om haar nek, arms en bene te laat,

maar lê dié naas haar, waar sij sit.

Toe Dageraad sij flikkers voor sij skoonsuster kom maak en haar op

die skouer klop, vlie sij kortom en roep uit: "Waarom maak jij nie

liewers jouw flikkers voor jouw Wolf-vrouw nie? Daar sit sij!"

En sij wijs haar met die vinger uit.

Toe eers gewaar Dageraad dat dit nie sij vrouw was nie; hij grijp

sij asgaai, om haar daarmee dood te steek. Dog Wolf se dogter was te

gouw, spring op, trap met haar een agterpoot in die vuur, ontvlug,

en die asgaai steek vas op die plek waar sij gesit het. Haar poot

was erg verbrand.

Dit was toe al laat in die nag--amper dagbreek--, en Dageraad was

kwaad vir sij skoonsuster dat sij die geheim van hom verberg het,

en roep uit: "Kom wijs mij waar mij vrouw is!"

Maar die skoonsuster antwoord: "As jij lig maak, dan kan ek jou

die plek gaan wijs; want jouw vrouw het in 'n verskeurende dier--'n

Leeuwin--verander."

Dageraad maak lig.

Toe roep die ander ouvolk uit: "Laat ons bokke voor ons uitdrijwe,

sodat die Leeuwin van die bokke, en nie vir ons kan vang nie."

Hulle ja toe die bokke vooruit, en die skoonsuster gaan die plek wijs.

Toe hul bij die plek aankom, sê die skoonsuster aan Dageraad: "Kom

kruip agter mij weg."

Hij gaan agter haar staan en koes. Die ander volk gaan weer agter hom

staan en koes, sodat die vrouw net haar jonger suster kan sien. Toe

roep daardie jonger suster uit: "Suster, suster, kom uit! Ek het jouw

kind gebring, sodat jij haar kan voed."

Die vrouw kom toe uit en sien die bokke staan. Sij gaan een vang;

en toe storm die jonger suster en die volk saam met Dageraad; hul pak

die vrouw, wat nou 'n Leeuwin is, en hou haar vas. Hulle vat van die

inhoud van die bok se ingewande en dokter haar daarmee en begin toe

haar vel af te trek.

Maar sij roep uit: "Laat die hare op die punte van mij ore blij,

anders word ek doof en kan dan glad nie hoor nie."

Hulle trek toe die leeuwvel van haar lijf af, dog laat die lang hare

op die punte van haar ore staan. Sij word weer die mooi meid wat sij

vroeër was; maar verander spoedig in die groot Rooikat, wat vandag

nog die klossies lang hare aan die punte van sij ore het.

Met dit al, blij sij die vrouw van Dageraad; want eindelik het sij

die mooi meid geblij. En daar sij met mierrijs getoor was, eet 'n

Rooikat net vleis en nie rijsmiere nie.

Sij het weer haar eie kind kon oppas; en daardie dogter het kinders

gehad, en die kinders het ook kinders gehad. Algaar is in Sterre

verander geword; en daardie Sterre volg nou hulle ouers agterna en

is nou die blinkste Sterre aan die hemel.

Boesman-Stories, Deel 1. Mitologie en legendes · 第 4 / 6 段