Selfs die wildgediertes moes snags thuis blij en ook hulle kos in

die dag soek. Dit was toe 'n tijd van vrede en gerustheid oor die

ganse Aarde.

NO. 13

DIE MAAN IS DIE SKOEN VAN DIE HOTNOTSGOD.

OPMERKINGS:--Ook hierdie Storie word op verskeie maniere vertel,

dog ons bepaal ons bij die beste vertellers, wat min of meer alles

in hierdie verhaal insluit. Hier word ons vertel dat die Haas die

oorsaak is dat die Dood die wêreld ingekom het--voor daardie tijd

het die gestorwene of vermoorde altijd weer opgestaan en geleef.

Die Hotnotsgod maak vir hom 'n paar netjiese skoene, waarmee hij dood

in sij skik was. Dog een van die skoene--die regter--was hard en dit

druk hom toe net seer aan die regtervoet; so sê hij aan sij dogter, die

Hamerkop (voël) om die skoen in die water te gaan sit om sag te word.

Hieroor was die groot Waterslang net erg gesteurd, omdat die Hotnotsgod

sij vuil skoen in die water durf laat plaas. Die Waterslang maak die

water in die nag net baie koud, sodat die hele dam die volgende môre

kliphard oorgeijs was. Die skoen sit toe binne in 'n stuk ijs.

Die Hotnotsgod stuur toe daardie oggend sij dogter, die Hamerkop,

om die skoen te gaan haal. Sij bring dit met die groot stuk blink ijs

daaraan. Hij vererg hom toe so daaroor dat hij die skoen weggooi--op

in die lug.

Die Hamerkop, wat die Windvoël goed ken, roep uit: "Windvoël, Windvoël,

vat die skoen op, op, op in die lug, dat ons snags ook lig kan hê!"

Daar kom toe 'n warrelwind, wat die skoen daar bo in die lug bring,

en los dit daar.

Die skoen met die stuk ijs word toe die Maan.

Die Maan met die blink stuk ijs daaraan begin toe in die nag te

skijn. Die mense van die ougeslag sien toe vir die eerste keer die

Maan. Hulle dek toe hulle gesigte met hulle hande toe en prijs en

vereer die Maan. Van toe af het hulle snags lig en hoef nie meer in

die donker rond te dwaal nie. Hulle kon toe snags gaan IJstervarke

jag en die Wild bij die waters voorlê en sien om hulle te skiet.

Hierdie ding het die Son glad nie aangestaan nie; want hij wou net

alleen in die lug geskijn het. Hij soek toe twis met die Maan. Die Son

is warm; want hij is die kop van Danser, die Vuurman. Die Maan is koud;

want hij is die versteende Waters. So probeer die Son om baie hitte

uit te straal om die ijs van die Maan te laat smelt. Die ijs smelt,

smelt, smelt tot net die sool van die skoen van die Hotnotsgod oorblij.

Toe huil al die mense dat die Maan nou dood is. Die groot Waterslang,

wat vir die waters in die fonteine sorg, hoor die gehuil en laat

'n fontein in die Maan kom om gedurig in die skoen water te maak,

sodat die water ijs kan word.

Die water in die skoen groei toe gedurig aan tot die hele skoen weer

vol water was; die water word ijs, en die Maan skijn toe weer in

volle krag.

Die Son spuug toe weer sij warm pijle op die Maan af, sodat die Maan

weer kleiner en kleiner word. Die gesmelte ijs word toe die nagdouw,

of maanwater, en die stukkies ijs word toe kapok en die rijp wat

snags val.

Toe die Boesmans weer die Nuwe Maan sien, bedek hul weer hulle oë met

albei hande en roep uit: "O, Maan, ons het gedink jij was heeltemaal

dood; maar nou sien ons dat jij weer lewendig na ons teruggekom

het. Nou weet ons dat die Son jou nooit sal doodkrij nie. Jij sal

doodgaan, maar sal altijd weer lewendig word. Maak ons net soos jij,

sodat wanneer ons oud word, ons weer van vooraf jonk word en nie

sterf nie."

Die Maan antwoord: "Julle sal oud word en altijd weer jonk word. Daarom

sal julle nooit sterwe nie. Julle sal, as julle oud is, net slaap en

uit daardie slaap sal julle gouw weer jonk ontwaak. Weer sal julle

jag, weer sal julle eet en drink, weer sal julle vrouwens en kinders

bij julle wees; want hulle ook sal nie sterwe nie."

So het die mense van daardie tijd nooit gesterwe nie.

Maar hoe het die Dood dan gekom?

Een aand toe die Maan ewe plesierig skijn, hoor hij 'n jongman

ontroosbaar huil. Hij vra aan die jongman waarom hij so bitter en

bedroefd huil.

Die jongman antwoord: "Mij moeder is dood, en ek sal haar nooit weer

sien nie."

Met diep meegevoel sê die Maan: "Wees maar getroos, mij seun. Jouw

ma sal weer lewendig na jou terugkom. Sij slaap net vir 'n rukkie,

maar is nie dood nie."

Die seun strij en antwoord: "Mij ma is regtig dood, die Wind is uit

haar neusgate gegaan, en die Vuur is uit haar lijf, so haal sij nie

meer asem nie en sij is stijf en koud."

Die Maan troos hom weer en sê: "Kijk na mij: ieder maand sterf ek

en word gouw weer lewendig, en so sal dit ook met al die mense gaan:

hulle sal net 'n rukkie slaap en weer ontwaak."

Maar die seun strij toe eers hard met die Maan; waaroor die Maan net

kwaad word. Hij gee die seun met die vuis 'n hou op sij bolip dat

die lip in twee splits, en so verander die jongman op die plek in

'n Haas, wat in die nag en in die maanskijn op die kweekplate gekromd

rondspring.

Toe sê die Maan: "Om jou ontwil sal ek al die mense vervloek. Hulle

sal voortaan sterwe en nooit weer in lewe terugkeer nie. Maar as hulle

nie met mij strij nie, en nie maak, soos jij, om mij tot leuenaar te

maak nie, dan sal ek mij weer eendag oor al die mense ontferm om hul

eendag uit hulle grafte op te wek."

So is die Dood deur strij van 'n Haas in die wêreld gekom.

NO. 14

DIE STERRE IS KOLE EN AS.

OPMERKINGS:--In hierdie Storie word ons vertel van waar die Sterre

kom, en hoe Kwaad op Aarde vermeerder het.

Die Maan het voortgekom uit die regtervoetskoen van die Hotnotsgod,

'Kaggen. Die Hotnotsgod maak toe weer 'n ander skoen in plaas

daarvan. Dog, die Maan het daar niks van gehou dat 'Kaggen sij maters,

die skoene, so moet trap as daarmee geloop word nie. So laat die Maan

van die maanwater val, dat die skoene gedurig moet nat wees, sodat

'Kaggen hulle nie kan aantrek nie.

Die Hotnotsgod roep toe sij ander dogter, wat later die Uil geword het,

en hij sê aan haar om die nat skoene langs die Vuur te gaan plaas om

droog te word.

Hieroor was die Son weer nie in sij skik nie, dat 'Kaggen sij vuil

skoene naas die Vuur durf plaas. So laat hij die Vuur kwaai vlam,

sodat die skoene kan verbrand. Toe die Hotnotsgod stuur om sij skoene

te haal, was hulle verbrand, waaroor hij nie min met die Uil raas nie.

Die Uil self was net daaroor vererg en sij vat die kole en gooi dié

in die lug en roep uit: "Toe, kole, word Sterre, dat ons snags lig

het as die Maan en Son slaap!" En tot die gloeiende as sê sij: "Toe,

as, word die Melkweg om die Sterre te help lig gee. Kom gee lig, dat

die mense in die nag kan sien en nie nodig het om thuis te sit nie."

Toe kom daar weer 'n groot warrelwind en voer die kole en as tot

ver bokant die wolke: die glinsterende kole word toe die flikkerende

Sterre, en die gloeiende as word die Melkweg, wat soos 'n verligte boog

oor die Aarde staan. Toe kom daar genoeg lig om snags rond te stap.

Toe die Son die volgende dag agter die berge oprijs, sien hij die

Uil sit en hij vra aan haar: "Wie het die lug vol kole en as gegooi?"

Die Uil antwoord: "Ek; want dis snags so donker dat niemand kan sien

om te loop nie."

Hierop sê die Son: "Weet jij dat jij 'n groot kwaad aangerig

het? Nou sal die mense in die nag rondstap om kwaad te doen. Ek het

die nagte so donker gemaak dat die mense nie hulle hande voor hulle

oë kon sien nie, en toe moes hulle thuis blij en slaap--die dag is

mos lank genoeg om te jag en rond te loop, om te gesels en om pret

te maak; maar nou sal jij sien dat jij die deur geopen het om kwaad

te doen. Ek sal hard probeer om die Maan uit die lug te krij, sodat

daar geen maanskijn sal kom nie. In die dag sal ek die Sterre voor

mij wegvee. Maar hoe omtrent jou, mij suster? Voortaan sal jij in

die nag met sterrelig moet rondvlie; want sien ek jou in die dag,

dan sal ek jou ook verbrand tot as, nes ek met die skoene gemaak

het. Al wie vir jou sien, sal jou oor daardie dwaas daad bespot. Toe,

gaan weg uit mij gesig en loop boer in die nag! En jij sal sien dat

die Sterre jou bedroef min lig sal gee--net genoeg vir boosdoeners

om kwaad te doen. Die Sterre is te gering om vir julle warmte te gee;

daarom sal julle snags van koue sit rittel en bewe."

Die Uil vlie toe weg om haar te gaan wegsteek; want waar sij in die

dag rondvlie, word sij bespot.

En nou sit sij te peins oor wat sij gedoen het--of dit reg of verkeerd

is. Waar sij sit, roep sij uit: "Hò, Hòa," wat in die Boesmantaal

beteken "oplig, opgelig." Daarmee vra sij haar af of sij kwaad gedoen

het deur die kole en as in die lug opgegooi of opgelig te hê.

Die Son het die Uil in die dag blind gemaak; so het sij van daardie

dag af nooit weer haar broer, die Son, gesien nie. Sij verlustig haar

nou in die Sterre en Melkweg, of Hemelstraat, wat sij self gemaak het.

Dit het toe so gekom, nes die Son voorspel het; van toe af loop Leeuw,

Tier, Wolf, Jakhals en IJstervark weer snags rond om te moor en te

rowe. Van toe af het die kwaaddoeners vermenigvuldig; want hulle het

nou snags genoeg lig om te sien, terwijl ander hulle nie van veraf

kan beken nie.

NO. 15

DIE HAMERKOPVOËL EN DIE PADDAS.

OPMERKINGS:--Hierdie Storie lewer ons iets oor die bijgeloof van

Boesmans en vertel hoe die Hamerkopvoël alles in beelde op die

water kan sien. Dit gee ons ook die herkoms van Blomme en Paddas

wat in die water groei en woon.

Die Hamerkop is nie somaar vandag se Voël nie. Sij was eers 'n mens

van die ougeslag en is 'n dogter van die Hotnotsgod, wat haar later in

'n Voël verander het.

Sij is baie goed bevrind met die Waters, wat aan haar die portrette

toon van alles wat gebeur en nog sal gebeur. Al wat die Hamerkop

te doen het, is net om in die Waters te kijk en dan sien sij alles

daarin. In die dag spieël die Son, Lug, Bome, Diere en alles wat daar

nabij is, hulle daarin af. Kleur vir kleur is daarin sigbaar. In

die nag kan ons die Maan, Sterre, Melkweg en al die ander goeters

daarin sien. Selfs as iemand in die donker anderkant die water loop,

dan kan ons hom amper so duidelik sien asof dit in die dag is.

Maar die Hamerkop sien nog meer in die water as wat die mense kan sien:

Sij sien dinge wat daar ver gebeur, en sij verstaan die betekenis

van dit alles. Ons mense sien dit wel, maar verstaan daar niks van

nie. Daarom moet ons ag slaan op die Hamerkop en luister na wat sij

ons kom vertel.

Word daar ver 'n kind gebore, of trouw daar mense, of lê daar iemand

siek, of sterf hij, dan het niemand nodig om dit aan die Hamerkop te

kom vertel nie--sij het dit lankal in die Waters gesien.

Wat sij gesien het, kom sij aan die famielie en vrinde van die persone

in haar eie taal en op haar eie manier vertel. Daarom slaan diegene wat

slim en verstandig is, ag op die Hamerkop, daar sij nie een is wat lieg

nie. 'n Mens kan op haar woord gaan. In die aand, as dit skemer is,

kom sij na die huise van die mense waar sij die tijding wil bring. Sij

vlie oor die huise, skree treurig en vertel dan wat sij te vertel het.

Sij kan ook dinge vooruit sien en kom dan die betrokke persone

waarskuw om tog nie fout te maak nie. Die Waters is bij haar iets

heiligs. Mors die jongmeide daarin, of laat houtas in die fontein

val, of laat hul 'n pot Water in die Vuur omslaan, dan gaan sij dit

aan die groot Waterslang en aan Danser Vuurman vertel. Hierdie twee

laat dan wolke opkom en gooi daaruit vurige swaar-weer-stene, om die

jongmeide mee te dood. Lê die jongmeide dood, dan spoel die strome

hul na 'n gat Water toe, waar die jongmeide dan Blomme word wat in

die Waters groei om daar tot sieraad van die Waters te wees.

Daarom is dit dat die moeders vandag nog hulle kinders waarskuw om tog

nie die Waters se Blomme af te pluk nie. Is die kinders stout en stap

in die Water, dan duik die Blomme gouw onder die Waters. Dan kom die

groot Waterslang en trek die ongehoorsame kinders onder die Waters,

en daardie stout kinders word dan Paddas, om vir die groot Waterslang

saands te sing en te dans.

Die Waterblomme was dus eers jongmeisies, en die Paddas was vroeër

die onwettige kinders, wat ongehoorsaam was.

Partijkeer, as daar 'n stuk of wat Hamerkoppe bijmekaar is, en hul

sien iets goeds in die Water, dan is hulle vrolik. Hulle word dan

net baie blij en begin somaar van vreugde om mekaar te dans. As hul

nie kom vertel wat hul daar gesien het nie, dan moet ons weet dat

dit goeie tijding vir hulleself is. Maar vlie hulle op en kom na die

persoon wat vir hulle staan kijk het, dan bring hulle die tijding

dat daar baie Wild aan kom is, en sê dat die mense hulle pijle moet

reghou. Hieroor word algaar blij, klap hande en prijs die Hamerkoppe

vir daardie goeie tijding.

Eendag stuur die mense hulle kinders na die Water toe om drinkwater te

gaan haal. In plaas van gouw te kom, blij die kinders daar speel. Hulle

vat klippe en stokke en gooi en slaan die Paddas daarmee dood. Hieroor

word die Wind kwaad, omdat daardie stout kinders uit onwettigheid die

Paddas, die kinders van die Waters, doodgegooi het. Hij vat daardie

kwaaddoeners van kinders in 'n warrelwind op, voer hul hoog in die

lug, totdat hul binne die wolke kom, en toe verander hij die kinders

in Paddas en dit reën toe Paddas uit die lug, soos ons soms vandag

nog sien.

Die ouers kom toe na die kinders soek, en was net ontevrede dat hulle

kinders nou in Paddas verander is. Hieroor word die Warrelwind ook

kwaad, verander die ouers ook in Paddas, en laat hul ook saam met die

reën uit die lug val. Op hierdie manier word ongehoorsaamheid gestraf.

Nou moet die Hamerkop oppas dat die Paddas nie uit die Waters gaan

nie. Krij sij een buitekant, dan maak sij hom dood en eet hom op. Die

werk van die Paddas is dus om saands te sing en te dans. Die babetjies

word in swart karossies toegedraai, sodat geen armpie of beentjie

uitkom nie--net as hulle groter word dan steek hulle eers die armpies

en beentjies uit, en daarop gooi hul die swart karossies weg en is

dan die jong Paddatjies.

As die winter kom, word die Waters koud, dan vlug die Paddas in droë

gate in die Grond. Maar die Grond is die Dogter wat aan slaap geraak

het. So slaap, slaap die Paddas ook die hele winter deur. Maar as die

donderweer hul met die begin van die somer wek, dan eers skrik hul

wakker en begin weer te sing; want die Waters roep hul om te kom dans.

NO. 16

DIE UIL EN DIE MUISE.

OPMERKINGS:--In hierdie Storie vind ons nog meer verhaaltjies

van Boesmanbijgeloof en ook van Opstanding.

Die Uil is ook 'n Voël van baie groot betekenis. Net soos die

Hamerkopvoël kan hij baie dingetjies sien wat gebeur en nog sal

gebeur. Die onderskeid is net dit: Die Hamerkop sien dinge in die dag

in die Waters, en die Uil sien in die nag aan die Maan en Sterre wat

aan die gang is. Die Uil is mos die Voël wat die Sterre en Hemelstraat

gemaak het, deur kole en as in die lug te gooi. Nou vertel daardie

Sterre en Melkweg haar van alles wat sal plaasvind. Ieder mens het

sij eie Ster. As daar 'n Ster besonder blink, of verskiet, of 'n

stert krij, dan weet die Uil al dadelik wie se Ster dit is, en waar

hij die tijding of boodskap moet gaan bring.

Die Uil laat haar ook gemaklik betower deur een of ander toornaar, dan

gaan sij bij die huis van die ongewenste persoon nare geluide maak. Kom

so een uit om haar weg te ja, dan val hij op die plek morsdood.

Ons mense kijk ook na die Sterre. En wat verstaan ons daarvan? Maar

die Uil verstaan alles. Sij let op of die Ster ogies knip, rooi, wit of

blouw word, of die Ster 'n stert, of roei, gaan krij, en dan na watter

kant die Ster verskiet, en na watter kant die stert van die Ster wijs.

Die Sterre gesels ook met haar deur boodskappe met die Vuurvliegies te

stuur. Op dit alles slaan die Uil ag. Daarom gee diegene wat slim en

vernuftig is, goed gehoor aan die Uil; want sij lieg nie: sij vertel

altijd die waarheid.

Gooi iemand haar met klippe, bespot en lag hij haar uit, dan kom sij

nie gouw weer nie. Maar bewaar die een as sij dan weer terugkom!--dan

bring sij slegte tijding. Daarom pas op om 'n Uil nie kwaad te doen

nie. Sij vergewe nie en kom later om jou te straf vir wat jij aan

haar gedoen het.

Die Uil en die Slange is ook goed bevrind. Soms as sij 'n boodskap

het van iemand wat reeds dood is, dan gee sij die boodskap aan 'n

Slang. Daardie Slang seil dan na die graf van daardie persoon wat

die boodskap gestuur het. Hij wag dan daar bij die graf. As iemand

die Slang daar sien, dan moet hij weet dat die afgesterwe persoon

laat weet dat hij gelukkig is, dat hij wens dat sij agtergeblewe

mense ook gelukkig moet wees, en daarom verlang hij dat die mense

'n groot maaltijd en vrolikheid om sij ontwil moet maak. [3]

Die mense bring dan baie kos, eet en maak vrolikheid.

Die Maan vertel ook baie dinge aan die Uil; want die Maan kan ver oor

die wêreld sien. Die Uil verstaan die Maan net goed: sij kijk net na

watter kant die horings van die Maan wijs; sij let op na watter kant

die hol bak van die Maan gedraai is. Die Geeste gaan in die hol bak

deur die lug rij; maar namate die holte opvul, gee die Geeste pad,

en as dit Volle Maan is, dan is daar geen plek vir hulle nie--dis

nou uitklimtijd se dinge daardie.

Nou, die Uil is nie so agterhoudend as sij lijk nie. Sij kom dit aan

ons vertel; maar ons moet mooi luister.

Daar was eendag 'n oujong en oumeid wat nie na die Uil wou geluister

het nie. Hulle het die Uil met klippe gegooi en haar uitgeskel en tot

leuenaar gemaak, terwijl hulle self leuenaars en bedrieërs was. Die

Uil was so vrindelik om aan daardie twee oues te kom vertel dat hul

dadelik moes vlug; want daar is 'n Leeuw wat na hulle verneem om

hulle op te vreet.

Die twee oumense roep uit: "Dit jok jij! En dan, ons is glad nie vir

Leeuws bang nie! Ons ken hier nabij net een Leeuw, en van ouderdom

het hij geen tand meer in sij bek nie." Onder die praat laat die Uil

sij mes val; hulle hol toe, tel dit op en wou dit nie weer teruggee

nie. Daarop steek hul die Uil onder die klippers en skel hom met

lelike woorde uit.

Daarop vlie die Uil bedroef weg.

In die nag begin dit kliphard te reën. Die onweer was straf. Onderwijl

hoor hul 'n Leeuw in die verte brul en aan die gebrul kon hul hoor

dat die Leeuw nader kom. Toe word hul bang en vlug. Maar toe hul

'n laagte wou deurvlug, was dit kant en wal vol. Hul vlug toe langs

die bruisende stroom op en daar vèr sien hul die vuur van ander mense

brand. Hulle hardloop daarheen en vertel toe aan die mense dat hulle

(die vlugtelinge) koud is, en vra velle om onder in te kruip. Die

mense gee aan die twee vlugtelinge baie velle om hulle in toe te rol.

Dog die Leeuw het die spore van die twee gevolg, en toe hij bij die

hutte kom, vra hij waar daardie twee vlugtelinge is; want hij wil

hulle hê om hul stukkend te skeur. Dog die mense het jammer vir die

twee gehad, so bring hul 'n halwe Hartbees na die Leeuw. Hij wou

daaraan egter nie eet nie, maar dwing net oor die twee vlugtelinge.

Toe kom die Uil ook daar en vertel wie dat daardie twee oues is,

dat hulle diewe en leuenaars is. Toe bring die mense die twee uit en

oorhandig hul aan die Leeuw, wat hul op die plek aan flenters skeur,

sonder die bloed eens te lek of 'n stukkie van hulle vleis te eet.

In die nag het die maanwater op die stukkies vleis geval, daar het

lewe ingekom, en ieder stukkie het 'n Muis geword.

So het die Muise uit leuenaars, diewe en bedrieërs voortgespruit en

daarom kan hul tot vandag toe nie hulle streke laat nie.

NO. 17

DIE REËNBOOG.

OPMERKINGS:--In hierdie Storie word ons vertel hoe die Reënboog

ontstaan het en dat die Reënboog 'n goeie verlokker is.

Die Reënboog is die Dogter van die Opgewing, of Lugspiegeling. Sij

was ook eers 'n mens van die ougeslag; maar het later die vorm van

die Reënboog aangeneem, en dit het so gekom:--

Die Opgewing haar dogter het bij haar daar op die Vlaktes gewoon. Net

soos haar ma, die Opgewing, het die dogter daar groot plesier in gehad

om die gek met iemand te skeer; daarom het sij so baie van mooi klere

aantrek gehou. Sij was ook, net soos haar ma, sonder spraak--jij sien

haar wel, maar hoor haar nooit nie. En tog het sij baie liefhebbers

gehad, waaronder die Windvoël en die Reënbees was.

Die Windvoël, wat die winde laat waai, het baie na daardie dogter toe

kom kuier. Dan vertoon hij hom as Voël in sij beste veredrag en voer

met hom saam die geure van al die lekkerruikende blomme en kruie. Sij

het egter nie groot sin in die Windvoël gehad nie, maar het meer van

die Reënbees gehou. Maar die Wind is sterker as die Reën--so moes

sij maar haar beurt afwag.

Een dag kom die Windvoël skoon en netjies aangevlie. Die dogter kon

hom reeds op 'n afstand hoor aankom; want hij klapwiek so liefies

en vrindelik met sij vlerke, wat gebalsem was met die heerlikste

geure. Sij kom uit haar hut en gaan voor haar deur sit en wag. Die

Windvoël kom en gaan ook ewe vrindelik voor haar sit. Sij stap op en

begroet hom deur haar hand oor hom te strijk en hom met die poeier van

lekkerruikende blaartjies te bestrooi. Sij hou haar ewe lief en soet.

Na hom nog 'n rukkie gestreel te hê, gaan sij ewe liefkosend op sij

rug sit, hij brei sij vlerke uit en daar stijg hij in die lug op en

vlie met haar daar na die berge toe, waar sij huis in 'n klipgrot is.

Maar daar in daardie kliphuis was 'n koue lug, wat haar glad nie

beval het nie; maar sij laat niks merk nie--bowendien, die plek was

nouw en ongerieflik; maar sij hou haar ewe tevrede. Sij vra toe deur

tekens waar die kos en water is. Dog daar was geen kos en water nie;

so sê die Windvoël vir haar om maar daar 'n bietjie te wag, hij sal

alles gouw gaan haal; want hij weet waar die beste te krij is.

Hij vlie toe oor die berge, en sij blij daar in die klipgrot wag. Hij

vlie ver en blij 'n goeie ruk weg.

Toe die Windvoël terugkom, was die dogter skoonweg; want sij het

intussen gevlug en het vir haar daar op die Vlaktes bij haar ma,

die Opgewing, onder die grond gaan wegsteek, waar die Windvoël haar

nooit sou uitsnuffel nie.

Die Windvoël voel toe dat hij deur die meisie bedroë was en was

daaroor nie min gesteurd nie. Maar haar moeder, die Opgewing, het

goed verstaan om die Windvoël in 'n goeie luim te hou, sodat hij nie

moet kwaad word en alles verwoes nie.

Die Waterslang, wat ook onder die grond rondseil, het gouw uitgevind

waar die dogter haar nou ophou; sij gaan dit toe aan haar vader, die

Reënbees, vertel. Die Reënbees woon in 'n seekoegat: as hij daarin is,

dan is die gat vol water; maar gaan hij uit om te wei, dan word die

gat droog en 'n misdamp, wat die asem van die Reënbees is, omring hom,

sodat niemand hom in daardie mistige weer kan sien nie. Hij stap toe

reguit na die meisie toe. Alles was stil; want die Windvoël het ver

oor die berge gevlie en sou vir dae wegblij.

Sij ruik die heerlike ruik van die reën wat die Reënbees maak, en kom

onder uit haar onderaardse woning. Die Reënbees kom voor haar kniel

en gaan ewe lief lê en was net vrindelik.

Die meisie staan toe op en klop liefkosend met haar hand teen die

Reënbees se nek en strooi oor hom ook fijngemaakte kruiebossies en

lekker-ruikblare. Na sij 'n rukkie met hom gespeel het, gaan sij ewe

plesierig op sij rug sit. Hij staan op en stap met haar--hoog in sij

skik--weg na sij huis, die seekoegat, toe.

Op weg daarheen sien sij 'n klomp groot bome staan; sij sê toe dat

sij moeg voel en wil eers daar onder die bome gaan rus. Die Reënbees

stap daarnatoe en gaan teen 'n stam van 'n groot boom in die skaduwee

lê. Die meisie blij op sij rug sit, dog strooi weer kruie op die kop

van die Reënbees; hij krij daarvan vaak en val vas in die slaap.

Toe sij dit gewaar, dros sij stilletjies weg--reguit na haar moeder

op die Vlaktes toe. Toe die Reënbees wakker word, verbeel hij hom

een streek deur dat die meisie nog op sij rug sit, en hij stap toe

na die seekoegat toe. Maar toe hij in die water wil induik, toe eers

gewaar hij dat die meisie weg is. Hij word toe kwaad.

Maar die moeder van die dogter het reënbossies gebrand--bossies wat

gebrand word om die Reënbees tevrede te stel. So het hij afgekoel

van sij kwaai bui en het nie deur verspoelings skade onder die mense

aangerig nie.

Die Opgewing het toe haar dogter in 'n Reënboog verander, sodat die

Wind en Reën haar kan sien en bewonder, maar aan haar geen kwaad

kan doen nie. Sij het haar pragtige gekleurde klere behou en pronk

nog daarmee.

NO. 18

DIE HOTNOTSGOD EN BOBIANE BAKLEI.

OPMERKINGS:--In die Boesmanstories speel die Bobiane nogal

'n groot rol. Hulle word gewoonlik voorgestel as skrander en

sterk. Hier is weer sprake van 'n Opstanding en wel uit die Waters

Die Bobiane is mense van die ougeslag en is van 'n ander famielie as

'Kaggen, die Hotnotsgod. Daarom het hulle nooit ontsien om die ouman

en sij famielie te pla nie. Baiemaal as die kinders van die Hotnotsgod

gaan water haal, dan moveer die Bobiane hulle en ja hul van die water

af weg. Gaan die kinders veldvrugte pluk, of veldkos haal, dan vat

die Bobiane dit af en maak die kinders bowenop seer. Die kinders kom

dan bij hulle pa of oupa, die Hotnotsgod, daaroor kla.

So stuur 'Kaggen eendag sij seun om stokke te gaan haal. Hij wil

daarvan kieries en 'n boog maak om die Bobiane mee te gooi en te skiet.

Boesman-Stories, Deel 1. Mitologie en legendes · 第 3 / 6 段