Toe Antjie van die Vlaktes dit gewaar, was sij net blij. Sij laat

die vreemdelinge algaar in 'n slaap val en verskijn toe aan hulle in

pragtige drome. Hulle sien o, so 'n mooi vlei, waar 'n uitgestrekte pan

water is. Daar was sierlike houtbosse, groot huise en gerieflike hutte

en Wild, so groot as hul nog nooit gesien het nie, in oorvloed. Hulle

droom van die heerlike vrugte en lekker veldkos--sodat hulle monde

somaar begin te water.

Toe die vreemdes ontwaak, vertel die een aan sij naaste hoe mooi hij

gedroom het. Onder die vertel kijk hulle op, en, ja werklik! daar

sien hul in die verte met hulle oë wat hul in hulle drome gesien

het. Die Springbokke is so groot as bome, en dit lijk of hulle op

vier hoë pale in plaas van bene rondstap--wat nog te praat van die

ander Wild wat nog groter is!

Die voorman van die Wildemense roep toe sij mense en sê: "Kom laat

ons na daardie pragtige, lekker land stap--ons is netnou daar, en

dan het julle alles wat julle hart begeer. Want ek het reeds in mij

droom al die vet Wild, die heerlike veldvrugte en die lekker veldkos

gesien. Daar kan ons lekker gaan plesier maak.

Hulle stap toe na daardie lui-lekker land toe.

Maar vreemd genoeg, hulle stap en stap, maar kom nie nader nie, terwijl

alles so nabij en groot lijk. Hulle hou moed en stap nog haastiger,

en dit lijk of hul nou-nou daar sal aankom; maar net verniet.

Terwijl alles so na en duidelik lijk, wou hul nie omdraai nie--dit

sal tog te sleg wees; so stap hul nog vinniger, en het so vir 'n lang

tijd aangehou.

Eensklaps stort die hele spookverskijnsel in niks. Die vreemdes voel

hul toe op koers na hulle eie land toe. En toe hul reg opkijk, was

hul weer terug op hulle ou woonplekke.

Op hierdie manier het die Opgewing haar mense verlos.

NO. 9

DIE WATERS IS DIE JONGSTE DOGTER.

OPMERKINGS:--In hierdie Storie word ons vertel van waar die

Waters kom, en wat watervloede kan uitrig. Die Boesmanwoord vir

water is 'Khwa, en so het ons ou verteller ook die jongste Dogter

genoem. Die Boesmans glo dat daar gloeiende weerligstene is.

Die jongste Dogter, 'Khwa, het ook met haar man in hutte van

matjiesgoedmatte gemaak, gewoon. Die matte het sij van haar tweede

suster, die Vlaktes, present gekrij.

'Khwa het baie verskil van haar twee ouer susters. Die snoer van

Springbokore om haar nek het haar net so rats as 'n Springbok

gemaak. En daar 'n Springbok 'n dier is wat snags nie slaap nie,

so het 'Khwa ook maar min geslaap, sij was altijd aan woel, altijd

besig--dis min dat sij tot rus kom.

Die snoer van Springbokore het haar 'n onweerstaanbare lus vir

Springbokvleis gegee en sij het groot plesier daarin geneem om self

die bokke te gaan jag. Haar man het ook self gejag en veldkos gaan

soek; so het hulle altijd volop kos vir hulle en hulle kind gehad.

Sij het darem meestal thuis geblij om haar kind op te pas, maar as

die man bij die kind thuis blij, gaan sij veld-toe.

Eendag was die kind alleen thuis, toe kom daar 'n groot Springbok. Hij

was ook een van die ougeslag van Boesmans. Hij eis die snoer van

Springbokore wat met die senings van 'n Springbok om die nek van

'Khwa vasgebind is. En hij hou hom net kwaad en parmantig.

Die kind wou ook nie vertel waar sij ma is nie en versoek die bok om

weg te gaan; so nie, dan moet hij die gevolge staan.

Dog die Springbok antwoord dat hij wel sal weggaan; maar dat hij die

volgende dag met 'n trop van sij broers sou kom om 'Khwa te bestorm

en dood te trap, as sij nie die snoer wil opgee nie.

Die middag toe die vader thuis kom, vertel die kind alles aan sij pa

wat die Springbok gesê het en versoek sij pa om tog nie die volgende

dag veld-toe te gaan nie.

Die vader sorg toe vir kos vir die volgende dag, sodat hulle nie

nodig gehad het om honger te lij nie.

Die dag daarop sien hul hoe die stof van die naderende Springbokke

uitslaan. Hulle word toe bang.

Dog die Hotnotsgod, wat daar nabij op 'n bossie gesit het, het dit

alles aanskouw. Hij verander toe die man in 'n groot Os, of die

Waterbees, wat ook die Reënbees genoem word, en die kind verander

hij in die groot Waterslang, wat die pragtige skitterende steen op

die kop dra.

Die Reënbees blaas toe 'n dik misbank uit sij neus en dik swart

reënwolke in die lug, waaruit 'n swaar stortbui val, sodat dit donker

word en daar 'n groot watervloed kom, en die groot Waterslang laat ook

strome water uit die grond opborrel. Die Springbokke moes toe uitswem

en vlug om hulle lewe te red. Hulle het so geskrik dat Springbokke

van daardie dag af nog nie water drink nie.

Toe die Reënbees en Waterslang na 'Khwa soek, vind hulle uit dat dit

sij is wat in Waters verander het. En daar 'Khwa min rus gehad het

en altijd in beweging was, daarom sal die Waters net so wees--daarin

sal altijd 'n roering en rusteloosheid wees, net soos die See vandag

nog is.

Die ander mense sien toe die Waters en begin daaraan te proe en hulle

vind uit dat dit 'n goeie iets is om die dors mee weg te neem--van

daardie tijd af drink hulle water.

Dog daar is ook onder hulle wat nie van die water wil drink nie,

soos die Springbokke, Hasies, Skilpaaie en die Goggas--hulle drink

'n ander soort water, wat hulle nie gouw laat dors krij nie. Maar

net verniet: hulle sal nooit vertel waar daardie water te vinde is nie.

'Khwa is nou die uitgebreide en rustelose Waters. In strome vloei sij

na die riviere, en die riviere op hulle beurt vloei in die woelige

See. As reën sweef sij in wolke deur die lug; as mistige weer, wat die

asem van die Reënbees is, sweef sij oor die berge en vlaktes--nooit

het sij rus nie; selfs uit die grond borrel sij in fonteine op.

Die Waters, net soos die ander twee susters, die Berge en die Vlaktes,

is sterk. Die Waters kan groot gewigte mee voer en dra, en swaar

goeters kan daarop drijwe. Sij leef nie alleen bo en onder die grond

nie, maar ook in mense, diere en plante. As sij uit die mense, diere

en plante uitgaan, dan sterf hulle van dors. Dus Water, Vuur (warmte)

en Wind (asem) is wat mense aan lewe hou. Hulle drie sterf nie,

en solank as daar 'n Aarde sal wees, sal daar Water, Vuur en Wind wees.

Somtijds baklei die drie met mekaar; maar meestal werk hulle saam. Sien

die Boesmans 'n donderstorm nader, dan word gesê: "Vandag twis Water,

Vuur en Wind weer met mekaar." Want die Wolke giet stortbuie uit, die

Vuur skiet vurige donderstene, en die Wind drijf hulle voort totdat

hulle uitbaklei het. Soms reën die Water die Vuur dood, of die Vuur

verkook die Water, of die Wind waai die Water droog en blaas die Vuur

dood. Maar mekaar uitroei, is net verniet!

Maar die mense maak ook maar net so: om een dag met mekaar vrindelik

te wees en om weer die dag daarop met mekaar te kijf en te twis. Die

diere maak ook net so.

En dit alles kom net deur die Water, Vuur en Wind wat in die mense

en diere woon. Want as die Water, Vuur en Wind uit die mense en

diere verhuis het, dan sterf die mense en diere en maak dan nie meer

vrindskap of rusie nie.

NO. 10

DIE REËNBEES EN DIE BOBIAAN.

OPMERKINGS:--Die Reënbees is die groot reënmaker van die Boesmans

net soos die groot Waterslang die watermaker van hulle fonteine

is. Die Boesmanwoord vir "os" is Choro.

Die Reënbees is die man van 'Khwa, die Waters. Vroeër was hij 'n

mens wat rondgejag het, te voet gestap het en saam gespeel en gedans

het. Nou is hij 'n bees, wat hom in 'n Reënbul, of in 'n Reënkoei kan

verander. As daar droogte is, en die mense wil reën hê, dan kom hulle

hom haal, lei hom rond en wijs hom al die plekke waar hulle reën wil

hê. Om hom in 'n goeie luim te krij, word om hom gedans, hande geklap

en gesing. Hulle prijs hom en smeek baie mooi bij hom om tog mooi te

laat reën, sodat die velde kan groen word, die Wild en Heuningbije weer

kan terugkom, en dat daar baie veldvrugte, uintjies en veldkos kan kom.

Hij is mak as hul hom nie kwaad maak nie, en verander hom ook in 'n

koei, sodat hul haar melk kan drink. Waar die Reënbees stap, trek daar

'n misdamp rondom hom; want die mistige weer is sij asem wat hij bij

sij neusgate uitblaas. Op die middag--as hij nie wil laat reën nie--,

dan rus hij, en dan blaas hij nie die misdamp uit nie.

Eenkeer was daar droogte in die berge waar die Bobiane woon. Die

voorman van die Bobiane gaan die Reënbees vra om tog bij hulle reën

te kom maak. Die Reënbees verander hom toe in 'n koei, sodat die

Bobiaan melk op die reis kan hê; want Bobiane is mos baie gek na melk.

Daardie Bobiaan was ook een van die ougeslag van Boesmans wat vanmelewe

gelewe het. Hij lei die Reënkoei orals rond en wijs waar hij die reën

wil hê, en net soos hij dors krij, melk hij die Reënkoei en drink

die melk.

Toe hij klaar het om al die plekke waar dit droog is, te wijs, bring

hij die Reënkoei weer terug. En toe begin dit orals pragtig te reën,

sodat die waters stroom en spoel.

In plaas van hieroor erkentlik te wees en baie dankie aan die Reënkoei

te sê, maak hij haar dood--net om die melkuier te krij, om dit met

hom saam te neem.

Na hij die Reënkoei doodgemaak het, krij hij 'n brandende dors en

'n knaende honger. Hij sien grasgroen karkoere (wilde waatlemoene)

lê; hij stap daarheen om te eet en om die water daarvan te drink. Dog

toe hij daaraan vat, verdroog dit en word stof.

Die honger en dors kwel hom toe erger, en hij hardloop na 'n fontein

toe, waar daar veldkos en water in oorvloed is. Net toe hij uit

die fontein wou drink, verdroog die fontein. Hij pluk toe van die

sopperige veldkos, dog alles verdor waaraan hij die hand lê.

Toe word die Bobiaan net benouwd, hij hol reguit na 'n groot kuil

water. Sonder om te wag, spring hij pardoems, daarin. Maar weg is

die water en hij val op droë grond.

Arrie, nou gaan dit smoor: die honger vat hom straf op, en die dors

kwel hom so dat hij wou beswijk. Nou hol hij reguit ander mense toe

en roep net: "Water, water!"

Die mense gee hom 'n Volstruiseierdop vol water. Maar net toe hij

wil drink, verdwijn die water. Hij smeek om meer. Hulle gee. Maar net

soos hij sij lippe daaraan sit, weg is die water. Hij bid toe om kos;

maar met die kos het dit glad nie anders gegaan nie.

Toe vra die mense aan die Bobiaan: "Het jij nie die Choro-koei (of

Reënbees) geslag nie?"

Hij wou eers lieg; maar hij word vir die dood bang, so antwoord hij:

"Ek het 'n koei geslag; maar ek weet nie of sij die Reënkoei is nie."

Toe roep die mense uit: "Man, hol na die plek waar jij die Choro-koei

geslag het en roep uit: "Choro, Choro, word weer lewendig--net soos

jij tevore was."

Sonder 'n oogknip te versuim, weg spring die Bobiaan na die plek toe en

roep uit: "Choro, Choro, word weer lewendig--net soos jij tevore was!"

Die Reënkoei spring op en staan die Bobiaan ewe treurig aan te

kijk--sij voel net bedroef en kroeserig.

Die Bobiaan vlie kort om--weer reguit na die mense toe. Die lug was

warm, en hij wou vir die hitte in die koelte gaan sit; maar die koelte

skuif weg na die anderkant van die boom. Hoe nader hij na die koelte

stap, hoe verder die koelte wegskuif. Die mense bring water en kos;

maar net soos tevore: as hij wil drink, verdwijn die water, en as

hij wil eet, weg is die kos.

Toe vra die mense aan die Bobiaan: "Het jij niks agtergehou nie?"

Hij antwoord: "Ja, ek het die melkuier vir mij gehou; ek het seer oë

en gebruik die melk daarvoor."

Toe roep die mense uit: "Hardloop terug en roep uit: "Choro, Choro,

hier is die melkuier, toe word nou eenmaal reg, dat ek ook gesond

kan word." Hij gaan en doen dit.

Hierop word die Reënkoei weer soos sij tevore was en sij laat dadelik

reën op die plek waar hulle op die oomblik staan. Daar kom toe 'n

vloed water waarop banke Sprinkhane drijf. So het die Bobiaan toe water

en kos genoeg. Dog die vloed rijs hoër en hoër, waardeur die Bobiaan

verplig was in 'n boompie te vlug. Die drijwende Sprinkhane klouter

ook in daardie boompie op, sodat hulle die Bobiaan nes 'n swerm Bije

toepak. Die Bobiaan kon toe nie asem krij nie, en van die gewig van

die Sprinkhane buig die takke, sodat die Bobiaan in doodsangs tot aan

sij nek onder water sit. So nou en dan slaan daar 'n golf oor sij kop.

In hierdie benouwdheid het die Reënbees die Bobiaan tot die ander

dag laat sit. En toe eers het die Reënbees die waters laat opdroë.

Toe die Sprinkhane droog en warm word, vlie hulle weg, en toe eers

krij die Bobiaan kans om in vrede huistoe te gaan.

Maar net verniet, hij het nog nie sij streke laat staan om melkdiere

en jong lammers te moveer nie.

Die Waterbees se woonplek is langs die groot Waters, en hij is baie

gek na die Wind. Baiekeer gaan die Wind hom roep en wijs dan die

plekke aan waar reën nodig is. So gebeur dit baie kere as die Wind

sterk gewaai het, dat dit op daar die plekke begin te reën.

Ook die Vuur roep die Reënbees en gaan dan bo in die wolke sit. Hij

bring dan die wolke uit die see op en laat op die land reën. Die

onweer is in sulke gevalle 'n tamaai groot Voël [2], wat weerligstene

uit die wolke op die grond gooi om te wijs waar die reën moet val.

NO. 11

DIE GROOT WATERSLANG.

OPMERKINGS:--Hierdie Storie is slegs 'n kort verhaal van die

groot Waterslang, wat so 'n vername rol in die Boesmanfabelleer

speel. Ons sal later meer van hom hoor. (Sie ook "Die Brandwag"

van 15 November 1912, bladsij 376).

Die groot Waterslang is die dogter van die Waters en Reënbees. Sij kan

haar groot of klein maak--net soos sij verkies. As sij 'n reusagtige

vorm aanneem en swem in 'n rivier, op of af, dan laat sij die waters

in die rivierbed so hoog rijs dat die waters die walle oorstroom;

draai sij haar dwars in die rivier, dan dam die rivier ver op.

Die groot Waterslang dra 'n pragtige, skitterende steen op haar kop. Op

'n groot afstand is die glans van daardie steen sigbaar, en dit flikker

met uitskietende ligstrale wat die lig van die Maan vér oortref; want

dit kan duidelik op die middag in die helderste sonskijn gesien word.

Die Waterslang heg 'n groot waarde aan daardie kosbare steen. Nooit

sal sij haar in die water waag nie, of selfs water drink nie, sonder

die steen eers op 'n veilige plek weg te steek. Dit neem haar 'n lang

tijd om 'n veilige wegsteekplek te vind. Het sij so 'n plek gekrij,

dan lig sij haar voorlijf hoog op om beter te kan rondkijk of iemand

haar nie sien nie. Gewaar sij niemand nie, dan eers skuif sij die steen

van haar kop, verberg dit daar veilig en waag haar in die waters. Sij

is egter nooit gerus nie, maar kijk gedurig in die rigting van die

steen om te sien of sij daar niemand in die nabijheid van die steen

gewaar nie.

Gewaar sij iemand in die nabijheid, dan kom sij windsnel uit die

water en bestorm die persoon en maak hom òf dood òf vermink hom

vir lewenslank.

Geluk dit iemand om die steen in besit te krij sonder dat die

Waterslang die persoon kan uitvind, dan is so 'n mens vir sij hele

lewe gelukkig; hij word met presente oorlaai, sodat hij naderhand

met al die goed opgeskeep sit. Die Waterslang treur haar dan dood,

na sij 'n ellendige lewe gelei het.

Maar vind die Waterslang die dief uit, dan word die dief bitter

ongelukkig--sij vrouw en kinders sterf al die eerste dag, en al sij

goed word van hom gesteel of raak somaar sonder oorsaak goedsmoeds

weg. Die dief word sieklik, kwijn en kwijn en sterf naderhand 'n

aaklige dood.

Daar was eendag 'n jong Boesman van die ougeslag. Hij het die ouvolk

baie oor daardie Waterslang hoor gesels, hoe rijk die slang iemand kan

maak, hoe sij haar mense ken en hoe mooi en goed sij hulle versorg,

hoe sij die Waters vir haar mense in die droë fonteine laat kom;

maar hoe sij aan die anderkant die volste fontein vir vreemdelinge

laat opdroë, terwijl sij die sterkste strome tot niet kan maak.

Daardie jong Boesman krij 'n plan in sij kop om die Waterslang van

haar steen te ontroof; maar hij verklik sij plan daaromtrent aan

niemand nie. Aldag gaan hij daar ver op 'n koppie vir hom wegsteek om

te loer waar die Waterslang haar steen wegberg. Toe hij die plek al

goed ken, waag hij dit om onder in 'n gat daar bij die plek te gaan

wegkruip. Hij krap gras en bossies oor hom, sodat die Slang sij ruik

nie kan krij nie, en verder lê hij so stil as hij maar kan.

Op die gewone tijd kom die Slang en verberg haar steen toe op die

plek. Sij seil water-toe om in die groot rivier te gaan baai.

Toe die jong Boesman dit veilig ag, kruip hij na die steen toe en

draai dit dig toe in baie soorte goed. Daarop kruip hij weer weg en toe

hij uit die gesig was, hol hij so wat hij geleer het. Tot sij geluk,

die Slang het hom nie gesien nie.

Toe die Slang genoeg in die water gespeel het, gaan sij weer na haar

steen toe. Maar toe sij op die plek kom, was daardie steen weg. Die

eerste wat sij doen, was om spoor te soek. Sij soek en soek, snuffel

en snuffel, en eindelik vind sij tog die spoor en volg dit stap vir

stap tot sij bij die hutte kom waar die jong Boesman woon.

Arrie, was die mense nie verskrik toe hulle die groot Waterslang

bij hulle sien uitkom nie? Die vurige kijk van die Slang het die

uitwerking dat geeneen kon vlug nie. Want 'n Slang kan mos 'n mens

aantrek dat hij doodstil sit en nie kan wegkom nie.

Die groot Slang seil tussen hulle in. Sij deursnuffel die klere van

algaar daar. Die jong Boesman het intussen sij lijf van bo tot onder

vol boegoe gesmeer, sodat hij nou glad 'n ander ruik het. Al die

mense sit doodstil sonder te roer.

Toe die slang niks bij die mense ruik en krij nie, begin sij die

plek deur te snuffel: sij soek onder die kooigoed, in die potte,

onder die velle, tussen die skerms, ja, orals en orals; maar sij vind

niks nie. So seil sij treurig weg.

Niemand van die mense daar het geweet dat die jong Boesman die steen

gesteel het nie, want hij het die steen in sulke goed toegedraai

dat die ligglans daarvan nie kan deurstraal nie, en het dit op so

'n veilige plek begrawe waar die Slang dit nooit sou krij nie.

Van daardie dag af was daardie jong Boesman baie gelukkig. Dit het

die ander mense toe agterdog op daardie jong Boesman laat krij. Hulle

het nie min bij hom aangehou om tog daardie steen te gaan wegbring nie.

Dog hij strij en ontken dat hij die steen het.

Algaar die mense, sonder dit te kan help, krij hom lief; hulle bring

presente en oorlaai die jongman met soveel geskenke dat hij daarmee

raad-op raak. Hij word bij die dag rijker en leef in oorvloed.

Maar sij gewete knaag hom; want die Slang begin te kwijn en te treur,

waardeur sij bij die dag uitteer. En sonderling, die Slang het ook

gek na daardie jong Boesman geword; want voorspoed lê mos in sij weg.

Wat die jongman nog meer besorgd gemaak het, is dat die fonteine in

die buurte skaars van water begin te word. So gaan hij stilletjies

een dag en bring die slangsteen weer na die plek waar hij dit gesteel

het en steek dit op dieselfde plek weg waar die Slang dit verberg het.

Toe die siek Slang daarop weer na hom toe kom, toe sê hij aan die

Slang: "Kom saam met mij, ek sal gaan om jou te help soek; krij ek

die steen, dan moet jij mij rijk maak."

Toe hulle bij die plek kom, vra hij aan die Slang waar die Slang die

steen verberg het. Die Slang wijs die plek, en daar vind hulle met

die grootste vreugde weer die steen.

Die Slang het darem haar guns van die jong Boesman nie onttrek

nie. Albei was voortaan gelukkig, en die Waters in die fonteine het

weer teruggekom; want die Slang ken mos haar eie mense goed en sij

versorg hul in alles na hulle behoefte. So het hierdie gebeurtenis

goed en voorspoedig afgeloop--wat maar heel min gebeur.

NO. 12

DIE SON IS DIE KOP VAN DANSER VUURMAN.

OPMERKINGS:--Hierdie Storie word op verskillende maniere vertel:

onderstaande is soos deur die beste vertellers verhaal.

Danser is die Vuurman, of die Vuurmaker. Hij het eers as 'n mens

rondgestap, uit sij kop het lig en warmte gestraal. Hij is die een

wat vuur in klippe, in die hout en in die wolke geplaas het. Waar hij

stap of gaan, daar is altijd lig en warmte; daarom het hij altijd

'n groot geselskap om hom heen gehad. Die jagters in sij nabijheid

kon sien waar die Wild is, en diegene wat na veldkos soek, kon dit

deur die lig van Danser se kop maklik vind.

Maar partijkeer is Danser lui om te loop en gaan ewe perdgerus sit. As

die jagters hom soebat om tog verder te loop, sodat hulle die Wild

kan sien, dan sit hij hulle uit te koggel en vra waarom hulle dan

nie self loop en lig maak nie. Ook het hij 'n manier oor hom gehad

om die geskiete Wild van die jagters af te neem.

Hieroor het die jagters kwaad geword; want die vrouwe is ontevrede

as hulle mans sonder kos thuis kom, en wanneer hulle niks het om

aan die hongerige kinders, wat oor kos huil, te gee nie; so raai die

vrouwe hulle mans aan om Danser maar dood te maak en dan sij kop op

'n lang stok rond te dra, sodat die mense kan sien.

Een jagter, wat die vrouwpraatjies goedvind, sê: "Goed, laat ons

Danser met gifpijle doodskiet om sij kop op 'n lang stok rond te dra,

sodat ons warmte en lig kan krij."

'n Tweede jagter merk op: "Ja, dis alles goed en wel; maar wie van

ons se oë is so taai om daardie sterk lig te verdra, en wie se hande

is so taai om daardie warm kop af te snij? Kom praat, laat ek hoor!"

'n Derde vra: "En waar krij ons 'n stok wat nie van die hitte sal

brand nie?"

Die vierde een merk op: "Mintig, julle is sleg om planne te maak! Ek

sal julle sê wat ons moet doen: Ons wag net soos Danser deur die water

stap--iets wat hij gereeld doen--, dan draf ons hom met die gifpijle

bij; val hij in die water, dan is sij lig en warmte mos weg."

Hierop antwoord 'n vijfde en sê: "Jij dink dat jij baie slim is,

maar tog is jij baie dom. Sê mij, wat help dit ons as Danser se lig

en warmte uitgeblus is? Dan sit ons tog weer in dieselfde ou donker

en koue."

Toe roep algaar gelijk uit: "Dis maar niks! Dis maar niks! Dan is hij

tog eenkeer van ons af en weg om ons nie verder te pla en te terg nie."

Leeuw, Tier, Wolf, Jakhals, Kat en ander gee te kenne dat hulle met

die moord niks te doen wil hê nie; want hulle kan goed genoeg in die

donker sien. Hulle was ook mense van die ougeslag.

Maar die ander praters blij bij hulle plan: hulle hou Danser dop;

en net toe hij deur die water stap, skiet algaar gelijk; die pijle

tref hom, hij val vooroor in die water, en dood is die lig en weg is

die warmte.

Hulle hol nader, snij gouw Danser se kop onder die water af, en

daarop sleep hul sij lijf uit en sit sij kop op die wal neer, om te

kijk wat daarvan gaan word.

Maar Danser se kop en lijf wou nie doodgaan nie: die kop se oë kijk

rond en draai van een kant na die ander, en die lijf staan op en loop

sonder kop rond.

Die kop kan sien en praat, maar kan hom nie verroer nie; terwijl die

lijf kan rondloop, maar nie kan sien, hoor, ruik of praat nie. Die

kop roep na die lijf, maar die lijf hoor nie; die lijf weer soek na

die kop, maar kan dit nie vind nie; so loop hij in plaas van nader

na die kop toe, altijd verder en verder weg.

Die moordenaars van Danser stap toe weg.

Maar 'n meid stuur haar kinders om die kop van Danser in die lug op

te gooi, sodat daar lig en warmte moet kom. Sij waarskuw haar kinders

om tog mooi op te pas dat die lijf, wat daar rondloop, hulle nie in

die hande krij nie, anders sal die lijf hulle vermoor.

Die kinders stap toe versigtig daarheen. Die kop begin toe al te

droog en lig te gee, en dit was so warm toe die kinders daaraan vat

dat hul dit meteens in die lug opgooi.

Toe die moeders dit sien, roep hul uit: "Wind, Wind, kom en vat die

kop hoog op in die blouw lug dat ons kan lig en warmte krij!" Toe kom

daar 'n sterk warrelwind en voer die kop op tot bokant die wolke en

laat dit daar blij.

Die kop van Danser Vuurman word toe die Son.

Toe juig al die mense dat daar nou lig en warmte oor die ganse

Aarde is. Nou het hulle genoeg lig en het nie nodig om te verkluim

nie. Hulle roep uit: "O, Son, blij daar en gee ons aldag lig en

warmte! Daarvoor sal ons jou aldag dank en prijs. Groot is die Son,

wat al die mense tegelijk kan sien. Nou is daar lig, wat mense sal

belet om kwaad te doen. Wie nou kwaad doen, wie nou steel, wie nou

moor, sal gesien word. En die Son sal hom met sij hitte verbrand,

sodat die skelm nie meer onder ons sal woon nie."

Die kop van Vuurman is nou tevrede om daar bo in die lug te blij;

maar hij soek darem nog een streek deur na sij lijf. In die oggende

begin hij te soek bij die berge aan die oostekant. Hij klim soekende

hoër en hoër in die lug op, en as hij hoog genoeg geklim het, sak hij

nog soekende weer af, af, af tot hij aan die berge aan die westekant

kom en duik dan om daar in die diep waters van die See ook te soek.

Hij deursnuffel al die plekkies op land en onder water om te soek waar

sij lijf is, maar hij vind dit nie, want die lijf het so uitgeteer

en so verpot dat dit nou die fatsoen van 'n Krap aangeneem het. En

nou stap die lijf, nog al die tijd sonder kop, op en af, langs die

waters om die kop te soek.

As die Son weggaan, dan sorg hij dat die Aarde pik-, pikdonker is; want

in daardie dae was daar nog geen Maan of Sterre om snags te skijn nie.

So het die mense in daardie dae nie kwaad gedoen nie. Want in die dag

is dit lig, dan sien almaal goed; so het die kwaaddoeners geen kans

gekrij nie. In die nag is dit weer stikdonker, dan kan niemand sien om

rond te loop en kwaad te doen nie--dus moes iemand net maar blij waar

hij is. In die dag het die mense toe gejag en kos gaan soek; in die

nag het hulle gaan slaap en gerus; en daar was toe geen rondloperij

in die donker nie.

Boesman-Stories, Deel 1. Mitologie en legendes · 第 2 / 6 段