Die Hotnotsgod, die vader van die man, sit die speletjies be

BOESMAN-STORIES

VERSAMEL DEUR

G. R. VON WIELLIGH,

Oudlandmeter-Generaal van die Z.A. Republiek.

DEEL I, MITOLOGIE EN LEGENDES.

Tekeninge deur R. F. Keet.

Alle regte voorbehou.

Drukkers en Uitgewers: DE NATIONALE PERS, BEPERKT.

30 Keeromstraat, Kaapstad,

Bloemfontein en Pietermaritzburg.

1919.

INHOUD.

No. Bladsij.

'n Paar Woorde vooraf i

1. Hoe Boesmans Stories vertel 1

2. Nag en Duisternis en hulle drie Dogters 9

3. Die Berge is die oudste Dogter 17

4. Die Wind en die Windvoël 25

5. Die Weerklank of Echo 31

6. Die Vlaktes is die tweede Dogter 41

7. Die Vuur en die 'Nu-Fees 47

8. Die Opgewing of Lugspiegeling 53

9. Die Waters is die jongste Dogter 59

10. Die Reënbees en die Bobiaan 67

11. Die groot Waterslang 75

12. Die Son is die Kop van Danser Vuurman 85

13. Die Maan is die Skoen van die Hotnotsgod 95

14. Die Sterre is Kole en As 101

15. Die Hamerkopvoël en die Paddas 107

16. Die Uil en die Muise 113

17. Die Reënboog 119

18. Die Hotnotsgod en Bobiane baklei 127

19. Die Meid van die Waters 137

20. Die geniepsigheid van die Skilpad 143

21. Die Môrester is die Hart van Dageraad 149

22. Die Aandster is die Oog van Aandskemering 161

23. Dampertjie en Spuitertjie skiet met Weerlig 169

24. Die Diere vra om Kos en Water 177

25. Boesman-Gebede 185

Naberig 193

'N PAAR WOORDE VOORAF.

Ons het tans die eer om Deel I van ons versameling van Boesman-Stories

die geëerde Publiek aan te bied, met die hoop dat ons val in die

arms van billike beoordelaars. Want om so 'n versameling bijeen te

bring vereis meer geriewe as waaroor ons tans beskik. Ons kan slegs

aanbied wat opoffering, tijd en geduld ons in die hande gestel het,

daar 'n ieder oortuig is dat goeie Boesman-storievertellers reeds

baie uitgedun is.

As kind het ons vir die eerste maal in 1870 met Wilde Boesmans kennis

gemaak; want dit was in daardie tijd dat ons met ons vader 'n reis

deur dele van Namakwaland, deur Boesmanland en die Hantam onderneem

het. Saands, en ook gedurende die dag, het baie van die oudjies bij

ons wavuur kom aansit om te gesels. Daar was toe nog baie van hulle

wat net van die jag op die ope gronde geleef het. Vir 'n geringe

vergoeding was hulle te gewillig om aan die kleinbasie stories te

vertel wat ons met ope mond en ore ingedrink het.

In 1876 tot 1878 het ons met opmeting van gronde verskeie

Boesman-veewagters in die Karoo ontmoet; dog dit was nie voor twee jaar

later dat ons regtig die saak in groter erns opgeneem het nie. Want

dit was in 1880 tot 1883 dat ons 'n Landmeterskantoor op die dorp

Calvinia geopen het. Die opmetings van gronde het ons weer terug

na Boesmanland en Agter-Hantam gevoer, alwaar ons baie geleentheid

gekrij het om aantekeninge te maak.

Aangesien die Boesmans nie as 'n georganiseerde nasie leef nie--sonder

burgerlike of kerklike ontwikkeling--, is dit maklik te verstaan

dat hulle oorleweringe uiteenlopend is. Om hierdie rede kan ook nie

verwag word dat hul hulle stories presies eners sal vertel nie. So

sal ons baie lesers vind wat sal sê: "Ek het die Stories, soos hier

neergeskrijwe, anders hoor vertel." Met dit voor ons, het ons 'n Storie

net so neergeskrijwe as 'n Boesman ons dit op sij gebrekkige manier

vertel het. Vind ons dan later 'n goeie verteller, dan herhaal ons die

Stories aan hom en vra hom wat hij daarvan afweet. Dit het ons geluk

'n paar uitstekende vertellers langs die Hartbees- en Hantamriviere

te ontmoet, en wat ons hier meedeel is mees die vrug wat ons bij

hulle kon insamel. Sommige van hulle was met die Kalaharie goed bekend.

Ons behandel in hierdie Eerste Deeltjie verhale omtrent die

Boesman-Godeleer (Mitologie) en enige Sprokies (Legendes). Om die

leser nie daarmee te verveel nie, gee ons vereers 20 Stories. Dan

hoop ons in Deel II "Diere-Stories," soos deur Boesmans vertel, mee

te deel. Deel III sal ander vertellings behels. Ons stel ons dus voor

om, net soos met die "Diere-Stories" deur Hotnots, 60 sulke verhale

te gee--dan sal die publiek al taamlik moeg van ons wees.

Uit die Boesmanversameling sal dit duidelik blijk dat daar wel deeglik

digterlike sin en verhewenheid van gedagtes in sekere mate bij die

Boesmans bestaan. Sommige dinkbeelde is treffend in woorde uitgedruk;

so sê 'n Boesman b.v. eens aan ons: "Baas, watter nuws bring jij vir

ons? Goeie en slegte tijding is nes die wind wat van vér af kom--dit

bring die heerlike en slegte geure met hom saam."

So ver ons uit die verhale opmaak, bestaan onder die Boesmans geen

bepaalde, uitgewerkte stelsel van godsdiensopvatting nie. Dit kan ook

nie anders nie; want onder hulle bestaan geen erkende priesterstand

nie. Iedereen het sij eie begrip oor die mag van goeie en slegte

geeste. Hulle glo dat daar eers 'n flouw lig bestaan het voor die

Son gekom het. Die ougeslag of voorgeslag kon hul verander net soos

hulle wou. Die Son, Maan en Sterre word tesame met die Hotnotsgod

('n sprinkhaansoort) vereer. Die bestaan van dinkbeeldige Diere

(Geeste) word erken en hulde toegebring. So word reën deur die

Reënbees gemaak, fonteinwaters deur die groot Waterslang met die

steen op sij kop, wind word deur 'n Voël gemaak, ens. Hulle glo in

'n opstanding van die afgestorwene, en glo dat die dood later deur

'n Haas in die wêreld gekom het. Hulle begrip van opstanding ontleen

hul aan die Maan, wat ieder maand sterf en weer herleef.

Met die skrijwe van hierdie "Boesman-Stories" het ons die gedagtes

van die Boesmans in ons eie woorde vertolk; want as daar 'n nasie

is wat omslagtig in sij manier van vertel is, dan is dit seker 'n

Boesman: hij kan een en dieselfde ding oor en oor herhaal, wat vir

die wetenskaplike ondersoeker van belang mag wees, maar voorwaar glad

nie vir gewone lesers nie. Daarom het ons 'n eenvoudige taal gekies

om die Stories in te vertel.

In Europa en Amerika word tot nog vrugtelose pogings aangewend

om gewilde en ingrijpende "Diere-Stories" te skrijwe; hier in

Suidafrika het die Hotnots en Boesmans dié reeds vir ons eeuwe

gelede uitgewerk. Al wat ons te doen het, is om die rijk oes in te

samel. Maar in plaas van dit te doen, is dit ou nuws vir ons, en

so nou en dan verskijn daar 'n Storie in 'n koerant of tijdskrif,

terwijl die gros aan die golwe van verslindende Tijd oorgelaat word

om spoedig die versluierde diepte in te stort. Waarvoor ons nageslag

ons nie "dankie" sal sê nie.

DIE SKRIJWER.

Hendrina,

via Estantia-Stasie, Tvl.,

21 Aug. 1918.

DIE KONINGIN VAN SKEBA.

Die Egiptiese Koningin Hatshepsu het meer as 1,500 jaar voor die

geboorte van Christus regeer. Sij het 'n gesantskap met skepe na die

Landpunt (Skeba) gestuur om daar skatte te gaan haal om 'n tempel vir

haar god Amon-Ra te bouw. Die skepe het drie jaar weggeblij en het

goud, edelgesteente en speserije gebring. Die Koningin van daardie land

het self oor land gekom en nog meer skatte saamgebring. Hatshepsu het

die tempel toe te Deir-el-Bahri nabij Tebe in Egipte gebouw. Ter ere

van die optog van die Koningin van Skeba het Hatshepsu 'n tekening

in die tempel laat afskilder en dit is vandag nog te sien. As jij

eendag die geluk het om dié tempel te besoek, let op na die postuur

en kleredrag, na die klein handjies en voetjies, die plat neus en

kroeshare van die Koningin van Skeba. En wie sal nie sê nie: "Dis

'n uitgeknipte Boesmanmeid"?

Hatshepsu het begin te regeer in 1552 voor die geboorte van Christus

en Salomo in 977 voor die geboorte van Christus, dus was die Koningin

wat Salomo besoek het, 'n ander persoon.

NO. 1.

HOE BOESMANS STORIES VERTEL.

OPMERKINGS:--Hierdie verhaal is nie juis 'n Boesmanstorie nie;

maar ons kan die Stories beter vat as ons met die omgewing, en die

omstandighede waaronder hulle vertel word, bekend is. In hierdie

geval verbeel ons ons dat ons met ons ouers en die vee daar vèr

in Boesmanland in die trekveld langs 'n kolk water is. Ons trek

bestaan uit 'n tentwa, waarnaas 'n groot gerieflike matjiesgoedhuis

staan. Die huis lijk net soos 'n groot miershoop van 8 of 10 voet

hoog, die geboë raamwerk is met matjiesgoed-matte oordek. In die

dag is die huis lekker koel; as dit reën dan swel die matjiesgoed

en word potdig.

Kort voor sononder roep ons pa: "Toe kinders, daar kom die vee

werf-toe, loop help met die boklammers!"

Dit was glad nie nodig om dit aan ons te sê nie; want ons is reeds op

'n draf na die vee se lêplek toe. 'n Bok is mos 'n snaakse dier--die

ma hou haar onnosel asof sij nie haar eie lam ken nie. So hol sij

van een lam na die ander, en die lammers weer hol van een ooi na die

ander--en moenie praat van die gebler wat intussen plaasvind nie. Ons

outa Bamboes maak nooit met 'n lammetjie fout nie--daarvoor is hij

te oplettend; en as ons nog abuis het, dan grijp hij die lam uit ons

hande en sê: "Maskas, basie, julle sien dan al aande die lammers en

julle ken hulle dan nog nie? Is julle dan net so dom as die bokke?"

Outa Bamboes se ou meid is ook bij, en so neem dit nie te lank nie

of ieder lam het sij moeder, en ons stap gesels-gesels terug na die

wa toe.

Nou begin ou Bamboes bij ons te pamperlang en sê: "Toe, mij basies,

toe tog, as-jou-blief vra tog aan die oubaas om vir julle outa en ouaia

'n stukkie twak te au" (gee).

Ons hol dan vooruit wa-toe en vra vir pa, wat net van die beeste af

kom, net soos outa ons dit voorgesê het.

Waarop pa antwoord: "Is dit al weer so? Sê julle vir ou Bamboes en

sij oumeid, die tabak groei nie op mij rug nie. Hulle moet stadig,

stadig, die tabak is amper op."

Maar tog, pa gee vir ieder 'n span tabak en sluit die tabakrol weer

in die wakis toe.

Blijhartig hol ons die twee oudjies ingemoet en oorhandig die

kosbaarheid aan hulle. Dadelik is daar 'n gesoek na die ou knipmes,

ieder snij 'n slaaitjie (pruimpie) af, wat verder aan die sorg

van hulle kieste toevertrouw word. Die owerige word nou nes goud

bewaar. Hierop sê ou Bamboes: "Wag nou, mij basies, nou sal ek vir

julle weer gaan vertel van die gedoentes wat die ouvolk gehad het."

Hulle twee stap saam na die kookskerm toe, wat net 'n paar treë van

die matjiesgoedhuis afstaan. Ons gaan om die vuur op ons houtblokke en

veldstoeltjies sit; outa en sij oumeid skuif elk 'n klip onder hulle

in en plak hul daarop neer. Ons ouers sit binne om 'n tafeltjie met

ander reisigers gesels. Nou is ons net in ons glorie.

Die kookskerm is 'n ronde kraaltjie met 'n heining van bossies om. Bo

is dit oop, sodat ons die sterre deur die opstijgende hitte kan sien

dans; tussen ons flikker die gesellige aandvuurtjie.

Ons word al ongeduldig dat outa Bamboes so 'n lank tijd gebruik om

die pruimpie op sij regte plek in sij kieste te plaas, daarom maan

ons hom uit die staanspoor: "Toe dan, outa, vertel ons die Stories

wat jij ons belowe het."

Dan val hij weg: "Mij basies en nonnies, nou gaan ek julle van hoeka

(lankal) se dinge vertel. In daardie dae het die witmense nog nie

in hierdie land gewoon nie. Om julle die waarheid te sê: Ek weet nie

of daar toe al witmense gewees het nie; want die vandag se Boesmans

hulle ouers se ouers se ouers was toe nog nie daar nie. Die Son,

die Maan en die Sterre het toe maar eers in daardie dae gekom. Nou

moet julle weet: Dis nie van gister en eergister se dinge wat ek

julle gaan vertel nie. Ek praat van die donker dae...."

Hier val een van ons die ou in die rede en vra: "Maar, outa, wanneer

het die Son, die Maan en die Sterre dan gekom?"

Gouw was die antwoord daar: "Wag nou, mij basie, ek sal julle aanstonds

in die gouwheid alles vertel. Wag tot ek daar kom. Julle moet reken

dat ek nie soveel tonge as tande het om alles tegelijk te kan vertel

nie--julle moet mij tijd gee. Ja, in daardie dae het glad 'n ander

soort Boesmans gelewe as nou. Dit was vir hulle maar net 'n oogknip

se werk om hulle in diere te verander. Daarom is baie van die diere,

wat julle nou nog sien, niks anders as daardie ou Boesmans van daardie

tijd nie--hulle loop nou in gedaantes van diere rond."

Hier las die ouaia 'n woordjie in en sê: "Mij basies en nonnies,

julle moet verstaan, die ou Boesmans het toe baie meer hulle kinders

moes oppas as nou, anders vang daardie ou toornaars gouw-gouw die

kinders. Hulle was nie so slim as ons mense vandag is nie; maar die

goeters kon so gevaarlik getoor het."

Ou Bamboes vat weer die woord en vertel: "Ja, in daardie dae sien jij

misskien 'n mens staan, jij loop soontoe. As jij daar kom, staan daar

'n boom vol heerlike vrugte en die man is skoonveld-weg. As jij van

die vrugte wil pluk, dan weg is daardie boom, en dan kijk jij in die

tande van 'n Leeuw. Nou stap jij bang-bang agteruit, agteruit, om

weg van daardie gevaarlike ding te kom. Hij verander hom meteens in

'n Springbok, wat dan plesierig rondom jou kom staan pronk. Meteens

is hij 'n Hasie, wat ewe lief in jouw arms kom sit om jouw hande te

lek. So het die ougeslag gemaak, net soos hulle lekker krij--die een

dag is hulle dit en die ander dag weer iets anders. Hulle was toe

net plesierig en vol pret."

Uit korswil vra een van ons: "En, outa, het daardie ouvolk dan ook

streepkoppe en peperkorreltjies-hare gehad, net soos julle vandag het?"

Ons kinders lag, ou Bamboes gee 'n gebroke laggie; maar ouaia bestraf

en sê: "Kijk nou, kijk nou, hoe spot die diesvolk se kinders met ons

peperkorrels en streepkoppe."

Ou Bamboes pak weer die woord en vervolg: "Julle sê dis nie lekker

dae daardie nie; wel ek sê: Gevaarlik of nie gevaarlik nie, trawal

of nie trawal nie, traak mij of traak mij nie--dis algaar dinge

voor ons tijd, waarmee ons nou niks te doen het nie. Wil julle mij

kom vertel dat die Visse in die koue water dit swaarder het as die

koggelmander op die warm sand? Of dat die Skilpad in die reën op die

grond dit natter krij as die Voëls daarbo tussen die nat takke? Nee,

dis hulle geaardheid, en hulle is tevrede daarmee."

Nou begin outa ons een Storie na die ander te vertel. Nou en dan las

die ouaia 'n woord tussen in en het baie te vertel wat haar ma, haar

ouma, haar tantes en ander ou meide haar vertel het. Haar Stories

is net so mooi en net so boeiend as dié van outa; want sommige

Boesmanmeide is net sulke uitstekende storievertellers as hulle mans.

Dis wonderlik hoe na 'n Boesman aan die vuur kan sit sonder dat die

hitte hom skroei. Die lekkerste sit van hom is as die rook so onder

sij ken in speel: hij draai dan met 'n kreun en steun die kop opsij

na die kant vanwaar die wind kom en hij kom klaar. Sij oë traan nie

van rook nie.

As hij uitroep: "hiert!" dan weet ons dat 'n rooi jagspinnekop tussen

ons deur 'n S maak. Ons spring op en roep uit: "Waar's hij, waar's

hij?" maar die Boesmans blij bedaard sit. As 'n Skerpioen uit 'n dik

stomp kruip, dan vat hij 'n stomp vuur en druk dit daarmee sonder erg

dood. Die ander Goggas trap hij eenvoudig met sij strijkijstervoet

dood. En die Wipmiertjies, wat teen sij bene op hardloop? Ag nee,

dis maar niks nie!--hij klap hul met die hand dood. Verder sit hij

perdgerus en steur hom aan niks nie.

Bij hierdie tijd hoor ons pa uit die matjiesgoedhuis roep: "Ou Bamboes,

ek hoor die Skape bler, hulle trek, toe loop keer hulle weer terug

lêplek-toe." En tot ons roep hij: "Toe kinders, bring die waswater

en kom was, ons wag om te eet!"

Na die ete word die Boeke gevat, en daarna gaan ons bed-toe, met die

soet voorsmaak om môreaand weer met die lammertjies te help en om

daarna weer Stories te hoor; want thuis op die plaas is dit neusie

verbij met ons, dan is ons met iets anders besig.

NO. 2.

NAG EN DUISTERNIS EN HULLE DRIE DOGTERS.

OPMERKINGS:--Uit hierdie Storie blijk dit dat die Boesmans wel

deeglik oortuig is dat alles uit Duisternis gebore is: dit was

eers aand gewees en toe môre gewees. Die outa wat ons die Stories

vertel het, het altijd die Boesmanwoorde 'Ga en 'Gagen in plaas

van nag en duisternis gebruik. En die Hotnotsgod het hij op sij

Boesmans 'Kaggen genoem.

In die ou dae was daar net 'n skemering--net soos op 'n donker

onweersdag. Dit was koud, en die Son, Maan en Sterre het toe nog

nie geskijn nie. Ou 'Ga (nag) en sij ou vrouw 'Gagen (duisternis)

het in 'n klipspelonk gewoon. Hulle het nie seuns gehad nie, maar

net drie dogters.

Toe die drie meide groot geword het, neem die moeder klein Skilpadjies,

haal die vleis daar uit, boor gaatjies aan die voorpunte van die

doppies, gooi daarin klein klippies, om daarin 'n geraas te maak

as die doppies geskud word; sij snoer die doppies in met 'n riempie

van Bobiaanvel gemaak en hang die snoer om die nek van haar oudste

dogter. Sij verbied die dogter om die snoer van haar hals af te haal,

anders sal die kos in haar buurte opraak.

Toe neem die moeder weer klein kalbasdoppies, maak die doppies skoon,

gooi daarin saadjies van bessies, snoer dit in 'n touwtjie van die

binnebas van 'n boom gemaak en hang toe die snoer met klein kalbassies

om die nek van haar tweede dogter. Sij verbied hierdie dogter ook om

die snoer van haar hals af te haal, anders sal die veldkos in haar

buurte ook tot niet raak.

Daarop neem die moeder die ore van Springbokke, slag die buitenste

harige vel daarvan af, neem die binnenste wit pit van die ore en maak

daarvan klein blasies, gooi toe eers daarin droë sand om die sakkies

mooi te laat droog. Toe die sakkies droog was, gooi sij daarin die

harde korrels wat in Springbok-oë is, om 'n geraas te maak, rij die

blasies in met 'n touwtjie van Springboksenings gemaak en hang die

snoer om die nek van die jongste dogter, met die gebod om dit nie

van haar hals af te haal nie.

Toe roep die vader en moeder die drie dogters om voor die mense te

kom dans om te sien hoe mooi hulle kan dans en om te luister hoe

pragtig die snoere om hulle nekke raas as die drie meide dans.

Baie mense het van ver gekom om na die pragtige danse van die drie

jongmeide te kijk en het hulle baie verwonder. Maar die jonkmans

was maar versigtig vir die drie meide, omdat hul die drie dansers as

toorhekse beskouw het. Dáároor het die drie hulle nie erg bekommer nie,

want hulle was gelukkig waar hulle was.

Die Gogga, wat ons die Hotnotsgod, en wat die Boesmans 'Kaggen noem,

en wat nes 'n lang, plat Sprinkhaan lijk, wat sij dik voorpote saam

hou asof hij bid--wel, daardie Hotnotsgod het op 'n bossie gesit

en het aldag sit en kijk en luister hoe die drie jongmeide dans. Om

beter te kan sien en te luister, verander hij hom in 'n groot wilde

bok en kom toe nader en kijk met nuwsgierige oë na die dansers.

Die ou vader grijp toe sij pijlkoker en boog en bekruip die groot

bok; hij skiet en skiet, maar elke slag was dit mis. Hij kruip toe

weer nader, vat goed korrel en toe raak hij die bok. Die bok hol

'n entjie weg en val dood--of liewers gesê: hij hou hom dood.

Daarop stap die vader en moeder met die dogters nader om die bok

af te slag. Na hul hom afgeslag het, snij die ou die bok in vier

kwarte. Hij vat 'n agterkwart en die vel en dra dié; sij vrouw dra

die ander agterkwart en binnegoed; die oudste dogter vat 'n voorkwart

en dra dit; die tweede dogter dra die ander voorkwart, terwijl die

jongste dogter die kop met die rugstring daaraan pak en dra.

Die kop begin toe met die jongste dogter te praat en vra waarom hulle

hom so seer moet maak. Die kop knip sij oë en steun erg pijnlik.

Die jongste dogter roep uit: "Pa, die bok se kop leef nog--hoor hoe

praat hij met mij en hoor hoe steun hij!"

Die ander draers neem dit vir korswil op en steur hul nie aan die

praatjies van die jongste suster nie.

Weer roep die jongste dogter: "Pa, dis regtig waar, die bok se kop

leef nog, hoor hoe hij praat en steun--kijk hij knip oë."

Ook van hierdie gesegdes van die jongste dogter word geen notiesie

geneem nie. Die draers stap voort.

Maar toe die jongste dogter vir die derde keer roep en sê: "Pa,

ek smijt net nou die bok se kop met rugstring en al weg: hoor hoe

praat en kreun hij, en kijk hoe knip hij sij oë," toe blij die draers

staan om te kijk. En terwijl hulle blij staan, draai die vier kwarte

hulle bo op die koppe van die draers om. Hulle sit van skrik die vier

kwarte op bossies neer om dié nie vol sand te laat word nie. Elke

kwart draai hom weer reg, want die dorings en skerp punte van die

takkies steek hulle. Toe skrik algaar nog meer en staan eenkanttoe.

Die een agterkant spring toe op en gaan na sij plek aan die rugstring

en heg hom daar vas, toe spring die ander agterkwart ook op en heg hom

op sij plek vas; daarop spring die een voorkwart op en gaan na sij

plek aan die rugstring toe; daarop volg die ander voorkwart en heg

hom op sij plek vas; toe kruip die ingewande in die afgeslagte bok;

die bok spring na die vel toe, en die vel vouw hom daarop om die bok,

net soos hij tevore was, en die bok staan weer ewe bedaard die draers

te aanskouw. Daarop hol hij op 'n kort galoppie weg en word daarna

weer die Hotnotsgod, wat soos 'n lang, skraal Sprinkhaan lijk.

So vind die ou vader en sij gesin uit dat 'Kaggen hulle lelik geflous

het. Maar hiermee was dit nie gedaan nie.

Die Hotnotsgod, na verloop van enige dae, verander drie van sij seuns

in drie jonkmans en hij stuur hul na die drie jongmeide toe. Die drie

meide krij net sin in die drie mooi jongkêrels. En ieder jonkman vat

een van die dogters en trouw met haar.

Hulle maak toe hutte van bossies en gaan daarin woon; want daar

was volop Wild en veldkos--net soos hulle ma hulle voorspel het--,

solank die drie dogters die snoere om hulle nekke dra.

Daar het toe ook baie ander Boesmans kom woon, wat op die Wild

en veldkos kom jag maak het. So het daardie plek net 'n plek van

plesier geword.

Sonder om te twis, het hul daar in vrede saam gewoon; want kos en al

die nodige was daar volop; plesier en pret het daar nie ontbreek nie,

en wat wil hulle meer hê? In een woord, dit was daar 'n lui-lekker

land.

NO. 3.

DIE BERGE IS DIE OUDSTE DOGTER.

OPMERKINGS:--In hierdie Storie word ons vertel omtrent die ontstaan

van Berge. Die verteller het die oudste suster altijd 'Kou genoem,

wat berg in die Boesmantaal beteken.

'Kou, die oudste Dogter, en haar man, die seun van die Hotnotsgod,

het vir hulle hutte van bossies gemaak en daarin gewoon. Sij het nooit

die snoer van Skilpaddoppies van haar hals afgehaal nie; so was daar

baie Skilpaaie, en sij kon net soveel vang om te eet as sij wil. Sij

word toe so gek na Skilpadvleis dat sij glad geen lus vir ander kos

krij nie--sij wou net Skilpadvleis eet en niks anders nie.

Maar 'n Skilpad is 'n diertjie wat stadig loop en lui is--so het

'Kou ook stadig en lui geword. As sij vir haarself gaan Skilpaaie

daar nabij in die veld haal, dan neem dit amper die hele dag vir haar

om die kort entjie daarheen en terug af te stap. Sij doen toe niks

meer vir haar man en kind nie. Die man het eers met haar daaroor

geraas en toe geslaan; maar hij kon net so goed met 'n Skilpad, of

die klippies wat in die Skilpaddoppies was, geraas het. Die man moes

toe voortaan maar alles self alleen doen--ja, hij moes selfs gaan om

vir haar Skilpaaie te vang.

Hij het altijd gaan jag en veldkos gaan haal, waarvan hij en die

kind gelewe het; want hulle twee wou nie Skilpadvleis alleen eet nie,

uit vrees dat hulle ook net so lui as 'Kou sou word.

Een dag was die man weg veld-toe om te gaan jag, toe kom daar 'n

Bobiaan en vra aan die kind, waar sij ma is, want hij wil die riempie

hê waarmee die Skilpaddoppies om haar nek ingesnoer is.

Die kind wou nie vertel waar sij ma is nie, so sê die Bobiaan aan die

kind dat hij daardie riempie wil hê, want dit was gemaak van die vel

van sij broer, en sê dat hij die volgende dag weer sou kom en dan

sou hij die riempie van 'Kou haar nek met geweld kom afpluk.

Toe die man thuis kom, vertel die kind aan hom hoe brutaal die Bobiaan

was, en smeek sij pa om tog die ander dag nie veld-toe te gaan nie,

maar thuis te blij.

Die volgende dag kom die Bobiaan net soos hij gesê het, en hij herhaal

sij eis; dog die man grijp na sij pijl en boog en dreig om die Bobiaan

te skiet as hij nie op die daad weggaan nie.

Die Bobiaan, wat ook een van die ougeslag se mense was, sê dat hij

sal loop, maar waarskuw 'Kou dat hij die volgende dag met 'n kommando

van sij broers sou kom om die riempie te haal, en dan sal hulle die

hutte meteens flenters breek. Daarop stap hij brom-brom weg.

Die man gaan toe gouw veld-toe om kos in die huis te bring en hij

maak hom gereed vir die aanval op die volgende dag.

Net soos hij gesê het, kom die Bobiaan die volgende dag met 'n groot

geselskap van sij famielie.

Die Hotnotsgod, die vader van die man, sit die speletjies bedaard aan

te kijk. Hij verander die man, wat sij seun is, in 'n groot Voël, en

die kind verander hij in die Weerklank, of Echo. Die Voël vlie op en

maak 'n groot wind met sij vlerke, sodat daar 'n dik stof kom en die

Weerklank maak 'n groot geraas. Toe die Voël in die rondte warrel,

ontstaan daar 'n vreeslike warrelwind, wat klippers en stukke hout

rondsmijt. Hier krij 'n Bobiaan 'n slag met 'n klip teen die kop,

daar 'n ander 'n houw met 'n stuk hout, en die sand en stof dwarrel

so verskriklik in die oë van die Bobiane dat hulle verplig was om

uitmekaar te spat en op vlug te gaan. In hulle vlug, daar vér vandaan,

roep hulle uit: "Wag maar, ons sal 'Kou nooit met rus laat nie--op

haar graf sal ons rondstap en die klippe daarvan sal ons gedurig

omkrap en omrol." Maar in ieder geval stap hulle skel-skel voort.

Maar 'Kou het bij die dag luier en luier geword: sij raak toe in slaap,

en sij slaap, slaap, slaap tot vandag toe nog. Sij het in haar slaap in

'n groot berg verander, om nooit weer wakker te word nie.

Toe die Bobiane sien hoe 'Kou in berge verander het, was hulle net

blij, en uit weerwraak gaan hulle daar op die berge rinkink; want

hulle het 'Kou mos gesweer dat hul haar graf nie met rus sou laat

nie en het haar voorspel dat hulle die klippe van haar graf gedurig

sou omkeer en rondrol. En hulle maak vandag nog so en sal so maak

tot solank as daar nog 'n Bobiaan te vinde is om klippe om te rol.

'Kou, die berge, is nie dood nie, maar rus in 'n ewige slaap.

NO. 4.

DIE WIND EN DIE WINDVOËL.

OPMERKINGS:--In hierdie Storie word ons vertel dat die Wind die

gedaante van 'n Voël aangeneem het en nou in 'n gat in die berge

woon. Ook word die menslike Gees as Wind voorgestel: Dieselfde

geloof het die Kaffers ook, wat Wind en Geest met die een woord

I-moya uitdruk.

'Kou, die oudste van die drie Dogters, is in Berge verander geword;

haar man, die seun van die Hotnotsgod, is in 'n Voël, of Windvoël

vervorm geword. Hij het toe in 'n gat in 'n klipkrans in die berge

gaan woon. Dis niemand geraai om nabij die gat waarin die Wind woon,

te gaan nie. In dié gat is 'n groot gedruis. Sodra iemand nabij die

gat kom, dan waai daaruit 'n geweldige Wind, wat daardie een teen

die grond smijt, om sij oë met sand en stof te vul. Of anders dwarrel

die Warrelwind daardie een op, op, op in die lug, dra hom vér weg en

laat hom bo uit die lug val. Dan gaan die kwaadgemaakte Wind rond en

waai al die hutte waarin die ander mense woon, aan flenters en voer

die bossies, matte of velle daarvan vér weg dat die eienaars dit nie

gouw weer kan krij nie. So pas op! om die Wind nie kwaad te maak nie,

of om te nabij sij huis te gaan nie.

Maar die Wind was eers 'n mens, 'n man uit die ougeslag. Hij het

eers op sij voete rondgeloop net soos die ander mense; toe was hij

stil en het met hulle saam gespeel en gejag. Hij het met kieries en

klippe gegooi, of hij het met pijl en boog geskiet. Hij het gesing

en gedans nes die ander mense.

Maar toe hij 'n Voël geword het, het hij nie meer geloop nie, maar

het net gevlie om sij kos te soek.

As hij stadig met sij vlerke klap, dan blaas die wind saggies; as

hij vinniger klap, dan waai die wind sterk; maar as die Voël hom op

die grond gaan plat gooi, om met sij voete te skop en krap en dan

met sij vlerke woes die sand en stof opklop, dan trek die banke stof,

die bome buig en kraak, en die lugstroom smijt alles omver waarmee dit

in aanraking kom. Die Boesmans sê: Die Wind waai sterk as die Voël sit.

Wil die Voël 'n warrelwind laat opkom, dan staan hij met sij pote

op die grond, krap die grond los en draai vinnig met sij oop vlerke

in die rondte. Dan kan 'n mens 'n pilaar stof in die lug sien optrek

en ronddraai.

As die mense die Voël kwaad gemaak het, dan klap hij vir dae agtereen

met sij vlerke om die wind ver oor berge, vlaktes en seewaters te

stuur. Maar het die mense hom met rus gelaat, dan keer hij terug na

die gat waar hij woon en gaan daarin slaap tot iemand hom weer moveer,

of kom skrik maak. So pas op! Moenie die Wind skrik maak nie.

Die Windvoël stuur ook sij wind tot binne in die mense en diere. Neem

hij die wind van die mense en diere weg, dan sterf so-een, en dan

sal daar nooit weer asem in die mond en neus van daar die een kom

nie. Die Wind is die Gees wat in die mense woon.

Iemand moet oppas dat hij nooit die naam van die Voël noem

nie--vernaamlik as die Voël nabij is; want die Voël wil nie dat iemand

somaar sleg van hom moet praat nie.

So was daar eendag twee opgegroeide kinders wat oor die Voël sit en

gesels het. Die Voël kom daar nabij sit en luister na alles. Een van

hulle sien die Voël sit, hij vat sij boog en skiet na die Voël. Die

ander vat 'n kierie en klippe en gooi na die Voël. Dog geeneen van

hulle kon die Windvoël raak nie. Die Voël blij sit tot hulle ophou

om oor hom te gesels, en toe eers vlie hij uit sij eie weg.

Maar wat gebeur toe daarop?

Die Windvoël laat toe eers 'n donker stof in die verte aankom. Daardie

stof peil reguit na daardie twee kinders toe. Die warrelwind grijp

die twee, laat hul eers op hulle koppe staan en draai hul nes tolle

in die rondte. Daarop los die Wind hulle, waarop die twee die vlug

neem. Die Wind agtervolg hul en drijf hul met woede voort. Hulle vlug

agter bome in; maar die Wind breek die boomtakke bo hulle koppe, sodat

hulle lewe in gevaar kom. So moet hulle weer vlug en skuiling agter

rotse gaan soek. Maar toe waai die Wind om die rotse heen en smijt

sand en klippies in hulle gesigte. Dus moes hulle weer vlug. Hulle hol

toe na 'n klipspelonk, en dit geluk hul toe om daarin te kruip. Maar

die Wind waai so geweldig in die klipgrot dat die twee nouwliks hulle

asem kon krij--hulle dwing toe net om te versmoor.

Die twee moeders sien toe dat hulle twee kinders in groot gevaar

verkeer en weet somaar dat die kinders die Wind kwaad gemaak het. Hulle

neem bossies wat 'n aangename ruik gee as dit gebrand word, en hulle

brand dié; ook neem hulle fijn boegoe en strooi dit in die Wind,

wat net waai in die rigting van die kinders en wat nie waai waar die

ander mense staan en sit nie. Die Wind krij toe die aangename ruik

en bedaar. Ook het die moeders deur sing en musiek die Wind weet te

kalmeer en in 'n aangename stemming te bring.

En toe eers kon die kinders uit die klipgrot kom.

Daarop het hulle moeders hulle vertel dat die Wind net soos 'n Hond

is: noem jij sij naam, dan luister hij: praat jij mooi met die Hond,

dan kwispel hij met sij stert. Maar spreek jij daardie Hond kwaai aan

en gooi jij hom met klippe, of slaan hom, dan knor hij en vlie jou in.

Van toe af weet die mense om nie roekloos met die Wind om te gaan

nie en om hom te respekteer.

NO. 5.

DIE WEERKLANK, OF ECHO.

OPMERKINGS:--In hierdie Storie word die Weerklank voorgestel as

'n Gees wat mense bedrieg, bespot en weglok.

Die Weerklank, of Echo, is die dogter van die Berge--haar pa is die

Wind, wat deur sij dogter spreek. Sij is 'n spotter, wat van korswil

nooit moeg word nie. Die een wat sij uitkoggel, sal moeg en kwaad

word, maar die Weerklank nooit nie! Hoe meer iemand lag of huil, sing

of skel, hoe mooier dit vir haar is. Sonder een woord uit te laat,

sê sij as sij alleen is, alles na wat 'n ander uiter.

Sij woon daar bij haar ma in die berge: in die diep klowe waar

klipkranse en afgronde is, daar is sij altijd te vinde. Ofskoon

sij lank kan stilblij en nooit uit haar eie gesels nie, slaap sij

nooit nie; want roep iemand, dan gee sij dadelik antwoord; sij is

altijd wakker.

Die man wat eerste Musiek uitgevind het, se naam is Speelman. Hij

het vir hom verskillende trompetters van Wildhorings gemaak. Van

fluitjiesriet het hij fluite gemaak. Snaarinstrumente het hij van

snare van Wildderms gemaak. Selfs 'n tamboer het nie makeer nie: hij

het 'n pot geneem en het daaroor 'n Springbokvel getrek waarvan die

hare afgemaak was. Speelman kon o, so mooi sing en speel. Daarom het

hij iemand gesoek wat ook net so pragtig kan sing en speel as hij;

maar hij kon die persoon nie vind nie.

Die mense vertel hom toe dat daar in die klowe so 'n mooi jongmeid

woon, wat net so mooi kan sing en speel. Haar naam is Weerklank--ander

noem haar Echo.

Speelman stap toe na daardie klowe in die berge toe. Hij begin op

sij wildhoring te blaas, en toe hij antwoord krij, begin hij te

sing. Was hij nie verwonderd nie toe hij hoor dat Echo nog mooier as

hij kan sing? Want 'n weerklank klink altijd mooier as die stem wat

dit weerkaats.

Hij roep: "Waar is jij!"

Die antwoord kom: "Waar is jij?"

Hij antwoord: "Hier is ek; kom jij hiernatoe!"

Die Echo roep: "Hier is ek; kom jij hiernatoe!"

Speelman staan op en loop daarnatoe. Onderwijl speel hij op sij

ramkie. Maar toe hij nader bij die plek kom, toe verplaas die klank

haar en gee antwoord van glad 'n ander krans af. Die musiek van die

Weerklank was vir hom te mooi.

Hij roep: "Waarheen loop jij nou? Wag, ek kom na jou toe!"

Sij roep: "Waarheen loop jij nou? Wag, ek kom na jou toe!"

Hij gaan sit en wag en hou aan sing en speel. Maar nou hoor Speelman

dat die stem van meer as een plek kom. Dit maak hom nog meer nuwsgierig

en ongeduldig. En wat nog meer sij nuwsgierigheid en geduld op die

proef stel, is dat die stemme glad nie nader kom nie, maar blij waar

dit is.

Nou weet hij glad nie hoe hij dit het nie.

Hij begin toe agter die lokstemme aan te stap. Hoe nader hij kom, hoe

verder uitmekaar die stemme gaan--dan hoor hij een stem, dan twee,

dan drie en dan meer. Hij gee nie moed op nie en hou aan stap. Hij

dwaal toe so ver weg tussen die klowe en gebergtes dat hij eindelik

in die gramadoelas [1] te lande kom om daar te verdwaal.

Wel, in sulke gramadoelas het Speelman te lande gekom. Stemme ontbreek

nou nie. Die Echo laat haar steeds hoor; maar aan die gebrul van

Leeuws, gehuil van Wolwe, getjank van Jakhalse en geblaf van Bobiane

ontbreek dit nie--om nie eens van die gehoehoe van Uile te praat nie.

Toe, vir die eerste maal, gevoel Speelman hom in 'n benarde

toestand. Hij maak toe plan om terug te keer.

Maar watter kant toe nou?

Hij het toe begin te dwaal en verdwaal. Die eerste wat hom teëkom,

was 'n trop Bobiane. Die ou voorman van hulle vra aan Speelman wat

hij daar op hulle veld kom soek. Die Bobiaanwijfies roep uit: "Snij

sij bene af en gee dié aan ons, dat ons ook kan regop loop." Die

Bobiaankinders roep uit: "Snij sij kop af, dat ons daarmee bal-bal

kan speel; want dit lijk of dit nie kan breek nie."

Versigtig stap Speelman agteruit tot hij bij 'n boom kom en so gouw

as 'n kat klim hij daarin. Die voormanne van die Bobiane storm die

boom; dog Speelman vat sij groot wildhoring en blaas so hard daarop

dat die klowe daarvan weergalm. Die Bobiaankinders sit 'n keel op,

hol weg en skree dat die berge wou vergaan. Die Bobiaanwijfies vlug

agter hulle kinders aan, en al die ander volg en spaander die rant oor.

Toe klim Speelman uit die boom en vlug. Hij moes toe sij weg baan deur

Tiere, Wolwe en Jakhalse, wat algaar dreig om hom te verskeur. Maar

geeneen durf aan hom vat as hij op sij musiekinstrumente blaas of

speel nie.

Hij was moeg, honger, dors en uitgeput en gaan toe sit en rus; dog

ongelukkig val hij in slaap. Toe hij wakker skrik, het 'n Leeuw hom aan

sij toegedraaide karos. Speelman hou asem op en maak of hij dood is.

Die Leeuw dra hom toe weg om hom aan sij kinders te gee. Maar die Leeuw

word moeg van dra en gaan toe rus. Hij lê Speelman op die grond neer,

maar kijk eers goed of hij wel regtig dood is. Daarop gaan die Leeuw op

'n kort afstand agter 'n klip staan en loer om die hoekie of Speelman

nie roer nie. Maar Speelman het wel effe sij kop gedraai om te kijk

wat die Leeuw nou wil maak. Die Leeuw kom terug en draai Speelman se

kop weer soos dit gelê het en hij gaan toe weer agter daardie groot

rots staan en loer--want dis die ou gewoonte van Leeuws om soiets te

doen om uit te vind of die een regtig dood is.

Speelman draai toe sij kop effe, net dat hij met een oog kan sien

wat die plan van die Leeuw is.

Die Leeuw stap verder en staan weer bo oor 'n rantjie te loer. Hij

stap weg, maar kom dadelik gouw weer terug om te loer. Speelman lê

nog stil. Maar toe die Leeuw verdwijn en so lank nie kom kijk nie,

spring Speelman op, klouter 'n steil krans uit en verdwijn aan die

anderkant van die rantjie. Toe die Leeuw met sij kinders terugkom,

was Speelman baie weg.

Die Leeuw kon die spore van Speelman oor die steil kranse nie volg nie,

en so het Speelman vrijgekom.

En na lank rondgedwaal te hê, het Speelman sij huis bereik.

Op hierdie manier het die Weerklank baie mense wat die Echo nie ken

nie, verlei en het hul nes blinde laat ronddwaal en verdwaal tot

iemand die verdwaaldes weer tereg help.

NO. 6.

DIE VLAKTES IS DIE TWEEDE DOGTER.

OPMERKINGS:--In hierdie Storie word ons vertel hoe Grond en die

Vlaktes ontstaan het. Ons ou verteller het die Grond altijd 'Kaun

genoem--dis so na as ons die uitspraak kan opskrijwe, want bijna

iedere Boesmanwoord word met 'n klik van die tong uitgespreek,

en daarbij kom nog so baie ander klanke, waarvoor ons a, b,

c nie toereikend is nie.

Die tweede Dogter van 'Ga en 'Gagen het met haar man in hutte van

matjiesgoed gemaak, gaan woon; want sij was baie knap om matte te

maak. Die betowerende invloed van die snoer kalbassies wat om haar

nek gehang het, het baie soorte plante en vrugte in haar buurte laat

groei; so was daar baie matjiesgoed om matte van te maak.

Die snoer van kalbassies het gemaak dat 'Kaun, die tweede Dogter, glad

nie lus vir vleis gekrij het nie. Daar om haar heen in die veld het

'n oorvloed van eetbare veldvrugte en veldwortels gegroei, sodat sij

nie ver hoef te gaan om genoeg kos te krij nie. Dit het haar ook lui

gemaak, sodat sij, nes haar oudste suster, naderhand niks meer wou

doen nie. Haar man moes toe ook vir alles sorg. Hij het aldag gaan

jag en het genoeg wildvleis vir hom en hulle kind gebring; maar vir

'Kaun moes hij altijd net veldkos bring.

Eendag, toe die man weg was om vir hulle kos te gaan soek, kom daar

'n Boom, wat aan die kind vra waar sij ma, 'Kaun, is. Hij sê dat 'Kaun

'n snoer kalbassies om haar nek dra, waarvan die touwtjie waarmee

dit vasgeknoop is, van die binnenste bas van die stam van sij broer

gemaak is, en nou wil die kaal plek aan die stam vrot en sij broer

wil doodgaan. Hij eis die touwtjie om die kaal plek aan die stam mee

te gaan reg dokter.

Die kind wou nie vertel waar sij ma is nie, toe sê die Boom, wat ook

een van die mense van die ougeslag is, dat hij die volgende dag met

'n hele Houtbos van Bome sal kom om die touwtjie van 'Kaun haar nek

af te skeur.

Toe die vader thuis kom, vertel die seun alles aan sij pa wat die Boom

gesê het, hij soebat sij pa om tog nie die volgende dag van huis te

gaan nie, want sij ma is bang.

Gouw stap die man weer veld-toe om baie kos vir die volgende dag te

gaan haal, sodat hulle nie nodig sal hê om honger te lij as die Bome

hulle op een plek vaskeer nie.

Die volgende dag kom daar 'n hele Houtbos aan saam met die Boom en

hulle stel weer hulle eis om daardie touwtjie, waarmee die kalbassies

om 'Kaun haar nek gebind was, te krij. Die man weier, en die Bome,

met 'n groot gedruis, word net opstandig en maak 'n lawaai.

Die Hotnotsgod, wat daar nabij aan 'n takkie gesit het, aanskouw

en luister na alles wat daar gebeur. Hij verander toe die man, wat

sij eie seun is, in 'n groot Vuur en die kind verander hij in 'n

Opgewing, of Lugspiegeling. Die Bome word toe bang vir die geweldige

vlamme van die Vuur en hulle spaander die veld in. En die Opgewing,

wat bokant die vlamme dans, tesame met die rook, laat die Vuur nog

afgrijsliker lijk, sodat die Bome nooit weer oor daardie touwtjie,

van die binnebas gemaak, kom pla het nie.

In hulle vlug roep die Bome terug dat hulle vir 'Kaun nooit met rus

sal laat nie; hulle sal op haar graf kom trap en sal hulle wortels

diep in die graf laat ingroei.

'Kaun word bij die dag luier en wil niks anders doen as net slaap

nie. Sij krij 'n pijn om haar hals en toe sij wakker skrik van die

pijn, het die pitjies en saadjies wat in die kalbassies is om die

geraas te maak, begin te groei en het hulle wortels deur die hals

in die lijf van 'Kaun laat groei. Niemand kon toe hieraan iets meer

doen nie, so het 'Kaun aan slaap geraak en het toe in die Vlaktes

verander en sij slaap, slaap, slaap vandag nog voort. En die Bome,

tesame met bossies en gras, groei orals oor die Vlaktes; want hulle

het gesê dat hul die graf van 'Kaun nie sal respekteer nie. Daarom is

dit tot vandag toe nog dat die wortels van Bome so graag 'n toegedekte

graf binnedring om hulle om die doodsbeendere te vleg.

'Kaun, die Vlaktes, is nie dood nie, maar sij slaap net; die

Bome, bossies en gras groei daarop en put gedurig krag daaruit;

maar heeltemaal dood krij vir die Vlaktes is min! Solank as daar 'n

wêreld sal wees, sal daar Vlaktes wees. En solank as daar Vlaktes is,

sal daar Bome, bossies en gras op groei.

Gedurig werp die veldgewasse hulle sade op die Gronde, en die sade

ontkiem en groei, net soos die pitjies wat in die kalbassies was,

en stuur hulle wortels diep in die hals van die Aarde, naamlik in

die hals van 'Kaun.

NO. 7.

DIE VUUR EN DIE 'NU-FEES.

OPMERKINGS:--In hierdie Storie word die doen en late van Vuur

beskrijwe. Ons ou verteller het die Vuur altijd Danser genoem,

omdat 'n vlam sonder ophou aan dans blij. Die instelling van die

'Nu-Fees word verklaar.

Die Vuur se naam is Danser; maar sij vrouw, 'Kaun, is in die Vlaktes

verander geword. Hij is die seun van die Hotnotsgod en het eers nes

'n mens rondgeloop, gejag en gespeel. Nou is hij Vuur, wat niemand

sal kwaad doen nie, mits 'n mens van sij lijf af blij en hom nie

kwaad maak nie--dan verteer die Vuur alles.

Nou nog stap Danser nes 'n mens rond; maar meestal kan 'n mens hom

nie sien nie. Want hij maak ook net soos sij broer, die Wind: hij

kruip orals in. Slaan 'n mens klippe teen mekaar, dan spat daar Vuur

uit. Vrijwe 'n mens houtjies teen mekaar, dan ontvlam die hout. Ook

uit die lug kom die Weerlig-Vuur! Ja, die Vuur het ook in mense en

diere ingekruip--al sien ons die Vuur nie in ons of in die diere nie,

tog hij is daar. Want gaan hij uit die mense of diere, dan word hulle

vleis koud, hulle sterf en is dood.

Ook in die plante sit vuur; want as ons vuur maak, dan kom die Vuur

wat in die plante sit, te voorskijn.

Maar Danser is nog altijd kwaad vir die Bome omdat hul met sij vrouw,

die Vlaktes, baklei het en omdat hul nou nog met hulle wortels in die

lijf van sij vrouw vasgroei. Daarom brand Danser nog altijd die hout

van Bome; ook die gras en bossies ontsien hij nie.

Wanneer Danser as 'n mens rondstap, dan is daar groot lig en warmte

op die plek waar hij loop. Die ander mense is dan blij om nabij hom te

wees. Want in daardie dae het die Son, Maan en Sterre nog nie geskijn

nie, en dit was toe taamlik skemer--net soos in swaarbewolkte dae

wanneer iemand nie goed kan sien nie. Maar Danser se kop het geblink

en het vir hom genoeg lig gegee om orals goed rond te sien. Hij het

nooit oor koue gekla nie.

Maar hij het 'n slegte humeur gehad en wil glad nie geterg wees

nie. Vat iemand aan hom, dan bijt Danser daardie vrijpostige een. Maar

hou ons vrinde met hom, dan blij hij binne ons om ons warm te maak;

ook maak hij ons langs die Vuur warm en gee ons lig as hij voor ons

kom dans en is selfs gewillig om ons kos gaar te maak--dan is hij ewe

plesierig as ons hom genoeg hout gee om mee te baklei--hoe meer hout,

hoe plesieriger is hij.

Bij 'n seker geleentheid was daar baie Wild en veldkos. Die mense

van daardie tijd het toe 'n groot fees gevier. Daar het baie mense na

daardie fees en dans gekom--aan pret en kos het dit nie ontbreek nie.

Danser was ook daar; maar aangesien hij nie lig aan sij lijf vertoon

het nie, het niemand hom as die Vuurman herken nie. Maar na hulle

'n rukkie geëet en gedans het, sê hij dat hij die mense sal leer om

vuur te maak. Hij neem toe 'n sagte houtjie en maak aan die sij 'n

holte, lê die houtjie op die grond en gooi die skaafseltjies in die

holte. Toe vat hij fijn gevrijfde grassies en lê dit naas aan. Hij

vat toe 'n dunner en harder stokkie en draai dit tussen sij twee plat

hande vinnig regop rond. Die skaafseltjies vat vuur; daarop begin die

fijn grassies. Hij blaas dit aan en toe ontstaan daar 'n vlam. Hij

lê fijn houtjies op die brandende gras, toe weer dikker hout en daar

bo-op dik stompe. En spoedig brand daar net 'n tamaai groot vuur.

Die mense het hulle stom verwonder; hulle sing en dans om daardie vuur,

wat so baie lig en warmte gee. Daarop trek Danser 'n wije kring om

die vuur en sê dat hulle die kos binne daardie kring moet bring om te

braai. Want voor daardie tijd het algaar die kos rouw geëet, nes die

Leeuw, Tier, Wolf, Jakhals en Hond vandag nog doen; want hierdie diere

is ook mos mense van die ougeslag wat hulle in diere verander het.

Die mense proe toe dat gebraaide vleis lekkerder as rouw vleis

smaak. Van daardie dag af word kos gebraai en gekook.

Buite om die ring waarin die vleis gebraai word, trek Danser weer

'n tweede ring, sodat die mense tussen die braai-ring en die tweede

ring moet dans, sing en musiek maak. Buite om daardie twee ringe is

die buitewêreld waarin 'n mens net alles kan doen wat hij wil.

Toe was die vrolikheid net groot en uitbundig: die meide klap op hulle

hande, sing en slaan op tamboere; enkele van die mans speel musiek,

terwijl die ander mans dans dat die stof so trek. In die dans buig

en knik hul grappig met hulle koppe vir die meide, wat dit alles met

vrolike gelag begroet.

Algaar is onder 'n stofdamp; want as daar nie stof is nie, dan lijk

dit ook nie of daar gedans en pret gemaak word nie. Die plesier en

vrolikheid het tot die volgende oggend aangehou, en toe gaan hulle

slaap.

Die kinders, wat nie meegedans het nie, moes vroeg gaan water haal;

want die dansers het toe al reeds baie dors, daar al die water

gedurende die danserij uitgedrink geword het.

Van toe af word daar feeste gehou, en is die 'Ku-dans ingevoer.

NO. 8

DIE OPGEWING, OF LUGSPIEGELING.

OPMERKINGS:--Nes die Weerklank, is die Opgewing, of Lugverheffing,

'n spotter en verlokker van mense, wat in die veld rondloop. Sij

verblind die mense hulle oë, sodat hulle dinge sien wat glad nie

bestaan nie.

Die Opgewing is die Dogter van die Vlaktes en van Vuur. Sij is iemand

wat lekker kan spot en verlok; daarom het hul haar die naam van Antjie

van die Vlaktes, of somaar kortweg, Antjie Vlaktes, gegee. Sij het

getrouw aan haar ouers geblij, het altijd bij hulle blij woon, en dis

daarom dat sij nog altijd bo die vlam van Vuur en op die Vlaktes dans

en daar ronddwaal.

Die Weerklank, of Echo, kan praat en gesels, maar is onsigbaar;

terwijl dit net anders om is met die Opgewing: sij kan gesien word,

maar kan nie praat nie--sij is doofstom; maar tog so vol streke as

dit kan kom. Sij weet net hoe om met die mense deur drome te gesels,

want sij is die moeder van Drome. Daar bo die vlam en daar op die

Vlaktes kan sij haar goed verstaanbaar maak; want sij gee lewendige,

bedrieglike beelde en is 'n woelige Gees sonder rus.

Bij 'n seker geleentheid--nog in die dae van ouds--is die grondgebied

van die Boesmans van die ougeslag deur vreemde mense van glad 'n ander

soort oorstroom geword. Daardie vreemdelinge was baie en sterk. Die

Boesmangeslag het toe bang geword, want hulle kon nie hulle man teen

daardie Wildemense staan nie.

Maar Antjie Vlaktes krij gouw 'n plan om dit vir die Wildemense

onhoudbaar te maak deur hulle in allerhande moeilikhede te lok. Sij

vertoon haar eers as 'n mooi jongmeid. Die seun van die voorman van

die Wildes word verlief op haar, hij volg haar en soek om 'n praatjie

met haar aan te knoop.

Sij antwoord: "As jij kan doen wat ek kan doen, dan sal ek jou

neem--anders nie."

Hij willig in, en sij vra hom om te dans. Sij gaan toe in die vorm van

'n flikkerlig bo die vlamme van die Vuur dans. Hij het toe nog nie

vuur geken nie, so wil hij ook doen wat Antjie doen; maar kom in die

vlamme om. Hieroor word die Wildemense kwaad en soek toe van stonde

aan om nie alleen Antjie Vlaktes, maar ook al haar mense te vermoor.

Die Boesmangeslag ken al die veilige plekke en vlug daarheen en

die Wildes agtervolg hul. Wanneer die Wildemense moeg word en gaan

slaap, dan verskijn Antjie Vlaktes aan hulle in verskrikkende drome

en verskrik hul so dat hulle nie rus kan krij nie en van vrees vlug

hul die veld in. Hul was toe so bang dat hul amper nie wou gaan

slaap nie. Is hul weer in die oop veld, dan dans Antjie Vlaktes in

'n flikkerlig oor die hele veld, sodat die Wildemense niks duidelik

kan beken nie. As Gees van die Vlaktes besit sij 'n wonderlike

toorkrag. Daar in die verte vertoon sij haar as 'n groot pan water of

'n rivier. Langs die waters lijk dit of daar pragtige houtbosse, huise

en hutte staan. Die Wildes meen dat hulle Antjie en haar mense daar

sal krij. Maar op pad daarheen verander die fatsoene van daardie bosse

en waters op verskeie maniere. Nou lijk dit of die rante daarnaasaan

los van die grond staan; dan weer hang die bome kop-na-onder; daarop

sien hul bome in die lug--weg van die grond--groei.

Die vreemdes voel hul nou in 'n spookland, waar dinge van een fatsoen

in 'n ander oorgaan. Hulle raak toe raad-op en maak toe reeds plan

om weer na hulle eie land terug te keer.

Boesman-Stories, Deel 1. Mitologie en legendes · 第 1 / 6 段