Oom Jan gaan voort om te vertel:--

"Rondelyf het ook die kuns verstaan om verf te maak. In T'korgas se

Laagte het baie van die plat leiklippies gelê, wat blou, vaal, geel,

swart en bruin gekleurd is. Hy kies dan onder die klippies uit net

watter kleure hy wil hê; hy maal dit tot poeier, sif dit dan tot

tienmaal deur ou lappe of doeke, ja, hy pers dit met sy vingers

daardeur; nou is dit stof.

"Hy maak daardie stof aan, of meng dit met die t'kouboom se olie,

net soos skilders verf meng, en begin daarna met sy kwassie te skilder.

"Die t'kouboom tref 'n mens vandag nog in groot menigte aan in die

sandlaagtes van Brabees, Renosterkop, Noudonsies en ander plekke

langs Grootrivier. Die boom self is baie taai, dit het 'n dik stam

en behou sy blare somer en winter. Die blare is so breed as dié van

'n perskeboom, dog korter, baie gekrul, of kroeserig, en besit 'n

frankbitter smaak.

"Die olie word verkry uit die bessies van hierdie boom deur dit fyn te

stamp en dan te kook; die bessie is net so groot as die kasterolieboom

se pitte, dog is baie harder. Hierdie bessie braai Rondelyf uit saam

met die melk van die gifbos. As dit afgekoel en koud is, dan is dit

gereed om as olie vir verf te dien. Waar die soort gekookte olie op

'n klip val, maak dit 'n bruin vlek wat nie vandag, nòg môre, nòg

oor jare daarna somar sal uitgaan nie.

"My oorlede moeder het ons ou trektafeltjie met daardie soort verf

geskilder. Op sagte voorwerpe, soos sagte hout, word die verf dof, maar

op harde klip behou dit sy helder kleur. Maar met al ons rondtrekkery

het dit moeilik gegaan om 'n skaafplekkie aan die tafel te kry--dis

ongetwyfeld, dié soort olie is goed.

"Rondelyf het nog 'n ander soort verf gemaak, naamlik van ajoos, vet

en harpuis. Die Boesmanlandse harpuis is baie skaars--so vat hy soms

in plaas daarvan kors, of gom, van die t'kooibos. Met hierdie soort

verf het hy soms sy hele liggaam besmeer--tot selfs sy bakkies. Dit

het 'n mooi donkerbruin kleur.

"Die ajoos is 'n soort plant nes die duiwelsbrood. [In Boesmanland

word 'n paddastoel duiwelsbrood genoem.--Die Skrywer.] Maar waar die

duiwelsbrood die vorm van 'n hoed of sambreel het, het die ajoos die

vorm van 'n ronde bal. As dit ryp word, dan droog die vel uit, word

hard; en as die vel dan oopgebreek word, dan is die hele bal van binne

vol van 'n bruin, swart of geel poeier. Hiervan word die verf gemaak."

Tot so ver het oom Jan vertel.

Die ajoos word in die Karoo en binnelande van die ou Kolonie oeltjie,

of nambossie, genoem; en word sowel deur die Hottentotte as Boesmans

gebruik om hulle wange mee bruin te skilder--soms word hulle gesigte

nogal taamlik bont daarmee geverf.

Ons het in ons kinderdae gesien dat blank meisies ook hulle gesigte

tydelik daarmee geskilder het. Toe ons die rede daarvoor verneem, was

die antwoord: "Dit hou die vel koel en as ons dit na 'n tyd afwas,

dan is ons gelaatskleur weer lelieblank; want hier in die ope veld

brand die son ons heeltemal bruin." Dit was natuurlik die geval waar

die trekboere ver uit mekaar staan en besoekers nie aldag daar kom

nie. Die meisies hou hul by sulke geleenthede eenkant.

Wel, om tot die verfkleure van die Boesmans terug te keer. Boesmans

teken die Kaffers altyd swart af--daarvoor gebruik hul potswartsel;

vir Boesmans gebruik hul meestal bruin--daarvoor gebruik hul bruin

potklei, bruin klip wat ysterroes bevat; vir wit mense gebruik

hul wit of liggeel klei, of skilferklip van dié kleur. Ook het ons

skilderinge in groen en blou gesien, wat vermoedelik aan kopererts

ontleen is. Soms vind 'n mens tekeninge wat amper rooi is; die verf

hiervan word op seker plekke gegrawe.

Boesman-Stories, Deel 3. Die boesman self, sy sedes, gewoontes en bekwaamhede · 第 43 / 55 题