OPMERKINGS:--Ons vertel hier hoe Boesmans hulle verf meng om hulle
skilderinge op rotse uit te voer, en ook hoe hul vir sieraad soms
hulle lyf skilder.
Hoeveel persone het al die vraag gestel: Ek verwonder my dat die
skilderinge van Boesmans soveel honderde van jare kan bestaan sonder
te verbleek of af te reën--hoe maak hul die verf? Nou, as iemand 'n
bietjie oplettend is en sy oë rondom hom heen werp, dan sal dit hom
dadelik tref dat sulke skilderinge baie voorkom waar die melkboom
of noorsdoring-soort bosse en bome groei, of anders in streke waar
pitvrugte aangetref word. In kaal streke waar soiets nie aangetref
word nie, daar vind ons meer grafeer- of inkraptekeninge. Dan
word 'n harde skerp klip gebruik om figure in sagter klip in te
krap. Hiervoor gee hul die voorkeur aan die swart blink rotse wat
net 'n dun nerfie buiteom het; as dit deurgekrap word, dan maak dit
'n vaalgrou streep wat net so lyk as die binneste van die rots. So
'n grafeer-, of uitkrapwerk, is so te sê onverganklik.
Ons sal oom Jan Visser weer aan die woord bring soos goedwillig deur
mnr. E. de Roubaix vir ons opgeteken.