NO. 68.

'N BOESMAN IS WAARLIK DAPPER.

OPMERKINGS:--Hierdie Verhaal is afgeskrywe deur mnr. E. de Roubaix

soos deur oom Jan Visser aan hom vertel.

Ou Oom Jan Visser--nou 83 jaar oud--vertel die volgende ware

gebeurtenis:--

"Sestig jare gelede was ek 'n jongeling van drie-en-twintig jaar

oud en weet vandag nog baie goed wat ek op hierdie leeftyd gesien,

gehoor en ondervind het. Dit was in die jaar 1859. Die ou wêreld

tussen Calvinia en Grootrivier was toe nog woes, maar bedek met gras

en blomme; wild en ongedierte het ook nie makeer nie. My vader se

veelêplek, of staning, was in die hartjie van ou Boesmanland en wel by

'n groot vlei of pan. [Die Boesmanlanders noem die opgedroogde vloer

van 'n groot meer water 'n pan.--Die Skrywer.]

"As 'n mens aan een kant van die pan staan en kyk oorkant-toe, dan

lyk die ander kant somar hier naby. Maar moenie glo nie! Jou gesig

word bedrieg en dis nie so nie. Soms sien 'n mens êrens in die pan

'n groot wit ding wat so groot vertoon as 'n boerbok; maar loop hy

daarheen, dan vind hy niks meer as 'n murgbeen van 'n bees nie.

"Op 'n warm dag--as die warm lug oor die grond flikker--, dan

vertoon orals in die pan of daar plasse helder water staan wat

groot kabbelings maak. Maar dit alles is 'n lugverskynsel, wat ons

opgeefsels noem. Daarom het die pan die naam van Verneukpan gekry;

en dis vandag nog sy naam, en almal noem die plek nou nog so.

"Nou, wat ek eintlik wil vertel het, is dit: dat in daardie tyd by ons

'n ou rou Boesman gebly het. Sy naam was Rondelyf. Hy was al bejaard;

want sy ou gesiggie was al vol rimpels en wat van sy twee nou ogies

te sien was, was net twee skrefies--hoewel hy baie beter kon sien as

ons algar saam. Hy was die wagter van my vader se lammerooie.

"'n Geslepener skelm, 'n fyner leuenaar en 'n deurtrapter dief ken ek

nie. Hy het altyd die tabak, bierklei, timablikkies (ghriesblikkies),

vleis, kougoed, seninggare, en ander dinge van die volk uit hulle

pondokke gesteel sonder dat iemand hom ooit betrap het. As iemand

hom vertel dat daar groot suspiesie teen hom bestaan dat hy op een of

ander tyd 'n ding gesteel het, dan trek hy sy gesig in die onnoselste

en onskuldigste plooie, wat sy onskuld moet aantoon. Op die oomblik

is hy bereid om te sweer en te bewys dat hy op daardie dag glad op

'n ander plek was as dié waar die goed gesteel is--alles om te staaf

dat hy somar niks anders as die pure waarheid praat nie.

"Hy het nog op die Boesman-manier pyl en boog gedra en het baie hase

so op die lêplek platgetrek, of doodgeskiet. Met sy glinsterende

en half-toegeknipte ogies het hy reeds van ver af 'n hasie agter

'n bossie sien lê, of 'n koraan in die laagte sien staan, of 'n pou

daar teen die duintjie sien wei. Dan begin hy te fluit, en begin in

'n sirkel al om die wildding te loop; maar hy kom tog al die tyd nader

en nader, sodat hy die sirkel naderhand baie kleiner het. Al die

tyd hou hy die pyl op die snaar van die boog gereed. En bewaar die

arme dier as Rondelyf hom onder skot kry, dan is dit klaar met hom;

want mis-skiet ken die ou Boesman nie!

"Hy het nooit springbokke vervolg as dit koel is nie; maar op die

warmste van die dag is sy tyd; want dit gebeur dan dat die muggies

die bokke pla, en hulle gaan dan skuiling in die koelte onder die

bome of bosse soek. Terwyl hulle daar perdgerus in die skaduwee staan,

begin die ou Boesman hulle te bekruip. Hy kon letterlik soos 'n slang

op die grond seil en gaan dan tot 'n vyftien tree of so van hulle af,

kies sy buit, en dood is daardie bok se naam! Dit het nooit gebeur dat

'n dier wat hy bekruip het, hom gewaar het nie.

"Omtrent twee uur te perd van Verneukpan is 'n plek met die naam van

Omdraaivlei; daar was 'n ander staning. Op 'n seker dag het daar op

Omdraaivlei 'n smous met negosiegoed en tabak kom staan. Hy het daar

'n goeie ruk gebly; en my vader het daar ook goed gaan handel en koop.

"Gou het Rondelyf van daardie negosiewa gehoor, en dit het hom nie

lank geneem om uit outa Koring se gordband twee sielings te steel

nie. En weg spring hy met daardie geld, dwarsdeur die veld, reguit

na die smous toe om tabak te gaan koop.

"Omtrent halfpad staan 'n leeu kort voor Rondelyf op en staan hom

ewe bedaard en kalm aan te kyk; al die tyd swaai hy sy stert van die

een kant na die ander kant in die lug. Ongelukkig het Rondelyf nie

sy pyl en boog by hom gehad nie, nog minder vuur of 'n ander wapen

as net sy twee-voet-lank kierietjie.

"Hy sak stadig op sy hurke en hou die leeu dop; die leeu kom 'n entjie

nader. Hy staan toe weer regop en staan die leeu aan te kyk; die leeu

bly weer staan; daarop gaan hy weer op sy hurke sit, en weer kom die

leeu 'n bietjie nader. Hy staan nogmaals regop, wat die leeu weer tot

staan bring. So het hy 'n paar maal aangegaan. En toe hy weer opstaan,

spring hy regop in die lug, gee 'n geweldige skreeu en klop hard en

geesdriftig op sy karos, wat hy onderwyl van sy lyf afgehaal het en

wat hy toe in sy hand hou, en hy storm die leeu. Dit was te veel vir

die leeu: hy neem die spat; en so is Rondelyf van hom bevry geword. En

na hy dit veilig geag het, spring hy terug na Verneukpan toe en kom

my vader roep om die leeu te skiet.

"Ons het dan ook nie versuim om die leeu te gaan opsoek nie. Ek het

meegegaan. Toe ons op die plek kom waar die ontmoeting afgespeel

was, het ons die spore van albei goed beskou en kon dadelik sien dat

Rondelyf nie met stories aangekom het nie, en dat hy waarlik 'n baie

nou ontkoming gehad het; was dit nie dat hy geen lafaard was nie,

dan was daardie dag voorseker die laaste dag van sy lewe."

Tot so ver het oom Jan Visser vertel; maar hy het nog meer

vertel, en ons sal in die volgende boekdeel nog meer van Rondelyf

hoor. Ongetwyfeld was hy 'n ou karnallie; maar net so ongetwyfeld

was hy 'n held.

In die volgende boekdeel sal ons geleentheid vind om nog meer van

sulke dapper verrigtinge melding te maak, waaruit duidelik sal blyk

dat die dwergnasie heldhaftig is en glad nie lafaards is nie.

Boesman-Stories, Deel 3. Die boesman self, sy sedes, gewoontes en bekwaamhede · 第 40 / 55 题