OPMERKINGS:--Hoe meer ons die Boesman bestudeer, hoe groter
raaisel word hy vir ons.
Ons is almal daarmee eens dat 'n Boesman baie fyn jagplanne kan
maak--meer so as enig ander nasie van die wêreld; maar dan weet ons
ook dat niemand daarin geslaag het om 'n Boesman goed te leer lees
en skrywe nie. Sy taal is eenvoudig, tog vervoeg hy sy werkwoord net
so goed as 'n Hollander of Engelsman kan dink om sy eie werkwoorde
te vervoeg. 'n Jong Boesman leer 'n ander taal praat met verbasende
snelheid. Sy tekeninge is so duidelik dat daar geen twyfel kan ontstaan
watter dier of mens daarmee bedoel is nie. Van klei kan hy enige dier
of mens namaak en tog kan hy nie tel nie, terwyl aan die mens tien
vingers gegee is, wat ook kan gebruik word--en wat al die nasies van
die wêreld gebruik het--om te leer tel.
Omdat hy nie diep oor iets kan redeneer nie en omdat hy hom nie in
ernstige gedagtes kan verdiep nie, is sy begrip van godsdiens baie
oppervlakkig--so het dit by ons al 'n vaste uitdrukking geword: Hy
is so dom as 'n Boesman; sy verstand is so kort as dié van 'n Boesman.
Maar is hy nou so dom in alles?
Sonder gereedskap kan die beste ambagsman nie werk nie. En hoeveel
ambagsmanne--ja, hoeveel van ons--is daar wat ons eie gereedskappe kan
maak? Die kuns is om sonder gereedskap te werk. Ons het kraalsnoere
van volstruiseierdoppe gemaak gesien en het enkele in ons besit wat
'n Boesman sonder gereedskap gemaak het. Ons vertel wat oom Jan Visser
aan mnr. E. de Roubaix meegedeel het hoe die krale gemaak word:--
"Rondebout (die Boesman) en van sy maats het ek sien krale maak van
die doppe van volstruiseiers. Die dopstukkies word geslyp tot hulle
rond is en die grootte van 'n hempsknopie het; dan word 'n gaatjie in
die middel geboor en is dan gereed om ingery te word. Die Boesmans dra
soms lang stringe van hierdie soort krale om hulle arms en bene--net
soos Kaffers glaskrale dra."
Dan, weer, het ons kieries met 'n knop gesien wat Boesmans sonder
die hulp van 'n staalmes bewerk het en het daarop met 'n draadjie
en kooltjies vuur diere uitgebrand wat baie duidelik en natuurlik
was--vernaamlik 'n bont tier en slange met hulle skobbe en dubbele
tonge. Ons is seker dat baie van ons wat ons so slim hou, die Boesman
dit nie sou nagedoen het nie. En wie het hom dit geleer?
Mevr. Jacob de Clercq het ons vertel dat haar vader 'n Boesman gehad
het wat by hulle groot geword het. Hy het al sy eie musiekinstrumente
ewe kunstig gemaak. Daar het dit nie by gebly nie, maar hy kon daarop
gesangetjies en liedjies speel; maar om te leer lees of spel of iets
uit die hoof leer--so ver kon hul hom nie bekwaam nie: Sy vertel,
toe die eerste kettingsteek-naaimasiene uitkom, het hy op sy eie
manier so 'n speelgoed-masien nagemaak. Hy het te danig 'n begeerte
gehad om smidswerk te leer, en het toe by 'n smid in Natal gaan werk;
hy was daarin net knap; en toe hy die ambag enigsins goed verstaan het,
loop hy weg, sodat niemand weet waarheen hy gedros het nie.
Selfs met 'n eenvoudige sikspens-knipmes kan 'n Boesman kunstige
werkies verrig. Ons het gesien 'n nek en kop van 'n viool wat 'n
Boesman van kareehout uitgekerf het wat glad nie in vertoning vir
'n ingevoerde een hoef agteruit te staan nie.
'n Ou vrind van ons het ons vertel dat sy buurman, mnr. Prinsloo,
in die ou dae 'n watermeultjie gehad het om koring mee te maal. Sy
meulenaar was 'n Boesman wat hy klein gevang het en van sy ouers
ontvang het, daar kos toe skaars was. Die Boesman het alles van malery
geleer. Hy was ook met 'n makgemaakte Boesmanmeid getroud. Albei het
'n goeie en sindelike opvoeding gekry en het in 'n kliphuis met deur
en venster daar by die meul gewoon. Dit het soms gebeur dat die malery
langer ophou as verwag is, dan het die ou Boesman die witmense na sy
huis genooi om koffie te drink of 'n stukkie te kom eet. Sy oumeid
was skoontjies aangetrek; die tafellaken was so wit as sneeu; wat
daarop staan, blink; en die borde, messe, vurke, lepels en kommetjies
is wat hul spesiaal vir witmense gehou het.
Dus sien ons hieruit dat as 'n Boesman van kindsgebeente reinheid
geleer word, hy ook sindelik kan wees en dat hy vir hom in muurhuise
goed tuisvoel.
Dis verder 'n bekende feit dat die Boesmans nooit geploeë of gesaai het
nie. Wel, meneer Louw Prinsloo het in die vroeë dae naby Chrissies-meer
op die Hoëveld van Transvaal gewoon. Hy vertel dat hul wilde Boesmans
wat vee gesteel het, agternagesit het. Aan die bopunt van Soetoerivier
kry hul die woonplek van die Boesmans; en daar het klein tuintjies met
mielies gestaan, terwyl in die hele omgewing geen blankes of Kaffers
gewoon het nie. Wild het toe al skaars geword, en die ou spreekwoord
sê: "Nood leer bid,"--so het die Boesman hom verplig gevoel om ook
mielies te saai--miskien meer met die doel om dit groen te kook of
te braai.