As hul 'n gevoel in hulle voete kry, dan sê die een: "Hier kom
springbokke aan: ek kan voel hoe hul met hulle voete trap en die
bossies laat kraak."
As hul 'n gevoel op hulle kop kry, dan sê een: "Ek voel hoe ons die
horings van die springbok gaan afkap."
Voel hul 'n gekriewel op hulle wang, dan beteken dit die swart strepe
wat op die gesig van 'n springbok is.
As hul 'n gevoel in die oë kry, dan beteken dit die swart kolle wat
bo die oë van 'n springbok is.
Vir 'n volstruis is die gevoel 'n gekriewel op die kop; dit beteken
die goggas wat op 'n volstruis se lyf rondkruip.
In die middel van die dag gaan die Boesmans gewoonlik hulle middagrus
neem. Hulle lê in die koelte. Dis daarom dat die wild dink: "Nou
slaap die Boesmans--daarom sal ons maar naby gaan."
Maar as iemand die gekriewel of kloppens of getrek in sy liggaam voel,
dan vertel hy dit aan die ander volk wat daar by hom lê; dan slaap hul
nie en stuur die kinders om daar ver in die skaduwee van ander bome te
lê om te kyk of hul nie wild sien aankom nie. Sodra die kinders wild
gewaar, dan wink hul met hulle hande en wys na die plek waar hul die
wild sien. Want al die tyd het die oues die kinders in die oog gehou om
te kyk of hul nie met die hande sal wys nie: roep en skree mag hul nie.
Op die daad spring die jagters op, gryp hulle boë en pylkokers en
gaan skuil-skuil veld-in om die wild te gaan voorlê. Wanneer die
bokke onder skot is, dan fluit die pyle op hul. En algar bedank die
een wat die voorgevoel gehad het.