VOORTEKENS EN VOORGEVOEL.

OPMERKINGS:--Die inhoud van hierdie Verhaal ontleen ons grotendeels

aan dr. Bleek se boek "Bushmen Folklore."

As iets gaan gebeur, dan kan Boesmans dit aan die trek van hulle vleis

of 'n gekriewel op hulle vel voel en voorspel wat hy te wagte kan

wees--ten minste so vertel die Boesmans. Hulle sê dat die getrek of

kloppens in hulle vleis hulle briewe is wat die tyding kom bring. As

sulke tekens in sy liggaam begin te roer, dan maak die persoon die

ander geselskap stil en hyself praat verder geen woord nie. 'n Droom

is iets wat onwaarheid vertel; maar die geklop van die liggaam nie:

op hierdie manier kom hy aan sy vleis van wild. Ook kan hy voel as

daar mense en besoekers vir hom aankom.

As die eeld van 'n ou wond klop, dan is dit die teken dat daardie een

se vader aan kom is. Dan roep hy sy kinders en sê: "Loop kyk of oupa

nie aankom nie."

Die kinders gaan kyk en kom terug met die boodskap: "Daar kom iemand

aan."

Waarop hulle pa sê: "Loop kyk of dit nie julle oupa is nie; want dis

die merk van 'n ou wond wat klop, en julle wil my mos nooit glo as

ek julle dinge vooruitvertel nie."

As die een weer 'n geklop aan sy ribbe voel, dan roep hy die kinders en

sê: "Ek voel dat springbokke aan kom is; want hulle bruin harestrepe op

hulle ribbe laat die vleis van my ribbe trek. Toe, klim op die Brinkkop

uit, kyk rond of julle nie springbokke tussen die bome sien nie; want

hulle steek hul graag tussen hoë bome en in hol rivierbeddings weg."

'n Ander man roep uit: "Ja, toe, kinders, loop kyk!"

As 'n Boesman 'n gekriewel in die waai van sy bene of aan sy kuit

voel, dan is dit 'n teken van bloed van wild wat langs sy bene sal

afstroom. So weet hy dat hy vandag gaan springbokke skiet en dat

hulle bloed met huis-toe dra langs sy bene sal aftap.

As hy 'n gekriewel agter sy rug voel, dan is dit die hare van die

springbok wat hy op sy rug huis-toe sal dra en ook die bloed van die

bok wat hy dra.

Boesman-Stories, Deel 3. Die boesman self, sy sedes, gewoontes en bekwaamhede · 第 30 / 55 题