(a) Die keelklank, wat amper soos die Hollandse ch klink.
(b) Die sterk knorklank word laag in die keel gemaak en gaan nes
'n padda wat kwaak.
(c) Die swak knorklank word vorentoe in die keel gemaak--amper nes
ons saggies keel skoon maak.
(d) Die neusklank word deur die neus gemaak--nes in baie Franse
woorde.
(e) Musikale klank, wat 'n luidende toon aan die woord gee--nes ing
in Engelse woorde.
(f) Klemtoonklank, wat die regte klemtoon gee.
So is daar nog sommige waarop ons nou nie die aandag sal vestig nie.
Hieruit is dit duidelik dat ons 26 letters van die a, b, c nie
genoeg is om al die klanke in die Boesman-taal in geskrif weer te gee
nie--dus volg dit dat meer letters en tekens vereis word om hierdie
taal behoorlik te skrywe.
Persone wat die taal nie wetenskaplik ondersoek het nie, verklaar
somar uit die staanspoor dat dit onmoontlik is om die Boesman-taal
in geskrif te bring.
Hier gee ons 'n voorbeeld hoe Boesmans 'n selfstandige naamwoord
verbuig (volgens dr. Bleek):--
Enkelv.: Meerv.:
N. 'Kuiten (man). N. ''Eiten (manne).
G. 'Kuita (man se). G. ''Eita (manne se).
Vok. 'Kuwe (o man). Vok. ''Auwe (o manne).
Ak. 'Kui (man). Ak. ''Ei (manne).
Alt. 'Kuko (ander man). Alt. ''Ekuiten (ander manne).
Daar is baie van ons Afrikaners wat die Boesmantaal pront ken, omdat
hul dit van die lippe van Boesmans geleer het; maar ongelukkig het hul
nie die opleiding op skool gehad om die taal wetenskaplik te kan skrywe
nie--so besit hul 'n waarde waarvan hul tot nut van die wetenskap nie
gebruik kan maak nie. So min blanke ken die Boesman-taal pront--want
dit moet van kinderjare af geleer word: 'n volwasse raak die taal nooit
grondig baas nie. Daar bestaan tans nog geleentheid--wie weet hoe lank
dit nog kan duur?--vir wetenskaplike genootskappe om blank kinders
wat die taal van die Boesman ken, 'n goeie akademiese opleiding te gee
om daardie taal grondig te ondersoek en met taalgeleerdes te bestudeer.
Maar nou kom die vraag: Praat die Boesmans nou nog die ou oorspronklike
taal? Ons verwag soiets nie; maar tog, die teenswoordige Grieks en
Italiaans is voorwaar die kind van ou Grieks en van Latyn. Dan moet
ons daarby in herinnering hou dat die Boesmans in gedurige aanraking
met vreemde stamme gekom het, en dat 'n Boesman in verbasende goeie
aanleg besit om 'n vreemde taal gou aan te leer; maar wat weer aan die
ander kant vir sy oorspronklikheid pleit, is dat hy baie behoudend is
in sy maniere, en dis daarom dat ons onder al sy verdrukking vandag
nog opregte Boesmans vind.