OPMERKINGS:--Ons sal maar hieroor 'n kort Verhaal skrywe;
want jeugdige lesers kan dit maar oorslaan, terwyl gevorderde
lesers tog iets van ons daaromtrent wil hoor. Ons is vir sommige
informasie dank verskuldig aan "Bushmen Folklore" deur dr. Bleek
en mej. Lucy Lloyd, wat die taal geleer en bestudeer het. Verder
deel ons mee wat ons van oorlamse Boesmans daaromtrent verneem het.
As ons 'n klompie Boesmans hoor gesels, dan laat dit ons amper dink
aan 'n geselskap paddas wat langs 'n watervoor sit koert en tong
klap. Die eerste vraag wat by ons dan oprys, is: "Is dit nou werklik
'n taal in die regte sin van die woord?"
By noukeurige studie sal ons uitvind dat dit wel deeglik 'n taal is,
waarvan die selfstandige naamwoorde vyf naamvalle besit, en dat die
werkwoorde volledig vervoeg word. Ons sal verder bemerk dat daar 'n
enkelvoud, tweevoud en 'n meervoud van selfstandige naamwoorde is. 'n
Ryk woordeskat is ons nog nie in hande geval nie: armoede openbaar hom
op baie plekke. Verder is die woorde vir die merendeel eenlettergrepig
en behoort met die grootste noukeurigheid uitgespreek te word deur die
behoorlike tongklap, of klik, te gebruik, om die korrekte klemtoon
op die woord te plaas en om noulettend die uitspraak op die regte
plek van die mond te gee, anders kry dit glad 'n ander betekenis.
Daar is nie minder as vyf verskillende tongklappe, of klikke, nie. Ons
gee hul hier so goed en kwalik as ons kan:--
1. Die gesmak-klik. Dit is die sagste van algar en word gemaak deur
die twee lippe op mekaar te plaas en met 'n gesuig skielik te
verwyder--nes met 'n soen.
2. Die sagte tandklik. Dit word gemaak deur die punt van die tong
teen die boonste voortande saggies vas te druk en met 'n suig
skielik weg te trek--nes ons maak as ons oor iets spyt of
jammer het.
3. Die sylingse klik word gemaak deur die tong een kant toe teen
die kieste te druk en dit met 'n suig skielik weg te ruk--net
soos ons maak om perde te laat trek.
4. Die keelklik word gemaak deur die tong bo teen die gehemelte op
te krul, met 'n trek skielik na agter--amper nes ons vir 'n
klein kindjie bang maak.
5. Die harde klik word gemaak deur die punt van die tong teen die
voortandvleis vas te druk en dan skielik weg te ruk--nes ons
vir 'n hen met kuikens roep.