XIII.

Op Soetlands-vlei is bruilof.

Stoffies trek omhoog in al die paaie,

dis karre wat op weg is na die fees.

Uitkyks kapkar is ook een daarvan.

Die beste perde van die stal

is ingespan vandag,

en tuie blinkend in die son.

Van ver alreeds

word karre en perde oor en weer herken.

En doeke by die raampies uitgewuif

bring groete reeds vooruit

van vrinde, aan vrinde langtyd nie gesien.

En daar waar paaie uitloop in mekaar

word stil gehou

om soene met mekaar te wissel eers

en hande-groet,

dan gaan die reis weer verder aan.

* * * * *

Tafels staan gedek op Soetlands-vlei

se werf,

in koele skaad’wee,

alles van die beste is daar op

wat d’Afrikaanse huisvrou kan berei,

gebakke, vrugte en blomme

in bonte mengeling.

Maar seker is die skoonste nog van al:

die blosend-lief gesiggies,

tawwertjies, soos blomme self

met held’re somerkleure,

ryklik rondgestrooi

al tussen-deur die swarte drom

van mense—

laggies hupp’lend deur die praatgebrom,

die grappies spattend

hier en daar,

en handjies blank en fyn

wat help om rond te dien.

Die vrolik-gulle lag van Roelf

word nou en dan

bo almal uit gehoor.

Hy maak of hy die korswil nie verstaan

wat doel op hom en Martjie.

Wag, die ergste kry hy nog te hoor:

In d’eetsaal is die gaste

nou byeen,

’n glasie word getik

en stilte aangevra

vir iemand wat ’n woord wil praat.

Die sprekers woorde is maar baie gewoon:

hy wens die ouerpaar

en bruid en bruidegom geluk,

maar laat dan daarop volge:

„vrinde,

„dis wel waarlik te verstaan

„dat so baie mooi gesiggies

„as ons hier vandag

„versameld sien

„wel maklik menig jonkman kan beweeg

„om ook ’n plan te maak....

„en ’k dink ek kan jul wel

„verseek’ring gee

„dat ons nie al te lang meer hoef te wag

„om nogmaals so’n fees te vier”....

Gelag gaan op, en onderbreek

die sprekers woord,

wyl ieders oog op Roelof is gerig

en hande-kloppies op sy skouer val.

’n Oënblik staan hy glad verbluf

al-eer hy ’n laggie op kan wek

om hom te red;

maar klankloos is die laggie,

kort en leeg.

In ope-staande deur,

net agter haar,

is Martjie, op die sprekers woord,

verdwene in ’n kamer,

ongemerk en snel,

vergeefs dat hoofde en oë sig nou beur

om haar te soek.

En in die kamer bly sy tot

die uur van huistoe-gaan.

* * * * *

Op t’rugreis na die plaas,

is ’t wel opmerklik stil van-aand

in ou oom Koot se kar.

En twee wat op die agterbankie sit

is bly

dat ’t reeds so laat is

en hul nie

mekaar kan sien.

* * * * *

Maar al te ongewoon

is Roelofs swye vir oom Koot,

hy draai hom om na agter toe:

„maar wat is ’t dan met julle twee van-aand?”

Roelf probeer aanhoudend sig te red

met praatjie of grap,

maar ’t wil van-aand nie vlot nie.

Na ’n rukkie sê oom Kootjie weer:

„my skepsels! maar het julle twee

„dan rusie met mekaar gemaak?”

En ’n eindjie verder:

„Ma, so waar die kêrel sit ’n slaap,

„hy het, so by-me-siel,

„’n dop te veel gesteek!

„Of sit hul in die donker stil te vry?”

* * * * *

Dis laat al as die kar

op Uitkyk kom,

Roelf is agter uit gespring

en loop na vore om die hek

te open,

dat oom Koot

daar deur kan ry.

Hy sluit dit weer en roep van ver

aan almal goeie nag

terwyl hy na sy kamer stap.

Die plaasvolk is geroep deur Jaftas blaf

en kom reeds nader om die kar

en perde te versorg.

En nog een het haar kamer gou gesoek,

maar nie om rus of slaap te vind,

al het sy haar ook haastig uitgekleed,

die kêrs geblus

en op haar bed haar uitgestrek.

O, ’t klop so in haar hoof

en in haar bors!....

Met woeste ruk

het sy meteens

die dekens afgegooi,

en sit oorend....

die blou-wit maanlig straal die venster in

en val op haar.

Sy’s op, en voor haai tafel nou;

sy was haar hande

en gesig.

en kyk na buite.

Haelwit oor die waenhuis-géwel gly

die maanlig.

Tuingereedskap staan in klompies

teen die muur,

as rustend na die arbeid van die dag.

En op die hard gelykte, breed en leeg,

van d’agterplaas

twee jonge boompies naas mekaar,

elk éne by sy ronde skaad’wee-kol,

beweëloos....

In Martjies oë lyk dit alles tog

so onverskillig-dom,

verlate, en met niks

of niemand mee-gevoelend.

Saggies en werktuiglik open sy

die binnedeur wat uit haar kamer lei,

en sluip op blote voete in die gang,

nie wetend waar sy heen wil gaan.

Gevoelloos is ook alles daar

en leeg,

in skeem’ring stil-geheimsinnig.

Dof-glimmend

staar die deure-knoppe haar

onvrindlik aan

net of hul vra: „wat soek jy hier”.

Sy’s in haar kamer weer,

en op haar bed terug,

die maanlig op haar witte nag-gewaad,

haar hande om die katel-knop geklem,

haar voorhoof op haar hande neergebuig.

En fluist’rend in die stilte van die nag,

ontval haar lippe ’n klag, verwytend half:

„O, wáarom tog nie, Heer, O, wáarom nie?!”

[Illustration]

Martjie · 第 20 / 24 题