XII.

Sy voel haar weer vanmôre heeltemal

haarself van vroeër dae

lughartig, onbeswaard,

en byna onverskillig teënoor Roelf.

Sy kan haarselwe nie verstaan,

gedenkend die beroering van gist’r-aand:

Die weelde is dit, van selfgenoegsaamheid,

versekerd van besitting groot en ryk

—bo alle twyfel nou ge-openbaar—

van liefde so oorstelpend

dat daarnéwens

alles is verkleind,

selfs hy, vir-eers, die oorsaak van die vlam

—onwetend van sy skuld.

Te groot is in haar bors die skat,

oormoedig gun sy sig die rykaards spel,

wat speels sy rykdom van hom stoot

in heerlik-onbestemd besef,

dat hy in tydgenoegsaamheid kan wag

op groter vreug, wat so gebêre bly

vir dae wat kom.

Dis waar en onmiskenbaar nog, helaas,

dat Roelf geen roering voel soos sy.

Maar magteloos

had sy haar mee laat sleur

in storremdraaiing van

die skoon verrukking,

wat meteens

op haar was afgekom,

en op sigselwe waar en salig was

—die toekoms ongeag.

* * * * *

Eén vir ene

kom en gaan die dae

en laat die vuur bedaar

van elke roering, selfs die edelste,

van elke drif of hoë gevoel;

en nugter loer die werk’likheid weer in

en vra:

of _dit_ waarskynlik is

of _dat_ ten uitvoer is te bring.

Dit kan nie anders nie:

die koel gelykmatigheid

van Roelofs daëliks doen, dieselfde nog

soos altyd,

moet vir haar weer elke keer

terugvoer tot haar twyfel,

tot die rand

van wanhoops donker afgrond;

huiwerend ontruk sy aan die aanblik

telkens weer haar oog,

en voel of in haar are al haar bloed

terugstroom na haar hart

Met stil-weemoedig laggie dink sy nou

terug aan d’eerste dae

toe hul mekaar leer ken het,

toe haar hart alreeds

die soet geheim ontdek het

en sig had verraai,

in klein beroering eers

van onrus,

waarvan sy

die grond nie wis nie.

* * * * *

Aldag in die sonnetjie te sit

van ’n mooi paar oë,

daarby nog die gunsteling van pa

en „goeie kind” van ma

—daar’s menig jonkman wat dit Roelf beny.

En hy sou doof moet wees

en blind

om nie die praatjies te verstaan

en nie die laggies raak te sien

wat oweral, en min of meer bedek,

’n teer verhouding onderstel

wat tussen hom en Martjie sou bestaan.

Ja, baie minder sou voldoende wees

bemoeisug te laat glo

dat tussen hulle twee

die sakie klaar beklonke is.

Martjie is nie minder, in die kring

van haar bekendes,

’n mikpunt reeds geword

van kleine plaëry;

en onoortuiënd is haar woord

as sy, verleë, ontken.

Geskok voel sy haar eers deur al die praatjies,

onheilig rakend aan haar hartsgeheim,

dog oorsaak dat haar oog allengs

aan nugtre blik gewen,

en sy die vraag haarselwe durf te stel,

skoon huiwerend nog:

„sal ooit my liefde word beantwoord,

„word ek eens

„die vrou van Roelf, of nooit?!”

* * * * *

Is ergens in die buurt of dorp

’n aandparty,

waar elke jonkman word verwag

’n noointjie mee te bring,

dan is daar nooit ’n ander een

aan Roelofs arm

as Martjie.

Dikwels dink sy by haarself dat hy

uit pligbesef vir haar maar altyd neem

En welverstaanbaar is dit ook

dat so’n gereëld samegaan met haar

die mening sterk,

dat hul verhouding so is as

die wêreld dink,

en tog, helaas, so ver van waarheid is.

Pynlik is ’t vir haar, en hinderlik;

en as hy, op ’n dag,

haar weer kom vra om mee te gaan,

verstout sy haar die wedervraag te doen,

of hy nie ’n ander sou wil neem—

hoewel sy lank al het gemerk

dat hy,

so min as aan haarself,

gehegtheid het betoon aan een

van al die nooiens wat hy ken.

„Wat?” seg hy, „en dink jy dan dat ek

„my noointjie somaar in die steek laat staan,

„dat ’n ander een

„haar weghaal voor my neus?”

En so maak hy

lughartig sig weer daarvan af,

soos altyd sy manier maar is.

Die woordjies so gedagteloos

en lossies uitgebring deur hom: „my nooi”,

vertoon die afstand juis aan haar,

die peilloos diepe kloof wat hulle skei.

[Illustration]

Martjie · 第 19 / 24 题