DIE WOLKE.

OPMERKINGS:--Hierdie storie is 'n blote beskouing oor wolke en

wat enkele wolke beteken--natuurlik 'n Boesman se opvatting.

Wolke! Wat vir goed is dit? Algar die wolke is nie van een soort

nie. Daar is wolke wat reën uitgiet, en daar is van hulle wat droog

is en nie water bevat nie. Dan is daar donderwolke, wat water, vuur en

swareweer-stene bevat; en daar is wat net hare, vere en wind bevat. So

is algar die wolke glad nie eners nie.

Die wind is die asem van al die goed wat lewe. So is die stormwinde die

asem van Grootvoël, wat in 'n gat in die berge woon, wat hom in wolke

kan wegsteek en wat dan na die see vlie om reën te gaan haal. Dan

kom hy met groot gedruis in die wolke; hy blaas met sy bek en klap

met sy vlerke sonder om uit die wolk te voorskyn te kom. Daarom waai

daar altyd 'n windjie as 'n wolk oor ons koppe heensweef.

As iemand sterf, dan word sy hare wolke. As 'n voël sterf, word

sy vere ook wolke. Maar hierdie soort wolke gee nie rëen nie; want

hulle is net hare en vere, wat nie water bevat nie; daarom kom hul

en verdwyn sonder om 'n druppel te laat val. Want hulle is hare en

vere wat somar maklik deur die asem van Grootvoël verjaag word.

As iemand gesterwe het, dan staan sy spore nog vars in die sand asof

die persoon nog leef; maar hy is dood. Sy asem, wat sy wind is,

het klaar uitgewaai, sy hart het omgekantel en kan nie meer roer

nie. Daarom kom die stormwind en waai die spore van die afgestorwe

persoon gelyk met sand. Want waarom moet sy spore nog daar in die sand

bly as hy reeds dood is? Is die spore in klei sigbaar sodat die wind

die klei nie kan stukkend breek nie, dan giet die wolke 'n stortbui

uit en wis die spore uit. Want hy vra ook: as 'n persoon dood is,

waarom moet sy spore nog lewe?

As die een se lyk op die aarde dood lê, dan kom die wind en maak

'n sterk warrelwind; en dié vat die lyk op--al is hy onder die grond

begrawe--en bring dit na die hol bak wat tussen die twee opstaande

horings van die nuwe maan is, en hy plaas die lyk saggies daarin

neer. Daarom is dit dat die Boesmans 'n lyk in 'n sittende posiesie

begrawe: hy moet te enige tyd gereed wees om op te staan.

Voor die Dood in die wêreld deur die Haas gekom het, het die mense

en diere maar geslaap tot dit nuwemaan geword het; hulle het dan

weer nes die maan lewendig geword. Maar nou moet hul lank in hulle

grafte sit eer hul weer eendag sal lewendig word. Dan kom die persoon

se wolk neer en dwaal nes 'n swaar mistige weer oor die graf om die

opstandelinge te bedek, sodat die ander nie kan sien dat die dooie

weer lewendig geword het nie. Die hare, of vere, van die wolk kom

weer op daardie een se lyf groei; sy wind gaan weer in hom; en die

een stap rond asof hy nooit dood gewees het nie.

As 'n ongedierte iemand verskeur en opgeëet het, dan bring die mistige

weer al die dele van sy liggaam bymekaar; die dele word klam en nat

en groei weer aan mekaar vas, net soos die persoon of ding tevore

gewees het.

So moet ons die wolke respekteer en eerbied vir hulle betoon. Doen

ons dit nie, dan bring hul nie vir ons reën nie, dan kom hul nie om

ons klam te maak en op te wek nie. Die berge en rotse het die wind en

wolke nie gerespekteer nie, maar het hul verwens en uitgeskel toe die

storms so baie stof en water op hul uitgegiet het. Daarom sal hulle

nooit weer lewendig word nie; maar vir altyd slaap, slaap en slaap.

Grootvoël maak wind wat stofwolke op die aarde voortjaag; hy maak droë

wolke bo in die lug en laat die mistige weer tot op die grond kom. Toe

die rotse gelewe en gejag het, was die mistige weer toegetrek, en die

stof het in hulle oë gewaai, sodat hul die wild nie kan raaksien of

skiet nie. Daarom het hul die wolke en wind verwens; en dis daarom

dat hul nooit weer sal wakker word nie, maar vir altyd dood bly.

Boesman-Stories, Deel 2. Dierstories en ander verhale · 第 52 / 63 题