Sy antwoord: "Pa, in die klipskeur by die 'norra-kareeboom."

Wolf het nie juis geweet waar die 'norra-kareeboom is nie; dog

uitvra-uitvra het hom gou die pad daarnatoe beduie. Hy kry die regte

plek; hy loer in die skeur; en, ja waarlik, daar sit die snoer in

'n oor van 'n koedoe weggesteek.

Wolf neem 'n haakstok om die koedoe se oor nader te trek; dog die

muise het die onderpunt van die oor weggevreet; en toe Wolf daaraan

roer, glip die snoer daaruit en val dieper in die skeur, waar Wolf

dit met geen moontlikheid kan bykom nie. Toe sit die ou, na baie te

gesukkel het, hand in die hare.

Meteens kom Miskruier met 'n bol klei daar verby. Wolf bekyk hom en sê:

"Ou vriend, hoor jy is dom om die bol klei agterstevoor te rol. Staan

reg en doen jou werk soos dit moet wees."

"Og!" roep Miskruier uit, "ek is nie so dom en sleg as jy my voor

verslyt nie. Sien jy nie hierdie bol klei is groot nie? As ek dit met

my kop na vore aanstoot, dan kan ek mos niks sien nie; stoot ek dit

agterstevoor, dan kan ek die hele wêreld rondom my sien. Jy moet weet,

ek is sterk en kan baie groter stukke klei as hierdie stoot--dis meer

as jy kan doen!"

"Wat!" werp Wolf teë, "ek rus net uit om hierdie groot rotse weg

te rol. Ek wed jou jy kan nie daardie neksnoer in hierdie klipskeur

tussen die rotse verroer nie. Loop haal dit uit en bring dit hier,

dan sal ek jou wys hoe maklik ek weer aan my kant hierdie tamaai

groot rotse rondrol."

"Nou toe, laat ek sien," sê Miskruier toe hy die skeur instap om die

neksnoer daaruit te sleep. Hy steek sy horing teen die snoer, kom

daarmee aangestap en smyt dit voor Wolf neer. Daar gryp Wolf dit en

hol daarmee na die jong meid toe. Voor hulle in die hut geslaap het,

en terwyl hulle nog aan Wolf se presentvleis sit en braai, is Wolf

daar en oorhandig die neksnoer.

A nee, nou moet die jong meid glo dat Wolf alles weet en alles kan

uitvind. Sy maak haar klaar en stap met Wolf mee na sy huis. En

net kom Wolf se eerste vrou daar, en dit was 'n getwis uit die

staanspoor. Nooit het daar weer rus in daardie huis gekom nie. Wolf

wou naderhand gek word.

Toe sê die bure wat dit gehoor het, dat dit die beste straf is wat

hul Wolf kan gegee het. En dit het 'n spreekwoord onder die Boesmans

geword as iemand straf verdien: "Gee hom twee vroue;" want die jong

vrou trek sy grys hare uit om hom jonk te maak, en die ou vrou sy

swart hare om hom oud te laat lyk.

Boesman-Stories, Deel 2. Dierstories en ander verhale · 第 42 / 63 题