OPMERKINGS:--Hierdie storie is slegs 'n karakterskets om die
domastrantheid en vraatsug van Wolf af te teken.
In die dae wat lankal verby is, het daar baie bossiehuise van die ou
geslag rond, en nie ver van mekaar nie, gestaan. Boesmans het daar
gewoon; leeus het daar gewoon; Wolf en Jakkals het daar gewoon--algar
in bossiehuise. En daar was 'n oor-en-weer-lopery van die een plek na
die ander. Hulle het baie saam gejag, baie saam geëet en baie saam
gedans en feesgevier. Toe was daar baie plesier; maar ook twis en
rusie om aldag se eentonigheid aan stukke te kap.
Wolf was, en is tot vandag toe nog, 'n flukse jagter. Maar hy ook
het geweet dat aldag jagdag is, maar nie aldag doodmaakdag nie. Die
ou kan mos baie eet; dit vat 'n groot knapsak vol vleis om met sy
honger mooi te praat en om dit stil te kry. Oor hierdie manier het
Wolf se ander bure nie van hom te veel te eet gekry nie. Dit is maar
'n gelukslag dat Wolf vir hulle kon trakteer.
Maar as Wolf die dag of nag niks te vang gekry het nie, dan stap hy
eenvoudig na sy bure se plekke toe, loop die een plek na die ander
af; en sonder genooi te wees gaan hy aansit en eet ewe gulsig met
hulle mee.
Die bure vind toe gou Wolf se laai uit; as hul hom hoor aankom,
dan raap hul die kos weg en bêre dit op so 'n plek waar hy dit nie
kan sien nie. Maar sy ruik is goed. Hy dwing en hou aan op so 'n
onbeskaamde wyse dat hul hom eindelik iets te ete gee. En dan is hy
nog nie tevrede nie.
Hiervan het die bure ook later moeg geword, toe weier hul beslis om
selfs vir hom 'n murgbeen te gee. Wolf het hom nie laat vermaak nie;
hy gryp die kos voor hulle weg, of maak die potte oop en haal die
vleis daaruit, of hy trek die spitte met karmenaadjies by die vuur uit,
of vat hulle karosse en stap daarmee weg en gaan alles gulsig opeet.
Hy het sy vrou geleer om haar eie pad te gaan en die einste ding te
doen. En sy kon dit amper beter as haar man regkry.
Dit het dan ook nie lank geduur nie, of algar was vir Wolf en sy vrou
buikvol. Hulle stap toe na Wolf se huis toe, toe hy en sy vrou nie
daar is nie, en steek dit aan brand. Wolf bou weer 'n ander bossiehuis,
en weer gaan die vuur daarin. Dit ontmoedig hom nog nie; hy bou weer,
en andermaal gaan die vlam daarin, want die bure wil Wolf en sy vrou
uit hulle geweste verdryf. Met aanhou het hul oorwen.
Wolf en sy vrou trek toe glad 'n ander oord in. Die eerste waartoe
hulle besluit, is om nie meer bossiehuise te maak nie, maar om in
gate te gaan woon; want grond- en kliphuise kan nie aan brand gesteek
word nie.
Wolf en sy vrou begin eers fatsoenlik te kuier; maar nog al die
tyd vat ieder sy eie koers, sodat hul nooit saam op een plek aankom
nie. Hulle het nie eens geweet dat Wolf 'n vrou het nie.
Een aand gaan Wolf op 'n plek kuier, en daar sien hy 'n jong meid,
so reg na sy sin; en hy begin somar daar sy lyf vryer-Hottentot
te hou, want hy is nou vasberade om twee vroue te neem. Hy gedra
hom baie ordentlik; hy begin oor sy jagtery te spog, hoe sterk hy
is, hoe hy alles kan uitvind; en wat uithalerheid betref, loop sy
kersvashouers glad nie rond nie. Hulle glo vir Wolf en nooi hom om
baie oor te kom. Hy was ook nie links nie en laat sy stof net baie
daar rondwaai. Baie aande bring hy 'n agterkwart of 'n voorkwart van
wild wat hy gevang het. Dit alles net om 'n twede vrou te kry.
Een aand vra hy die jong meid of sy maar sy vrou wil wees. Sy het
Wolf altyd onderdeur geloer en beskou; sy gee geen antwoord nie,
maar werk aan 'n neksnoer sonder om op te kyk. Sy maak of sy nie
gehoor het nie, maar sy dink ver.
Wolf praat weer. Sy gee toe antwoord en sê dat Wolf oor drie aande
weer moet kom. Oor 'n rukkie stap hy weg.
Die derde aand is hy daar. Sy sê toe: "Jy praat en spog so danig
oor jou krag en dat jy alles kan uitvind. Die neksnoer het ek êrens
weggesteek; loop soek dit en bring dit hier, dan sal ek jou neem en
met jou saam na jou huis toe gaan."
Wolf vat aan sy ken, en sy gedagtes dwaal ver buitekant sy hart;
en hy begin toe somar te praat van die groot present--die stuk vleis
wat hy met hom meegebring het. Hy het gou geëet en weggestap--hy gee
voor hy gaan nou die neksnoer haal.
Maar Wolf is 'n ou onderkruiper: hy gaan daar naby onderkant die
wind lê, van waar hy alles kan hoor wat hul in hulle hut praat. Hy
het nie te lank geluister nie, of die vader van die jong meid vra:
"Waar het jy die neksnoer weggesteek?"