Sy kry trane in die oë en roep uit: "Waar, waar is die kinders? Wat
gaan ek doen sonder die kinders? Waar, waar is die gehoorsame
kinders?" En sy huil bitterlik kwyl en trane.
Daarop sê sy huilend aan die Boesman: "Jy het die kinders hier kom
wegvat. Hulle was so tevrede hier en het altyd so soet gespeel;
waarom doen jy dit? Kan jy nie sien ek word al grys en oud nie? Nee,
ek is al oud; ek is al grys." En sy huil hardop.
Al wat die Boesman antwoord, is: "Die kinders is nie meer hier
nie." Hierop vat hy sy goed en stap ook na sy huis toe.
Moeder Leeu het daarop toe sieker en sieker geword; en toe sy haar
kop neerlê, was daar nie kinders om haar benoude bors te vrywe nie. En
sy het hul ook nie meer by haar om hulle hande en voete te lek nie.
Maar die ouers van die kinders wou uit hulle velle spring van blydskap
toe hul hulle kinders weer by en rondom hul sien speel en lag; want
dit was hulle kinders, en nie dié van moeder Leeu nie.