OPMERKINGS:--Hierdie storie is slegs 'n blote vertelling waarin
die verbeelding vrye teuels gegee word.
Daar was 'n vader Leeu en 'n moeder Leeu. Van hulle jong dae af het
hul vir hulle 'n mooi jagveld uitgekies. Op 'n oop vlakte, digteby
'n kolk water en 'n ent van 'n kliprant af, het hul onder 'n klompie
bome en tussen rotse 'n huis uitgekies. Onder die bome was ook 'n kol
kort bosse, wat in die daaglikse spreektaal kreupelhout of ondergroei
genoem word. Dus, 'n baie mooi wegkruipplek, van waar hul oor die
vlakte kan sien. Daar was ook genoeg wild vir hulle, daarom was hul
so tevrede daar en het daar hulle hele lewe gewoon.
Hulle het altyd twee of drie kinders tegelyk. Die kinders bly dan
by hulle ouers en gaan saam met hulle ouers jag om te leer hoe om
self te jag. As daar weer twee of drie boeties en sussies gebore
word, dan gee hulle pad en vat dan hulle eie koers om vir hulself
'n huishouding te begin.
Vader Leeu en sy vrou, moeder Leeu, word ná verloop van jare oud;
hulle tande word sleg, want met die stukkend-byt van harde bene
moet die beste tande met verloop van jare en met naderende ouderdom
ingee. Toe kan die twee oues nie meer so goed jag nie; en terwyl hulle
nie meer jong kinders het nie en die ander reeds op hulle eie boer,
so het hul dit nie meer so volop gekry nie. Hulle moes toe maar diere
vang wat nie so vinnig hardloop nie; so ook het hul begin onder die
Boesmans te vang--vernaamlik onder die ou meide wat veld-toe gaan om
veldkos te soek.
Hiervoor kry hul op 'n sekere tyd 'n mooi kans. Want groot buie reënt
het daar geval, en baie wild kom die streek binne om op die groen
veld en golwende gras te wei. Baie Boesmans volg die wild, en hulle
gaan onder die klipkranse van daardie rantjie, wat naby is, woon. Die
ou meide en kinders kom by die kolk, naby die leeus hulle huis, water
skep; dan neem die leeus hulle kans waar om die ou meide dood te byt
en die kinders lewendig te vang en na hulle huis, onder die klompie
bome by die groot rotse, te bring, om daar te woon en speel.
Die leeus hulle huis was so veilig en gevaarlik dat die jagters dit nie
gewaag het om die leeus daar oordags te gaan aanval nie; terwyl in die
nag, as die leeus op hulle stukke is, het die Boesmans glad nie daar
naby gekom nie. Maar hulle sê die leeus is te gevaarlik so naby die
waters, en 'n plan moet gemaak word om hulle uit te roei of te verjaag.
Hulle maak 'n ou pop van velle en stop dit met gras op, sodat dit
baie na 'n regte Boesman op 'n afstand lyk. Aan die nek maak hul
'n lang riem vas, en twee jagters neem die pop mee. Hulle stap na
die kolk water toe en klim daar in 'n boom. Die pop bly onder die
boom; maar hulle trek gedurig aan die riem, sodat dit lyk of die pop
ronddans en lewendig is. Dit is 'n ou plan wat Boesmans maak om leeus
na 'n boom te lok om hul dan daar dood te skiet.
Vader Leeu dink toe dat die pop 'n ou meid is wat nie in die boom
kan klim nie; daarom staan sy onder die boom rond te dans. Hy maak
hom gereed en gaan die pop bekruip. Toe hy die pop onder die boom
bevlie, maak die twee jagters bo in die boom 'n geraas. Vader Leeu
kyk met oop bek op; en dit was net wat die twee jagters wou gehad het:
dadelik skiet hul gifpyle in die oop bek van vader Leeu; en ná enige
oomblikke was vader Leeu 'n lyk, om nooit weer ou meide en kinders
te vang nie. Dog hulle bly van Leeu se huis weg.
Moeder Leeu het die moord op haar ou man al die tyd staan aanskou;
so was dit 'n waarskuwing vir haar om nie meer ou meide en kinders
te gaan vang nie. Sy moet dus 'n ander plan maak. Sy wapen toe die
Boesman-kinders wat by haar woon, met knopkieries; sy gaan self in
die nag met hulle jag. Sy vang wild en hou die prooi vas, en dan kom
die kinders en slaan met hulle knopkieries die ding dood wat gevang
is. So het hul op 'n ander manier al die tyd volop kos gehad. Sy
wou die kinders nie na die kolk toe stuur om water te haal nie;
want dan mag dit gebeur dat hulle eie ouers vir hulle daar sien,
en kan vir hulle daar kom haal en na hulle huise toe neem.
By moeder Leeu haar huis het 'n groot en kragtige donkergroen boom
gegroei, wat sulke lekker vrugte gedra het. Die kinders was baie gek na
daardie vrugte. Sodra hul daarvan geëet het, dan vergeet hul alles wat
tevore gebeur het. So het hul glad vergeet dat hul Boesmans vir ouers
het. Hulle verkeer toe maar onder die vaste verbeelding dat moeder
Leeu hulle regte moeder is en dat dit hulle plig is om vir haar te
sorg. Ewe tevrede speel hul onder daardie klompie bome en gaan nooit
daaronder oordags uit nie. Maar snags is hulle Kaatjie van die baan:
dan baljaar hul rond of is doodstil as hulle op die jagtog uit is.
Later word moeder Leeu sieklik en kry 'n slegte bors, dan moet
die kinders haar bors kom vrywe--en dit het hul met die grootste
bereidwilligheid gedoen. Van toe af het hul baiemaal self alleen
gaan jag en was nog altyd in staat om 'n stukkie kos vir sieklike
moeder Leeu huis-toe te bring, waaroor sy altyd baie dankbaar is;
en om haar dankbaarheid te betoon, lek sy die hande en voete van die
kinders as hul op haar lê en met haar ore of stert speel.
Hulle was, in kort, 'n gelukkige gesin daar onder die bome.
Maar op 'n goeie dag hoor een van die dapperste Boesmans kinders onder
die bome by moeder Leeu haar huis speel en lag. Hy sê toe by homself:
"As die leeus daardie kinders nie vang en doodbyt nie, dan sal hul
dit aan my ook nie doen nie."
Hy stap daarheen en kry die vrolike kinders daar net alleen, want
moeder Leeu het net na die kolk toe gestap om in 'n hartbeespens
water te gaan haal.
Die dapper Boesman praat met die kinders, en dadelik bemerk hy dat
hul niks meer van hulle ouers af weet nie; dog hy ken nog al die
kinders en weet wie hulle ouers is. Hy het "houtjies" in sy knapsakkie
gehad--"houtjies" wat sy toordokter vir hom gegee het; en hy laat
al die kinders daaraan kou, en toe kom hulle vorige verstand weer
terug. Hulle kry toe dadelik 'n begrip dat hul kinders van Boesmans
is, en nie van leeus nie.
Toe sê hy: "Julle twee wat daar so sit, julle ouers se vuurtjie brand
onder daardie krans. Sien jul die rokie daar uitslaan?" En die twee
kinders spring op en hol na hulle ouers se huis toe.
Daarop sê hy weer: "Julle drie wat daar so sit, julle ouers se vuurtjie
brand onder daardie krans waar die groot boom staan. Sien jul die
rokie daar uitslaan?" Die twee kinders spring op en hol reguit na
hulle ouers se huis toe.
Daarop sê hy weer: "Julle drie wat daar so sit, julle ouers se
vuurtjie brand hoog bo in daardie diep kloof. Sien julle die rokie
daar uitslaan?" Die drie kinders staan op en hol reguit na hulle
ouers se huis toe.
Toe bly daar nog net een kind sit, en die Boesman sê: "Jou ouers se
vuurtjie brand daar in die ander diep kloof. Sien jy die rokie daar
uitslaan?" En die kind hol ook na sy ouers se huis toe.
'n Ruk daarna kom moeder Leeu met die water aangestap. Deur haar bors
swak was, was sy uitasem. Sy hoor of sien die kinders nie, maar sien
'n volwasse Boesman daar sit, en sy vra: "Waar is die kinders?"