Meteens slaan Jantjie op die blikemmer en maak 'n
duisenddaalder-lawaai. Die ape skrik en vlie kortom; die kinders
tjank, die oues die roep boontoe en skeur die veld vorentoe. Hulle
vlug die hoë bome in, en so kry Jantjie kans om te ontvlug. Voor hy
stap, maak hy die emmertjie vol water en koes toe na sy ou huis toe.
Van hier lê sy pad deur die ranteveld, waar die bobbejane woon. Dit
mis ook nie: 'n ou skildwag het hom gou gesien aankom. Hy roep uit:
"Daar stap 'n man met goed agter sy rug!" Algar staan op hulle
agterpote; sommige gaan sit om te kyk. Hulle gewaar hom.
"Kom ons gaan hom voorkeer!" roep algar gelyk uit, ná hul nogmaals
op hulle agterbene gestaan rondkyk het, en ná hul Jantjie nog gewaar.
Toe die oues by hom kom, volg die wyfies en kinders in 'n trein agter
die ou mannetjies aan, en hulle kom ook kyk. Hulle was ook nie min nie,
en Jantjie was nog alleen.
Jantjie skrik en word somar bang; want daar was baie groot knewels
onder hulle. Hy vlug in 'n boom. Nou kan hy nie op sy blikemmertjie
slaan nie, want dit is vol water; en gooi hy die water weg, dan sal
hy swaar dors kry, en wat maak hy dan?
"Wat dra jy daar?" vra die ou grotes, en hulle sê: "Gee dit vir
ons!" Daarop wil hul somar die boom inklim om die goed af te neem.
Jantjie moet nou 'n ander plan smee; en ná hieroor en daaroor gou te
dink, kry hy 'n goeie plan, daar hy weet dat bobbejane baie bang is
vir gewere. Hy word toe geruster.
"Pa, pa!" roep die kleintjies uit, "die man het so 'n mooi ronde kop;
maak hom dood en gee vir ons die kop om mee te speel; want dit lyk
so hard en sal nie gou breek nie."
"Sal jul julle monde hou! Julle is kinders, en hoe durf julle so van
'n uitgegroeide man praat?" merk die ou skildwag op toe hy oorkonkels
en oorwakse regs en links uitdeel.
Die kinders sit 'n keel op en tjank dat die klowe daarvan antwoord
gee. Die moeders hol toe en pluk die kleingoed aan die ore en hare,
en die geskree word nog eens so lewendig.
Jantjie begin toe die bobbejane uit te koggel, en met 'n laggie sê hy:
"So 'n klomp lelike gevrete het ek nog nie so naby my gesien nie. En,
o, kyk hoe lyk julle oogbanke! Nes 'n krans aan die voorkant van
'n rant. Ga, ga, ga!
Arrie, staan tru met julle plat en agteroor voorkoppe!" Hy lag dat
hy so skud.
Dit maak die bobbejane nog 'n bietjie nydiger, en hulle storm somar
die boom om Jantjie daaruit te pluk.
Toe roep hy: "Boer, boer, bring jou roer! Hier is die lelikerds wat
jy na soek--kom gou!"
Daar was toe nie skildwagte uitgesit nie, so weet hul nie hoe die
wêreld rondom lyk nie. Dus, sonder om nog rond te kyk, kies hul koers
na die bergkranse toe om daar te gaan sit "Hoggem! Hoggem!" Onderwyl
ontvlug Jantjie na sy huis toe.