DIE BOBBEJANE EN APE.

OPMERKINGS:--Hierdie storie is miskien nie een van die oudste nie;

want dit kry met witmense te doen. Ons verhaal dit egter net soos

die ou verteller dit aan ons meegedeel het. Dit skilder sekere

karaktertrekke van bobbejane en ape af.

Wat lyk tog meer na die menslike geslag as bobbejane en ape? Dit kan

ook nie anders nie, want hul is ou Boesmans van die ou geslag wat

vir hulle in daardie diere verander het.

'n Bobbejaan is amper so slim as 'n mens. Hy kan net tot soveel tel as

'n Boesman, naamlik tot drie--verder gaan dit onder die naam van baie

(of soos die Boesman dit uitdruk: nie min nie). As die bobbejane

gaan kos soek, dan gaan 'n oue bo-op 'n hoë plek sit om skildwag te

hou. Soos hy onraad gewaar, moet hy alarm maak. Kom daar gevaar en hy

skree nie, bewaar dan sy gebeente as die ander hom weer in hande kry,

dan moet hy krul! 'n Bobbejaan hou gedurig sy oë op sy kinders as

hul saam met die klomp wei; vir die geringste oortreding of skynbare

foutjie moet die stof uit sy hare vlie. Ja, bobbejane is strenge

ouers en sien niks deur die vingers nie. Maar hulle is soms onbillik

teenoor hulle kinders; want as die kind 'n lekker stukkie kos kry,

soos 'n skerpioen waarvan hy die stert afgepluk het, dan pak die pa

of ma hom agter die nek, steek die voorvinger in die kind se mond

en grawe die lekker stuk kos uit die kind se kiessakkie en eet dit

self op--vandaar dat die kind so hard skree as hy weerstand bied,

sodat die bergklowe daarvan dreun.

Ape, weer rig ander spektakels aan. Hulle is nie so raserig as

bobbejane nie. Hulle woon graag waar hoë bome is en waar water naby

is. Vlug hul in bome, dan kyk hul eers waar hulle kinders is, en roep

is genoeg vir die kind om aan die moeder vas te klou as sy die takke

inspring; en hulle steek hul dan agter dik takke weg. Op die weiveld

kry die arme kinders nie so baie slae nie; dog hulle moet deeglik

na hulle pasoppertjies kyk, of dit mis nie dat hul 'n pluk aan die

stert of 'n oorkonkel kry nie. Eer hul hol, staan hul regop op hulle

agterpote rond te kyk.

Daar het eendag jagters van die sononder-kant (van die see-kant)

gekom, en hulle het 'n Boesman-kind gevang en met hulle saamgeneem

huis-toe. Die jagters was witmense, en hulle het die Boesmantjie

Jantjie genoem, en hy het lank by hulle gebly.

Jantjie was maar 'n Boesman en het eers nie kan verstaan dat sekere

goed net aan een persoon mag behoor nie: by Boesmans is net sy pyle

en boog, sy vrou en kinders, sy velle en kieries syne, verder behoort

die grond, die wild, die veldkos en water aan algar saam. So het

Jantjie ook gedog toe hy by die witman kom, dat hy net maar kan vat

wat sy oë sien. Hierdie ding wou die witman nie toelaat nie, wat tot

gevolg gehad het dat Jantjie se sitplek baiekeer vir hom warm gemaak

geword het. Hy maak toe later plan om weg te loop, en dae tevore pak

hy stilletjies kos in sy knapsak. Hy steel brood, meel, koring, vleis,

vis en net wat hy skelm-skelm in hande kan kry--vernaamlik tonteldose

en vuurslae, messe en tabak.

Die landstreek waardeur hy moes terugvlug, was deur ape en bobbejane

bewoon. Die ape het langs 'n groot rivier gewoon en was glo ou Korannas

wat ape geword het. En die bobbejane het in die ranteveld geboer en

was glo ou Boesmans wat in bobbejane verander het, wat nou net van

veldkos en goggas lewe.

Toe Jantjie by die rivier kom waar die ape woon, sien hulle hom. Die

een sê aan die ander: "Kom ons loop die man voor: hy dra goed; laat

ons hom doodmaak en die goed afneem."

"Toe, toe, kom ons gaan!" skree algar gelyk, en hulle met hulle

vrouens en kinders hol die man voor. Hulle was baie--nie min nie--,

en Jantjie was alleen.

"Wat moet ek nou doen?" vra Jantjie homself af; want vir 'n aap kan

niemand padgee nie.

Die kinders sien koringkorreltjies uit 'n klein gaatjie in die sak

val; hulle tel dit gretig op en roep uit: "Maak hom dood en gee vir

ons die lekker pitjies wat in daardie sak is!"

Die ou ape gryp latte en woel onder die kinders en sê: "Julle is

kinders; moet julle só teen 'n man praat? As die goed moet verdeel

word, dan vat ons grotes dit, en nie julle kinders nie." En die

ape was verder net parmantig met Jantjie, en hy wis nie vooruit nog

agteruit nie.

Weer roep 'n kind uit: "Gee vir my daardie blink ding wat net soos

'n ster blink (die blikemmertjie)."

Die kind kry 'n pluk aan sy stert om sy mond te hou.

Toe Jantjie hoor van "blink ding," toe kry hy somar gedagte dat

ape bang is vir 'n groot geraas. Hy kry moed en begin met die ape

te korswel en spot. Hy vra: "Waarom is julle bakkiese so swart? Kan

julle dit nie was nie? Kyk, net bokant julle oë is die vel nog wit

as jul julle oë so agtertoe ooprek."

Boesman-Stories, Deel 2. Dierstories en ander verhale · 第 20 / 63 题