Cagn stuur Cogaz (sy oudste seun) om latte te sny om boë van te
maak. Toe Cogaz by die bos kom, vang die bobbejane hom. Hulle roep
toe al die ander bobbejane om hom te kom hoor, en hulle vra hom wie
hom daarheen gestuur het. Hy antwoord dat sy vader hom gestuur het
om latte te sny om boë van te maak.
Dus sê hulle: "Jou vader beskou hom baie slimmer as ons; hy wil die
boë hê net om ons mee dood te maak, dus sal ons jou maar doodmaak."
En hulle maak Cogaz toe dood en hang hom bo aan die top van 'n
boom op; hulle dans toe om die boom, en hulle sing 'n onbeskryflike
bobbejaanlied met 'n koor wat sê: "Cagn dink hy is slim."
Cagn lê en slaap toe Cogaz doodgemaak word; en toe hy wakker word,
sê hy aan Coti (sy vrou) om vir hom sy dolosse aan te gee, en hy hang
dié oor sy neus, en hy sê: "Die bobbejane het vir Cogaz opgehang."
Dus stap hy na die plek waar die bobbejane is. En toe hul hom daar
naby sien aankom, toe verander hul die woorde van die lied, waardeur
hul die naam Cagn uitlaat.
Maar 'n bobbejaan-meisiekind sê: "Moenie só sing nie; kom, sing soos
julle tevore gesing het."