OPMERKINGS:--Die eerste storie is ook afkomstig van ou Bles,
die Boesman. Ná sy laaste besoek aan ons op Calvinia moes ons
die volgende dag na Roggeveld vertrek om daar te meet; dus het
ons hom nooit weer ontmoet nie, waaroor ons baie spyt het, daar
sy verstand op sy hoë ouderdom nog heeltemal helder was en hy so
baie kon vertel.
Eendag sê 'n ou Boesman van die ou geslag aan sy seun om fluitjiesriet
te gaan haal om pyle van te maak. Tegelykertyd waarsku hy die seun
teen 'n ou towenaar wat daardie riet oppas, sodat die ou volk nie
sulke goeie pyle kan maak nie; hul moet dan maar vir hul met slegte
fluitjiesriet behelp. Hy gee die seun 'n sekere pyl om die towenaar
mee te skiet; die pyl sal hom so brand dat hy niks sal kan doen nie.
Maar die seun was eiewys; hy stap na sy hut waar hy slaap, en neem sy
eie pyle met hom mee en neem die vurige pyl van sy vader nie mee nie.
Toe die seun by die plek kom waar daardie goeie fluitjiesriet groei,
begin hy somar op die daad te sny. Die ou towenaar verander hom en
sy famielie in leeus, en hy vra aan die seun om te vertel wat hy daar
maak. Die seun antwoord dat sy vader hom gestuur het om riet vir pyle
te kom haal.
"Hoekom vra jy nie eers vir my nie?" vra die leeu.
"Ek het jou nie gesien nie," werp die seun teë.
Toe byt die leeu die seun dood. Die leeu se drie kinders spring toe
heen en weer oor die lyk en sing:--
Hy steel ons fluitjiesriet,
Hy steel ons fluitjiesriet
Om pyl te maak.
Ons pa het hom verslaan,
Ons pa het hom verslaan;
Sy pa weet niks!
Toe die seun oor sy tyd wegbly, sê die vader aan sy vrou: "Ons seun
is dood; ek kan dit aan my dolosse sien, en ek moet gaan kyk."
Hy kyk in sy seun se hut en kry die brandpyl daarin, en hy stap na
die plek waar sy seun dood lê. Toe hy daar kom, kom die leeu nader
en vra wat die ander man daar kom soek.
"Ek kom fluitjiesriet haal," antwoord die man.
"Nou ja, dan sal ek vir jou ook doodbyt," sê die leeu.
Onderwyl spring die leeu se kinders nog altyd oor die lyk en sing een
streep deur; dog hul verander die woorde nou en dan. Die leeu storm
die man (wat ook kan tower); die man skiet hom met die brandpyl;
toe brand die lywe van die hele gesin ook, en algar vlug.
Die volgende storie, wat groot verwantskap met die juis neergeskrewe
storie besit, is deur mnr. Joseph M. Orpen, Britse Resident
in Grikwaland-Oos, aan die Cape Monthly Magazine van Julie
1874 meegedeel. Dit is 'n vertelling deur 'n Boesman uit die
Maloetie-gebergtes. Dit lui soos volg:--