'N BOESMAN SE OPVOEDING.
OPMERKINGS:--Die besonderhede omtrent hierdie onderwerp het ons
van ou Bles ontvang.
Die vernaamste opleiding wat 'n Boesman-jongetjie ontvang, is om goed
te kan jag; en die meidjie leer, deur haar ma te help, om met hulpelose
kinders om te gaan en om veldkos te grawe, daar dit meestal aan die
meid oorgelaat word om euntjies en wortels te grawe, om veldvrugte
te versamel, en om sulke goed te vang soos paddas, krappe, akkedisse,
en selfs wurms.
Daar bestaan haas geen sedelike opvoeding nie. Daar is hoegenaamd
geen geheime van samelewing wat nie vryuit voor kinders gepraat word
nie. En barbare is glad nie kieskeurig omtrent die onderwerpe van
hulle gesprekke nie. As gevra word waarom hul soms nakend, sonder
'n stuk klere loop, dan vra hul eenvoudig: "Hoekom loop die diere
sonder klere, en waarom moet 'n mens onnodig skaam wees as hy sonder
klere loop?" Maar tog, die Boesman besit 'n seker mate van skaamte
en loop nie heeltemal kaal nie--nes die inboorlinge van Midden-Afrika.
Die kinders leer wat te doen, meer deur aanluister en afkyk--met ander
woorde, hul leer meer deur na-aap as deur direkte onderrig. En wie is
'n groter na-aper as 'n kind? Al wat hulle ouers en ander volwassene
doen, wil en moet hul ook doen. Hulle kry seer en sukkel, maar later
kry hul dit tog op 'n manier reg; en nog later kan hul dit ook net
so goed, en soms beter, as die oues doen.
Daar bestaan by die Boesman haas geen ouderlike tug nie. Dis selde
dat hul 'n kind teen iets onbehoorliks waarsku, en nog minder word die
kinders oor kwaad gestraf. Maar wee die arme kind as sy pa of ma hom
eendag pak om hom 'n ranseling te gee--dan draai dit by die dood om;
dan slaan hul onbarmhartig. Dit gebeur ook dat as die jong of meid
net so groot en sterk as hulle ouers is, dat hulle hul dan deeglik
teen hulle ouers verset en terug slaan.
Die Boesman is eintlik nie 'n twisterige nasie nie, maar hy is
koppig. Hy gee nie in nie, of hy moet amper doodgeslaan wees; dan eers
hou hy op. Daarenteen is hy mededeelsaam; hy sal die laaste stukkie
met 'n ander deel en verwag dat daardie een dieselfde aan hom moet
doen--anders kom daar stry, of hy vat dit eenvoudig uit eie reg. Dit
alles aanskou die kinders, en hulle aap hulle ouers na.
Die wilde diere maak daar niks van om Boesmans op hulle slaapplek te
kom bekruip en op te eet nie. Daarom moet snags vuur gemaak word om
die diere mee te verdrywe. 'n Veldvuur is gesellig solank die slaaptyd
nog nie daar is nie. Ook die gesels en stories raak uitgeput, en dan
is daar niks beters om die tyd mee te verdrywe nie as om te dans.
Pretmaak hou kinders uit die slaap. Hulle let op die fyn passies wat
die dansers uitvoer, en begin, tot vermaak van hulle ouers en ander,
die passies na-aap. Van jongs af begin hul, word daardeur uitstekende
dansers en neem in knapheid toe namate hul opgroei. So word die
voornag en 'n deel van die na-nag met dans deurgebring.
Watter kind is daar in die wêreld wat nie by een of ander geleentheid
probeer het om 'n eie musiekinstrument te maak nie? Boesman-kinders
vorm hierop ook geen uitsondering nie: Hulle maak ook ghoeras en
ramkies, net soos hulle pa en ander dit doen; en spoedig boots hul
die riele na wat die ander speel. Deurdat dans 'n groot tydverdryf by
Boesmans uitmaak, en deurdat dans meer as helfte van sy bekoorlikheid
sonder musiek verloor, so word baie geoefen om musiek te kan speel
om daarmee danspartye te lei. Ook die ghoera ('n boog met een snaar
en 'n stuk vlerkveer, waarop geblaas word) dien om die eensame of
gesellige uurtjies aangenaam verby te laat vlie. Die kinders sien
dit alles en aap dit ook na.
Velle-brei is ook 'n kuns; die kinders slaan ag op die manier waarop
hulle ouers dit doen, en spoedig het elke kind 'n velletjie waaraan
hy besig is, en al doende leer hy om goeie werk te maak.
Op jeugdige ouderdom maak hul reeds kleiosse, of maak wild na met
potklei. Hulle word met die geaardheid van potklei bekend: hulle weet
watter soort bars as dit droog word, en watter soort nie bars nie. Of
spoedig vind hul uit dat potklei bars as dit in die sonskyn droog;
dus plaas hul hulle nat kleigoed in die skaduwee om te droog. Spoedig
aap hul--vernaamlik die meidjies--hulle moeders na om kleipotjies te
maak en kook kamtag hulle kos daarin. Maar die ma help hiermee haar
dogters reg.
Vroeg in sy jeug begin die jongetjie sy pyl en boog te maak en skiet
daarmee paddas en voëls, akkedisse en muise. In hierdie geval mag
die pa, die oupa, of 'n oom hul reg help om 'n goeie boog en pyl te
maak. Dog meestal is dit nie nodig nie. Hulle hoor genoeg oor boë
praat, en hoe al die goeie en slegte puntjies daarvan bespreek word.
Dus, 'n bepaalde skool om iets in te leer, weet die Boesman-kind
niks van af nie. Hy begin uit sy eie te oefen en volg maar die wenke
wat hy uit die gesprekke opvang. Maar tog, hier en daar word hy reg
gehelp. By voorbeeld, hulle wys die kinders watter giftige vrugte,
wortels of bossies te vermy. Ook word hul vertel wanneer sekere soorte
eetbare vrugte of wortels as voedsel skadelik word. Jong kinders word
voor oë gehou dat hul die ou Boesmans en meide moet respekteer. Dog
verder moet die kind maar self sien deur na-aping reg te kom. Ons
kan sê dit is nie veel beter as wat 'n aap sy kind opvoed nie.
Dit is die werk van die kinders om water in doppe van volstruiseiers of
in die maag van 'n springbok aan te dra; ook dra hul vuurmaakhout aan.
Maar bo alles is die vader daarop gesteld om van sy seun 'n goeie
jagter te maak. Hy neem die kind, as dié al goed muise en voëls
kan skiet, met hom saam veld-toe. Hy leer die kind hoe om wild te
bespied. As wild in gesig is, onderrig hy die seun waarlangs te kruip
en hoe om te kruip en dan hoe om die wild te skiet. Het die seun reeds
'n goeie begrip van die jag, dan word hom haarfyn die geaardheid van
ieder stuk wild uitgelê. Vernaamlik word hom planne aan die hand gegee
hoe om leeus, tiere en wolwe te beveg. Deur die geaardheid van ieder
wildding en verskeurende dier te ken, weet hy presies wat te doen
as hy die aanval moet maak; of as die woedende dier op hom aanval,
hoe om hom te gedra en te verdedig.
Ja, dierkundiges kan nog baie by 'n Boesman gaan leer wat die
geaardheid van ieder Afrikaanse dier is; want een skrywer volg die
ander, en so slaan almal die bal soms ver mis as die eerste skrywer
dit gedoen het.