OPMERKINGS:--Hierdie verhaal is deur ou Bles in 1882 aan ons
meegedeel. Ons het net van die Agter-Hantam van 'n opmeting na
ons huis in Calvinia teruggekeer. Ons was pas terug, of ou Bles,
die Boesman, kom ook van sy kuier terug en het weer die nag in die
agterplaas geslaap. Hy het in die aand die volgende verhale vertel.
"Van ek van basie weggegaan het, het ek my ou maats gaan opsoek. Wat
nie weggetrek het nie, is dood; en dié wat ek ontmoet het, is die
jonger Boesmans, wat meestal onder die mense groot geword het; en
hulle weet van die ou dae maar min af. So kan basie ook sien ons ou
opregte nasie van Boesmans raak stadigaan gedaan, en dié wat oorbly,
sal naderhand nie meer ons taal kan praat nie. Al wat ek vir basie
van die ou dae kon uitvind, is die volgende verhale:--
"Daar ver aan die hang van 'n berg is 'n graafplek vir rooiklip. Die
Boesmans van ons tyd het altyd daar rooiklip gaan haal om hulle lyf mee
rooi te maak, om gebreide velle mee te kleur, en ook om mee mense en
diere teen die rotse af te skilder. Die man wat rooiklip het, was net
'n ryk man; want hy het daarmee onder verafwonende Boesmans handel
gedrywe. Hy het daarmee gehandel net wat sy hart begeer het; daarom
het sulke Boesmans groot gewaag om rooiklip by daardie graafplek te
gaan haal.
"Hulle het kom vertel dat in daardie berg baie kwaai towenaars woon en
dat hul soms hard met daardie towenaars oor die rooiklip moes baklei.
"Daar was in vanmelewe se dae--baie, baie lankal--'n ou geslag van
Boesmans. Hulle kon hulle in diere verander en kon ook ander goed
gemaak het. So het hul 'n gat aan die hang van die berg gegrawe;
toe maak hul rooiklip en bêre dit in daardie gat aan die hang van
die berg. Hulle het ook baie ander goed gemaak en dit daar in gate
weggesteek, want hulle woon in daardie berg, en dus kon hul mooi
oppas dat ander nie die goed opmors nie.
"Nou moet basie weet, dis nie somar almal se werk om daar rooiklip
te gaan haal nie. Hy moet man honderd wees. Maar iemand wat verstand
het en wat weet, kan daarnatoe gaan. Want so slim as die ou geslag
plek-plek was, so dom was hul plek-plek weer. Ons Boesmans wat nou
lewe, is baie slimmer om iets uit te dink en te begryp as wat hulle
was. Daardie ou geslag, weer, het baie snaakse dinge kon doen; hulle
het maklik in bome geklim, hulle het vir hulle kan verander, en kon
gevaarlik tower.
"Maar ons geslag, naamlik dié wat verstand het, kan daardie ou
towenaars uitoorlê. Ons het ook towenaars, wat slimmer as die oues
is. Dus, as ons na die graafplek van die rooiklip wil gaan, dan gaan
ons eers na een van ons towenaars toe en vra vir hom kouhoutjies om op
te byt, sodat ons die ou towenaars kan sien, maar hulle kan ons dan
nie sien nie. Dis mos 'n goeie plan hierdie, my basie--nie waar nie,
my basie?
"Ek het nou by 'n ou meid gekuier. Sy vertel haar man het altyd daar
by die berg van die rooiklip gaan haal. Hy het altyd sy eie towergoed
gemaak; dan het hy twee maats met hom na die berg toe meegeneem. Sy
vertel verder:--
"'Eendag stap die drie weer na die berg toe. Toe hul naby kom, begin
hul aan hulle kouhoutjies te kou. Toe was hul veilig. Hul stap nader
en begin toe te klim tot by die graafplek. Hul gooi al die tyd met
klippe orals in die rondte om die towenaars bang te maak. Die towenaars
kan wel die klippe sien val, maar weet nie van waar die klippe kom
nie. Die towenaars word dan bang en vlug in gate. 'n Gaatjie kan nie
te klein wees nie, of hul kan daarin kruip--ek meen die towenaars
kan daarin wegkruip. Hulle kan in 'n muisgat, in 'n skerpioengat, in
'n miergat--ja, in die kleinste gaatjie kan hulle wegkruip. Solank
die een grawe, moet die ander twee nie ophou om met klippe te gooi
nie. As hy klaar met grawe het, dan kom hy weer gooi om 'n ander een
'n kans te gee om vir hom ook rooiklip te grawe; as hy genoeg het,
dan kom hy weer met klippe gooi om die ander wat nog nie gegrawe het
nie, 'n kans te gee om vir hom ook rooiklip te grawe. As hul wegstap
met die sakke rooiklip agter hulle rug, dan slaan hul met stokke en
kieries sover as hul loop, tot hul weer op die vlakte is.
"'Nou, daardie dag toe die drie gestap het om rooiklip te gaan haal
en so met klippe gegooi het, en toe hul daar by die graafplek kom,
toe vlie uit 'n gat bo in die afgegrawe wal 'n witstert-spreeu uit,
en hy gaan op 'n bos daar naby sit en skree. My man sê toe aan sy
twee maats: "Pas op, dis een van die towenaars wat hom in 'n spreeu
verander het. Wie kan die beste skot met die pyl skiet? Dè, hier is
'n kouhoutjie." Die een kou aan die houtjie, kruip nader, skiet op
die spreeu, en tref hom. Hy stap nader, gaan sy pyl haal, maar vat
nie aan die voël nie.
"'Pas was hy terug, of daar kom bo-oor die randjie daar naby 'n groot
mannetjiesbobbejaan; hy wys sy tande, gryns en rek sy oë. Meteens
stap twee knewels van bobbejane agter die voorste aan. Hulle wys ook
tande, gryns en rek oë. My man (sê die ou meid aan Bles) gee vir sy
maats weer kouhoutjies, en al drie span hulle boë--en ieder Boesman
het sy bobbejaan teen die grond. Hulle wag 'n bietjie, en toe stap
hul nader om hulle pyle te gaan haal, wat die bobbejane self uit
hulle lywe getrek, maar weggesmyt het. Die bobbejane sit nes mense
en huil en trek self hulle eie ingewandes uit; en toe sterf hul. Want
die spreeu het hom nou in 'n bobbejaan verander en het toe twee ander
maats geroep. Die drie Boesmans het toe maar gou die rooiklip gegrawe
en haastig gemaak om terug te gaan.
"'Daar onder in die vlakte kry hul 'n slang, en toe weer 'n slang,
en toe weer 'n slang, en ieder maal kry hul 'n slang. En elkeen het
hul doodgemaak om te wys dat hul sterker is as die ou towenaars
en te toon dat hul deur die ou towenaars nie gepla wil wees nie;
want merk die ou towenaars dat iemand nie teen hulle kan opkom nie,
dan pla hul eers regtig.'
"Ja," sê ou Bles hierop, "nou kan my basie sien dat al wat 'n Boesman
wil hê, kom hy maar swaar aan; maar tog, ons is en bly 'n plesierige
nasie."