'N BOESMAN-WEESKIND.
OPMERKINGS:--Hierdie verhaal is 'n voortsetting van die vorige
(No. 93).
Betjie, die Boesman-weeskind, het haar vader (die broer van 'Kabbo)
op die volgende manier verloor:--Die vader is deur iemand gedood
wat kwaad vir hom was, terwyl die vader nie vir die ander man kwaad
was nie. Hy het na 'n ander plek gaan kuier en het vyf nagte van sy
famielie weggebly. 'n Man wat by die plek was waar sy vrou woon, het
die kind intussen kos gegee; maar die kind huil gedurig oor haar eie
vader. Die man word toe kwaad vir die vader, omdat hy van sy vrou en
kind wegbly en omdat die kind gedurig oor hom huil. En toe die vader
terugkom en die nag by sy vrou in die hut gaan slaap het, kom daardie
man vroeg in die oggend en steek die vader dwarsdeur die hut met 'n
Kaffer-asgaai dood--'n asgaai wat hy op Witberg gekoop het. Toe hy
in die hut dood lê, het almal hom so verlaat--tot sy vrou--op raad
van die moordenaar; dus het die ongedierte sy lyk verslind.
Betjie se moeder sterf toe kort daarna aan 'n inwendige siekte. Sy
was nie begrawe nie, want tydens haar siekte het sy net by haar
'n jonger suster gehad wat ook aan dieselfde siekte gely het.
Die suster was swak en het met baie groot moeite die kind na die plek
van 'n famielielid oorgebring, wat ver weg geleë was. Van daardie
plek af kan 'n mens die vuur van 'Kabbo se plek in die aand sien
brand. Sy het met die kind daarheen aangesukkel, en sy ontmoet vir
'Kabbo halfpad. Hy is egter eers na die dooie moeder haar hut gegaan
om hul daar te soek, en het toe by daardie geleentheid die bene van
die dooie moeder daar sien rondlê--want haar lyk was net deur die
jakkalse verslind. Hy het in haas sy huis verlaat toe hy die tyding van
die moeder se siekte en dood van die moeder haar suster ontvang het;
want hy was bevrees dat die suster ook langs die pad sal sterwe en die
kind daar hulpeloos, lewendig en spelende by haar lyk laat, sodat die
jakkalse die kind lewendig sou verslind. Hy het sy huis vroeg in die
oggend verlaat en het die plek waar die moeder dood lê eers die aand
bereik. Hy maak toe 'n hut 'n entjie daarvandaan om in die nag daarin
te slaap. Die volgende oggend het hy die kind daar by die famielie
gaan soek. En dis toe dat hy die siek suster op pad ontmoet het. Hy
gaan toe weer met die kind na die hut wat hy laas gemaak het, slaap
die nag weer daar, en bereik sy eie huis eers die aand van daardie dag.
'Kabbo gaan voort om sy storie te vertel:--
"Ek het haar (Betjie) toe by my gebring; ek was toe nog 'n flukse
jong man en kon vinnig hardloop om te jag. En ek dink sy kan by my
oorvloed van kos kry, wat ek aan haar kan verskaf. Sy sou dit dan
eet. Sy sou dit saam met my eie kind eet, wat toe nog die enigste
was. Hulle sou saam opgroei en voor my uitgaan om te speel, daar
naby die hut; want albei eet my wild. Ek was vlug om te hardloop;
ek voel dat ek met hardloop nog baie goed kan inloop.
"Dan hardloop ek om 'n haas te vang; ek bring dit dan huis-toe in
my knapsak onderwyl die son warm is. Ek het geen springbokke gesien
nie, maar net 'n haas. Ek sien 'n pou en skiet dit. Ek steek dit in
my knapsak en bring dit huis-toe. My vrou pluk die vere tuis af. Sy
kook dit in die kleipot, dat ons sop kan eet.
"Die volgende dag gaan ek hase jag; ek loer orals in die skaduwee van
die bossies, ek skiet, die haas spring op en hardloop weg om verderaan
te vrek; ek tel dit op, sodat die kinders kan eet, want die springbokke
het weggetrek. Daarom moes ek hase vang deur agter hulle te hardloop,
dat hul deur die son se hitte kan dood val. Hulle word dan deur die
son doodgebrand; want ek weet dat die haas iets is wat nie water drink
nie. Dit eet net droë bossies en lek die dou wat daarop is. Daarom
bly die haas dorstig. Dit bly in die warm somer ook sonder water, daar
dit glad geen verstand van waterputte of damme het nie; so gaan hy nie
drink nie. Hy bly so en lê in die warm son in die koelte van bossies.
"Daarom hardloop ek agter hulle as die son warm is; sodat die son,
brandende, hulle vir my doodmaak; dat ek hul, dood deur die son,
kan eet; want dis mos ek wat hul rondgeja het, en hulle het in vrees
vir my gevlug. Uit dors en vrees gaan die haas lê om dood te gaan;
want hy het droog geword. Al die tyd het ek nie opgehou of gestap nie,
anders sou hy omgekyk het en dan van my weggehol het. Hy gaan lê om
te sterwe, want dis afmatting wat die haas uitgeput het. Die grond
was warm en het ook sy voete gebrand.
"Ek stap nader en tel die haas op en steek dit in die pylsak. Nou
gaan ek weer om 'n ander te soek. Dié een spring ook op en hol in die
son. Hy is bang en hol in die warmte rond. Ek agtervolg dié een ook en
hol tot hy ook deur die sonhitte dood val. Ek gaan ook dié haas optel,
breek sy vier bene en steek hom ook in die sak. Ek gaan dan rondom in
die bossies sy maat soek; want dit lyk vir my of hierdie haas getroud
kan wees. Ek soek nou na die wyfie. Ek haal die sak van my skouers
af dat ek vinnig kan hardloop, en lê die sak neer en vang hierdie
hasie ook. Ek bring die buit huis-toe, sodat ek, my vrou en die twee
kinders daarvan kan eet. Want ek is bang dat kambro die kinders sal
doodmaak; want in tyd van droogte gee dit skerp pyne in die kop en
'n gesuis in die ore.
"Die reën moet eers val, dan gaan ek volstruise jag. Hulle soek dan
water langs die bedding van die Harrivier en gaan dan drink. Ek gaan
voor die tyd en wag die volstruise daar af en bekruip hul in die
rivierbedding. Ek moet dan plat op my buik lê om hul te skiet. Die
volstruise wat na die weste gegaan het, kom terug om die nuwe water
te drink."
Ná dit spreek 'Kabbo sy verlange uit om van Kaapstad na sy woonplek
terug te keer. Hy wag nog vir die beloofde paar stewels, wat sterk
moet wees, want die son is warm en maak die pad ook warm. Sy woonplek
lê ver. Hy wag net op die terugkeer van die maan om te vertrek. Hy
sal sy huis bereik as die bome droog is en die blomme op die weg
daarheen verdor het. Hy sal nie eers na ander plekke toe gaan nie,
maar reguit huis-toe. Daar sal hy op die beloofde geweer wag; want
'n roer is iets wat vir 'n ou man sorg en hom nie honger laat ly
nie. Dit was net deur pure honger dat hy gedrewe was om skape te
steel en te slag, en so in die tronk gekom het. Maar met 'n roer kan
'n mens in winderige en bitter koue weer skiet, en dan het hy altyd
kos in sy huis en hoef dan nie ander se kos te eet nie.