BOESMANS IN DIE BREEKWATER.

OPMERKINGS:--Aangesien ons van ons eie nie genoeg gegewens omtrent

hierdie onderwerp besit nie, so neem ons die vryheid om oor te

neem wat mej. Lucy C. Lloyd in dr. W. H. I. Bleek se "Specimens

of Bushman Folklore" meedeel.

Soos blyk uit die vorige storie (No. 91) en uit andere, het die

Boesmans hulle baie aan die wette vergryp. Vir moorde is hul opgehang;

maar vir veediefstalle is hul na die breekwater aan Kaapstad gestuur.

Dr. W. H. I. Bleek was 'n Duitse taalgeleerde, wat aan Mowbray,

by Kaapstad, gewoon het. Toe die geleentheid daarvoor gunstig was,

het hy verlof van die Kaapse Goewerment gekry om van die Boesmans

wat in die breekwater was en wie se tyd amper verstryk was, by hom

aan huis te neem en om alles aangaande die taal te leer wat daar te

leer is. Hy kry toe 'n ou Boesman met die Boesman-naam van 'Kabbo,

wat ook onder die naam van Jantjie bekend was. Hierdie Boesman word

toe die leermeester van dr. Bleek en sy niggie, mej. Lucy Lloyd. So

het die ou skepsel aan die een kant met sy kwaaddoen en aan die ander

kant met sy goeddoen veel tot nut gewees om kennis aangaande die

Boesmantaal vrywillig mee te deel. Sy eie storie hoe hul gevang is,

is ongeveer soos volg:--

"Die Kaffer-poliesie het vir my, my seun en my dogter haar man

vasgeknoop toe ons besig was om aan 'n springbok te eet. Ons was drie

wat gebinde was, en so gebinde is ons na die magistraat geneem. Hy

het toe met ons, en ons het met hom gepraat.

"Ons was in die tronk, en hulle het ons bene in die blok gesit. Ons

het só met ons bene in die blok moes slaap; want ons was in die huis

van vullis. Daar het ook Korannas gekom. In die tronk het ons van die

magistraat se skaapvleis gekry om te eet. Toe stuur hul ons voort;

ons vrouens het meegegaan. Op pad het hul ons skaapvleis gegee. Ons

kom toe by Victoria-Wes. Ons moes toe daar aan die pad werk en moes

groot klippe rol. Ons het toe ook met grond gewerk; ons moes dit met

kruiwaens wegstoot. Ook het ons grond op waens gelaai en moes dié

trek, onderwyl ander mense langs ons loop. Ons gooi die grond op

'n plek uit en stoot die wa terug om weer grond te gaan haal. Die

Korannas werk met ons saam.

"Van daar is ons voortgestuur. Ons arms was aan 'n ketting gebind;

ons moes met die wa meestap. Ons kom toe by Beaufort-Wes aan. Ons is

toe weer losgemaak. Ons kry toe tabak van die magistraat, en ons stap

rook-rook uit skaapbene padlangs. Dit het gereën toe ons in Beaufort

se tronk geslaap het.

"Die volgende dag is ons weer gebinde. Ons moes toe deur die rivier

deur die water stap. Die wa het voor gery, en ons moes agternastap. So

het ons aangehou tot ons by die breekwater gekom het, en werk toe daar.

"'n Witman het ons geneem en in die nag in die trein geplaas. Ons

was vroeg in die trein. Die trein hardloop toe en bring ons tot in

Kaapstad. Hulle plaas ons toe in die Kaapse tronk, en ons was baie

moeg. Ons en die Korannas het toe somar in die dag gelê en slaap."

Boesman-Stories, Deel 4. Gemengde Vertellings, mees van 'n Awontuurlike Aard · 第 40 / 58 题