"Ek was 'n jongeling van omtrent twintig jaar, en my vader het in
die ou Kolonie suid van Grootrivier met sy vee op die ope gronde
rondgetrek. By een geleentheid gee die waters op, en ons was verplig
om ons staning nader na Grootrivier te verplaas. Juis te wyte aan die
Boesmans was ons skaars aan wagters om met die vee te help. Die pad
wat ons moes trek, was sanderig en swaar vir die osse om die wa deur
die woeste veld te trek. Oorlede pa was toe net siekerig; dus moes
ek en my broer van agtien jaar oud eers met die trek help om dit op
die nuwe staning te kry. Dan moes ons dadelik te voet omdraai om die
wagter met die skape deur 'n ruie plaat bosse te help. Die orders was,
as hy eerder by die ruie plek as ons kom, dan moet hy wag, sodat ons
hom daar deur kan help. Wonderlik, ek was jare daarna weer op dieselfde
plek en het dit amper nie meer geken nie: die groot digte bosse was
uitgedun. Of dit opsetlik deur die veeboere uitgebrand is, weet ek nie.
"Wel, ons sien toe die skape voor hul deur die bosse was. Ons stap
daarheen. Die wind waai na ons kant toe, dus kon ons op 'n afstand
iemand hoor benoud skree; maar dan volg daarop 'n uitbundige geskater
en harde gelag. My broer en ek kon die ding nie begryp nie; ons stap
in die rigting en klim agter 'n sandduin uit om tog te kyk wat al
daardie pret mag wees.
"Bo-oor die duine tussen die fyn bossies deur loer ons. Ons sien die
veewagter lê 'n tree of wat van 'n vuur, hande en voete gebinde. Drie
Boesmans sit om die vuur vleis te braai. Af en toe vat een 'n stomp
vuur en brand daarmee die wagter onder sy voete of ander dele van
sy liggaam--en dis vir sy pynlike geskree wat hul so danig lag! Die
wrede moordenaars sit met hulle pylkokers agter hulle rug, dog hulle
boë lê op 'n bossie. Ek en my broer maak toe plan wat om te doen.
"Die digte bosse was te ná; ons sou die drie moordenaars nie in hande
gekry het nie. Ons roers was met lopers gelaai, want daar was baie
duikers in die veld. Ons besluit toe om om die duin nader te kruip en
dan uit te roep om oor te gee; wil hul nie, dan pleister ons hul met
die lopers. Toe ons hul mooi onder skot het--ek het twee oormekaar,
en my broer korrel op die ander--, toe roep ons in Boesmantaal uit:
'Gee oor, of ons skiet!' Hulle skrik en vlug. Ons roep: 'Staan!' en
vuur toe. Twee val. Ek was weer klaar met die ander skot, en so was
my broer (want ons het dubbelloopgewere gehad); ons vuur, en daar
lê die derde morsdood. Twee was dadelik dood; dog een het nog 'n vyf
minute gelewe, maar is toe ook dood.
"Maar dit was 'n jammerte om die brandwonde aan die wagter te sien;
sy klere was ook plek-plek aan brand sonder om te vlam. My broer het
teruggehardloop om hulp. Ons het die Boesman na die staanplek vervoer
en hom daar verpleeg en gedoen wat 'n mens se hand kon doen; maar
die volgende dag is ons getroue Boesman-veewagter aan 'n smartlike
einde gekom."