"Wag, neef Heink, behou jou rede; laat ek eers vertel wat ou Bamboes
êrens in ons buurte gewaag het, en dan kan jy maar klaar end uit
vertel.
"My ou oom het eendag net van 'n ver rit met sy flukse bont ryperd
tuisgekom. Hy het die perd gelos om veld-toe te gaan. Hy het toe 'n
ander ryperd geneem om sy vee in die buiteveld te gaan beskou. Daar
ver in die veld, toe hy om die punt van 'n randjie kom, sien hy
'n Boesman met sy bont ryperd ja of die dood agter hom is. Hy merk
onraad en gee sy perd die teuels en agtervolg die Boesman. Gelukkig,
die bont perd was nog baie moeg; anders sou die Boesman daarmee skoon
van my oom weggeja het. My oom wen, maar nie so vinnig as hy verlang
het nie. Dit sou nog langer geduur het om die Boesman in te haal,
maar gelukkig trap die perd in 'n erdvarkgat, slaan neer, en die
Boesman val dat die stof so trek. Die eerste wat die Boesman doen
toe hy van die grond opspring, was om na sy pyle en boog te gryp,
en hy gaan agter die perd reg staan en loer skrams voor die perd se
bors verby wat my ou oom nou wil maak.
"My ou oom kon op sy skot reken; maar nie noudat hy so bewe van
boosheid en ontsteltenis nie; hy het dus nie gewaag om 'n skrams skot
op die Boesman te vuur nie. So na wou hy ook nie ry om onder pylskot
te kom nie. Dus staan hy op veilige afstand die Boesman aan te kyk,
en die Boesman loer voor die bors van die perd verby om te kyk wat die
oubaas wil maak. My ou oom se omry sal niks help nie, want die Boesman
draai die perd altyd voor hom. Dié plan het die Boesman gekry om die
agtermiddag mee om te maak. Geen hulp daag op nie. My ou oom begin toe
voor en agter die perd stofskote in die grond te skiet om te kyk of
die perd nie wil skrik en weghardloop nie; maar die vergalgste Boesman
klou nes 'n bloedsuier aan die perd vas. Wat eindelik daar by die perd
gebeur het, weet my oom nie. Of die perd die Boesman gekap of getrap
het, kan hy nie sê nie; want die perd was 'n bietjie wys. Die perd kom
los en spring weg. My ou oom was klaar om die Boesman met die koeël
te pleister; dog die skelm het soos rook verdwyn--vermoedelik in die
erdvarkgat gekruip waarin die perd getrap het. Toe die bont perd buite
pylskot draf, het my ou oom hom gevang en met hom staanplek-toe geja.
"Maar watter soort jaery was dit tent-toe? Want my ou oom moes
gedurig omkyk of die Boesman hom nie agtervolg nie. Maar gelukkig
het hy die staanplek veilig bereik. By ondersoek na die skelm blyk
dit dat dit niemand anders was nie as ou Bamboes wat weer na daardie
buurte getrek het om daar kwaad te doen. Hy sou seker die bont perd,
toe hy weghol, doodgeskiet het, was dit nie dat die perd te ver was
toe Bamboes veilig in die gat was nie."
Hierop vervolg oom Heink weer sy verhaal omtrent Bamboeskop en
vertel:--
"Daar kom 'n dag wanneer die fynste skelm betrap word. Bamboes was
weer met sy skaapstelery besig, en daar word hy betrap. Die mense
spoor hom op en vind uit dat hy posiesie in 'n klipgat in 'n koppie
gevat het. Hulle kon sien uit watter gat die pyle geskiet word;
want teen die sonlig kan 'n mens 'n pyl sien blink en trek.
"Hy is oor en oor gesoebat geword om maar oor te gee; maar alles
tevergeefs. Hy reken op sy krygsmanskap: hoeveel maal was hy nie
in net so 'n gevaar nie, en toe kon hul aan hom niks doen nie;
en sou hul nou iets aan hom kan doen? Nee, hy sal sy man tot die
bitterste end toe staan. As geoefende krygsman verstaan hy die kuns
om sy geskut nie in die wind weg te skiet nie. As hy afhaak, is dit
'n baie skrams skot; want die burgers wat hom in die gat vaskeer,
het baie fyn krygslis gebruik om hom daartoe te kry om sy pyle weg
te skiet. En dan, hulle roers skiet verder as 'n pyl kan raak.
"Wel, 'n heftige bombardement word op die klipgat gerig. Onder dit
alles kry Bamboes nog kanse om te skiet. Hy het hom soos 'n leeu
verdedig. Maar naderhand raak dit stil, en die burgers vermoed
dat Bamboes nou 'n doodskot gekry het. Versigtig stap hul nader,
agter beskerming van seker toestelle. Hulle vermoeding was maar te
gegrond--Bamboes is 'n lyk.
"En toe hul sy lyk ondersoek, blyk dit dat hy 'n koeël voor die kop
gekry het. Die velle van sy voorvinger en duim was deur die boogsnaar
glad weggeskeur. En toe het hy die boog met sy voete vasgeskop en
die pyl met sy tande afgetrek. En dit het ook sy voortande uitgepluk.
"Hy lê so dood sonder 'n pyl om verder mee te skiet!"