OPMERKINGS:--Hierdie verhaal is aan ons deur mnr. Heink Vissagie,
Zooverbij, Calvinia, en ander in 1882 vertel.
Die Boesman, as kind van die natuur, wil volkome vry wees. God het hom
vryheid gegee, en vry wil hy sterwe. In die strewe om vry te wees,
moet hy vir self bestaan hard veg. Van gerief en gemak weet hy min
af. Slaan maar ag op hoe hy gehuisves is; en dan moet ons erken dat
die meeste voëls 'n beter begrip van gerieflike huisvesting besit as
'n Boesman--wat tog 'n baie hoër wese is as 'n voël. Die voëltjies
bou mooi nessies en veer dit sag uit om warmte aan hulle kroos te
besorg. Maar dan weer, nes die voëls, slaap die Boesmans net waar hul
'n skuiling kan vind; en die voëls ook het gedurende die winter geen
nessies nie.
Maar wag, die Boesman maak tog 'n soort van skuiling--dog baie
ongerieflik, aangesien hy 'n mens is. In warm en mooi weer, as die
Boesman op jag is, slaap hy agter 'n bos of klip en het die sterrehemel
vir 'n kombers. Maar as hy woon, dan verkies hy 'n spelonk of grot
bo alles. Hy is dan tevrede om voor die wye opening bosse en takke te
plaas, in plaas van om 'n stewige muur van grond of klip te bou. Van
boukuns weet hy absoluut niks af nie. Sy geliefkoosde huis, egter, is
'n skuiling van matjies gemaak. Die matjies maak hy van matjiesgoed en
vervoer dié orals met hom mee as hy op trek is. Teen sononder breek hy
takke, plant dié in die grond, sprei die matjies daaroor, en maak dit
op 'n manier vas. So 'n hut is glad nie bestand teen swaar reëns nie;
dit lek dan soos 'n gieter.
Kan hy geen takke kry om in die grond te plant nie, dan grawe hy
'n gat in die grond net so groot dat hy daarin opgerol kan lê. Hy
neem los klippe of klein bossies en maak om die gat 'n skermpie. Op
'n manier span hy die matjies oor die skermpie en kruip daaronder in
as herberg vir die nag. So maak elk afsonderlik. Dog as hul spelonke
kies om in te woon, dan slaap almal daarin saam.
'n Boesman mag 'n klein klipgat vir tydelike verblyf kies, maar nooit
vir 'n vaste woning nie. Van dié soort vind ons baie in die veld. In
sommige tref ons ook van hulle skilderinge aan. Die grootste nut,
egter, van sulke klein gate is om in tyd van gevaar in te vlug,
waaruit hul dan met die gifpyle kan skiet. So het baie van sulke
soort klipgate 'n wonderlike geskiedenis aan hulle verbonde.
Ons persoonlik was gevra om die plaas Zooverbij aan die Hantamrivier
op te meet. Met die steek van 'n pylvlag op 'n seker koppie, deel
die eienaar ons mee dat die naam van die koppie Bamboeskop is; en
voor hy ons die besonderhede gee waarom die naam so gekies is, wys hy
'n klein klipgrot aan aan die sy van die koppie en vervolg:--
"In vroeër tyd het hier in hierdie buurte 'n ou Boesman met die naam
van Bamboes rondgedwaal; hy was 'n beroemde veedief en 'n nog beroemder
boogskut. Hy was een van die soort wat so moeilik was om in hande te
kry as 'n dassie in 'n skurwe klipkrans. Die poliesie het al jagte op
hom gemaak, maar kon hom maar nooit in die hande kry nie. Die base van
die gestole vee het alle middels aangewend om sy verblyf uit te vind,
maar alles verniet: hy weet sy spore te vernietig; en dan, vandag is
hy hier en môre is hy daar."