Ek was skaars sestien jaar oud, toe kom daar berig van die dorp
Piketberg dat ons maar self 'n kommando moet vorm om die Boesmans
te gaan vang of skiet; want die Goewerment kon ons daarmee nie help
nie. My oorlede vader was toe net veldkornet van ons wyk, distrik
Namakwaland. Ek moes toe orals rondry om die burgers op te kommandeer
om deel aan hierdie veldtog te neem. Die volgende week vertrek die
kommando na Boesmanland toe. Die trek het uit verskeie waens met kos,
kooigoed, gereedskap, en nog ander benodigdhede, soos ammuniesie en
roers, bestaan.
Die Boesmans het in die laaste tyd in daardie dae baie astrant
geword. Hulle kom met klein klompies en ja voor die neus van die
wagters klompies vee weg. Vandeesweek is dit hier, en ander week is
dit weer daar; so is een plaas ná die ander stilletjies en onverwags
verras en beroof, en wel op so 'n skelm manier dat 'n witmens hul
nooit sien nie. Dit het van kwaad tot erger gegaan, sodat die rowery
nie meer kon toegelaat word nie; en ons moes maar met toestemming
van die Goewerment trag om 'n einde aan die strooptogte te maak. En
ons het dit vir 'n tyd reggekry.
Ons het by ons 'n paar mak Boesmans gehad wat by ons groot geword
het; hulle was in my tyd al groot volk en het die name van Geswind en
Volmink gehad. Hulle was baie getrou in hulle diens en fluks daarby. Pa
stuur hul nakend en gewapen met pyle en boog vooruit om uit te snuffel
waar die trop wilde Boesmans hou. Om hierdie rede moes hul vir hulle
ook as wilde Boesmans voordoen, alles uitpluis, en weer kom vertel;
dan kry elkeen daarvoor 'n jong vers as beloning.
Toe ons by Namies al verby was--ek meen dit was die sesde dag ná ons
vertrek--, toe kom ons twee spioene die aand terug. Hulle was waarlik
vaal van die honger; want hulle kon nie met al die soorte kos van die
Boesmans klaarkom nie, en hul moes ook baie hardloop om weer veilig
te wees. Hulle bring die berig terug dat die wilde Boesmans skuil in
'n spelonk onder 'n krans in 'n klipkoppie. Ons ruk toe met alle
mag op daarheen. Die plek was nie alte ver van Grootrivier af nie;
dus kon ons genoeg water kry as die affêre lank mag duur.
My pa verdeel die 200 man in twee afdelings: Die een afdeling moet
ver omry en die kop van Grootrivier se kant af nader; die ander moes
van die suidekant opruk, waardeur die kop omsingel word. Onderwyl
kom sommige van ons jongkêreltjies en volk met die waens aan. Ons
trek toe omtrent 'n 500 tree van die kop af in laer. Daarop word 'n
soort van krygsraad gehou om 'n werkplan vas te stel, sodat elkeen
kon weet wat te doen en wat nie te doen nie.
Aan die westekant van die koppie was 'n krans met die klipgate
daarin; aan die oostekant om en suid was die koppie ru en met groot
ysterkliprotse bestrooi; laer op die voet was dit met doringbossies
begroei. In daardie hol krans was na skatting 'n sestig Boesmans
woonagtig.
Die krygsraad kom tot die besluit dat die enigste manier om die
Boesmans in hande te kry, is om die koppie nag en dag met wagte te
omsingel en sodoende hul met honger en dors tot oorgawe te dwing.
Dit is 'n bekende feit dat 'n Boesman in 'n geveg nooit te voorskyn
sal kom nie: sy wapens van verdediging is nie daarna nie; want hoe
ver kan sy boog en pyl skiet? Daarom moet hy sy vyand naby laat kom
om hom met 'n betreklik stomp harpoen die doodskot te gee. En dan
besit hy hiervoor so baie fyn planne. Ook as 'n Boesman nog maar net
een gifpyl in hande het, dan is hy nog gevaarliker as die giftigste
slang. En misskiet--! Dit doen en kan hy nie.
My oorlede vader sorg toe dat omtrent twintig wagte die kop gedurig
omsingel en bewaak. Hulle word natuurlik op gereëlde tye deur andere
afgelos; dus was dit haas onmoontlik vir die Boesmans om in die dag
of nag te ontvlug. Maar wat hul gedoen het, sal ons later hoor.
Daar was gelukkig baie vyeboshout om gedurende die nag die groot vure
aan gang te hou; en dit was die werk van ons jongspan om hout aan
te dra en water uit die Grootrivier aan te ry. Verder gaan ons jag;
want daar was 'n menigte duikers, steenbokke en patryse. Ek alleen
het in daardie tyd ag duikers geskiet, en praat nie van die menigte
wat my maats omgekap het nie. Dit het toe eintlik my werk geword
om duikerboudjies in te sout en droog te maak. Ek het later goed
'n vyftig drooggemaakte wildsboudjies om huis-toe te neem.
Dit was vir my 'n baie lekker tyd daar--ek kan amper sê die lekkerste
tyd wat ek op 'n vreemde plek deurgebring het.
Die omsingeling duur langer as ons verwag het; dus het die grootmense
ook met hulself opgeskeep geraak; want hulle kry niks anders te
doen as pyp-rook, pruim en koffie-drink nie. Later het dit op hoog-
en vèrspring uitgeloop; verder was dit resiesloop, jukskei-gooi,
tou-trek, en nog meer ander speletjies. Die tyd is ook nog kort gemaak
deur stories te vertel, en wel soms daar waar gerook en koffie gedrink
word, of saans om die veldvuurtjies. Toe kon 'n mens stories van die
ou dae hoor--stories wat al amper vergeet was. Ja, sulke tye maak
'n wonderlike indruk op 'n mens: jy hoor stories wat jou bybly tot
die laaste dag van jou volle verstand. 'n Baasspelerige man word jou
vyand, en daar maak jy by sulke geleenthede vrinde wat jy nooit weer
vergeet nie, en wat jy miskien nooit weer sien nie.
Maar wat die wonderlikste van die hele gedoente is, is die stilte
wat daar onder die hol krans heers. 'n Mens hoor geen kind huil of
skree nie. En as die twee spioene nie die versekering gebring het
dat hulle (die Boesmans) daar is nie, dan sou niemand geweet het
dat hul wel deeglik daar is nie, en wel ten getalle van ongeveer
'n sestig. En dis lig te begryp dat die vraag oor en oor gestel is:
"Maar waar is hulle? Hoekom sien ons niks nie?"
(Word vervolg onder No. 82.)