Hy roep ewe boos uit: "Maiskarries! waar is my perd?"

'n Terggelag van hulle maak oom Koos nog boser. Hy knyp sy oë toe,

byt op sy tande vas en wou net met geweld vorentoe om 'n pad met sy

vuis deur hulle te slaan--laat kom wat wil, dink hy.

Toe gryp een van die Boesmans hom aan die arm en roep uit: "Duusman,

pas op 'n bietjie! Ek is T'konnie, wat van Duusman uit die Hantam

weggeloop het. Toe Duusman die perd daar water gegee het, het ons

naby gelê; en ek het Duusman somar geken. Die perd ons wil eet,

maar Duusman ons wil nie doodmaak nie, as Duusman vuur gee en pad vat."

Oom Koos, wat hoegenaamd geen genade van die Boesmans verwag het nie,

is nou woedend oor sy perd, verwonderd om die afgedankste T'konnie hier

te sien, en bly dat daar kans is vir sy persoon om sonder liggaamsleed

los te kom. Hy ken die Boesmans te goed en weet dat dit nutteloos is

om vir die lewe van sy getroue perd te pleit. Hy gee toe sy tonteldoos

en vuurslag aan T'konnie, waarop hulle in die duisternis verdwyn.

Aan slaap is nou vir oom Koos nie meer te dink nie, want hy moet nou

verder voetslaan. Sal hy omdraai om hulp te gaan soek om die rowers

agterna te sit? "Nee," dink hy, "wat sal dit help; want as die son môre

opkom, dan het hulle reeds myle en myle ver die wêreld ingevlug en kan

dan Byesteek-se-berg bereik het, of nugter weet watter plek anders."

So vinnig as hy planne maak, verwerp hy die een ná die ander. Hy

besluit toe ten laaste om maar voet te slaan in 'n noordoostelike

rigting na Sakrivier toe. Daar sal hy wel mense kry. Gelukkig dat

Boesmanland kort tevore reën gekry het; dus was daar orals in die veld

ope waters. Ook het hy by hom nog 'n paar stukke droë vleis gehad

wat die Boesmans, as 'n uitsondering op hulle gewone handelwyse,

aan hom gelaat het.

Oom Koos sit toe sy reis in die woesteny voort. Die son oordags was

baie warm; die hitte daarvan en die angs vir Boesmans in die nag,

sonder om van ander gevare eens te praat, het só op sy senuweegestel

gewerk dat hy afgemat en half buite sinne van die vermoeienis by

Sakrivier aankom, alwaar hy twee trekke vind. Hier het hy uitgerus

en het sy reis met 'n geleende perd na Nylersdrif voortgesit, waar

hy eindelik veilig aangeland het; en toe was hy by sy vee.

Oom Koos was nie te lank op Nylersdrif nie, of 'n klomp van sy

lammerbokke raak weg. Hy pak die ou geweer van sy kneg en stap die veld

in om die bokke te gaan opsoek. Sodoende klim hy op een klipkoppie ná

die ander om 'n ver blik oor die veld te kan werp; maar hy gewaar die

bokke nie. Eindelik was hy al baie ver van sy veewerf af. Weer klim hy

'n koppie uit en sien hierdie slag 'n paar bokke teen 'n skurwe rand

wei. Toe hy nader kom, raak die bokke opeens aan hardloop, en daar

sien hy 'n paar Boesmans tussen rotsblokke inspring en wegkruip. Die

roer was gelaai, en onverskrokke storm oom Koos die plek. Hy klim op

'n groot rots wat 'n diep skeur aan die onderkant het. Hy kon niks

bespeur nie; maar net toe hy wou afklim, gons 'n pyl vlak voor sy neus

verby. Dit verskrik oom Koos nog nie. Hy het gesien dat die pyl uit

die klipskeur onder hom uitgekom het; dus trek hy hom terug, maak sy

hoed voor aan die tromp van die roer vas en laat dit versigtig sak om

die indruk te verwek dat dit hy is wat in die skeur loer. Klaps! vlie

'n pyl deur die hoed. Maar op dieselfde oomblik was oom Koos klaar. Hy

druk die tromp van die geweer diep in die skeur, los die skot, en

hoor iets binnekant 'n geluid maak. Nou begin hy regtig te loer. Hy

oortuig hom dat hy raak geskiet het; hy klim toe af tot by die skeur

en sien dat hy een van die skurke doodgeskiet het. En dit was niemand

anders as T'konnie nie. Maar die ander diewe was nêrens te kry nie.

So gaan dit. T'konnie het eenmaal die lewe van sy vorige baas gespaar;

maar die twede maal wou hy dit nie doen nie--net soos 'n half mak

Boesman is wat weer na die wildes teruggegaan het.

Al wat oom Koos van sy bokke teruggekry het, was net 'n paar; die

ander was geslag en opgeëet.

Boesman-Stories, Deel 4. Gemengde Vertellings, mees van 'n Awontuurlike Aard · 第 9 / 58 题