OPMEKINGS:--Mnr. E. de Roubaix het hierdie verhaal ook aan ons
gestuur. Dit handel oor twee awonture van oom Koos met Boesmans. Sy
seun leef nog, en hy staan in vir die waarheid van die feite soos
hier meegedeel.
Dit was in die jaar 1840. Boesmanland van Calvinia af tot na
Grootrivier was toe nog baie woes, vol wild, ongedierte en Boesmans. In
hierdie jaar onderneem oom Koos 'n rit te perd uit die Hantam van sy
plaas naby Calvinia na Nylersdrif aan Grootrivier, alwaar 'n veepos
van hom was. As 'n mens in daardie dae 'n reis met 'n wa vol kos en
met sy roers daarop onderneem het, sou die onderneming nie so gevaarlik
gewees het nie; maar begryp, oom Koos gaan te perd en ongewapen.
Die derde dag ná oom Koos van sy huis vertrek het, kom hy op die
teenswoordige Sout-Dwaggas. Dit is 'n onoorsienbare kaal vlakte,
bedek met langbeen-boesmangras. Hy en sy perd voel albei baie moeg
van die vermoeiende rit. Hy besluit om daar af te saal, te vernag,
en om maar daar goed uit te rus tot vroeg in die oggend; dan meen
hy weer voort te gaan. Ná hy afgesaal het, gee hy sy perd water in
'n kolkie en gaan toe sy getroue dier tussen die gras span. Hy het
nog biskuit en biltong by hom gehad en het die droë bete lekker
geniet. Daarna sny hy gras en maak vir hom 'n sagte bed, want die
skemering begin toe al toe te slaan. Dit het hom nie lank geneem om
op sy grasbed langs die kareedoringbos aan slaap te raak nie.
Ná hy omtrent twee uur geslaap het, word hy deur 'n geweldige geskreeu
wakker. Hy lê nugter wakker en luister, want dit het vir 'n rukkie
opgehou. Nie te lank nie, of daar kom dieselfde geluide van "hôgim,
hôgim"--kompleet nes bobbejane wat daar skree. En dit nogal kortby
oom Koos. Half verskrik en besluiteloos bly hy eers doodstil lê. Dog
die geskreeu word al harder en woester. Vererg en boos spring hy op,
om te sien dat hy deur 'n klomp Boesmans omsingel is. Hy word kwaad
in plaas van bang te voel. Iemand wat in 'n groot gevaar gewees het,
ken hierdie soort gevoel.