Soos ons aangemerk het by die Dagverhaal van Van Riebeeck, het die
eintlike invoer van slawe in die Kaap begin in 1658; en sedertdien is
daar gereeld meer van daardie koopwaar in die land gebring. Die
Kompanjie het daar o.a. spesiaal ’n skip aan die Kaap op na gehou om
hulle te gaan inruil op Madagaskar, Mosambiek, die kus van Angola of
Guinea; terwyl ander, maar minder in getal, ook verkry is uit
Voor-Indië en die Oos-Indiese eilande. Waar die Hottentotte te lui of
te onafhanklik was om vir die Kompanjie of vir die koloniste te werk,
en waar blanke knegs te moeilik verkrygbaar was en te duur om aan te
hou, was dit slegs natuurlik dat in ’n tyd toe slawerny ’n algemeen
erkende instelling was, die Kaapse regering die toevlug tot slawearbeid
sou neem. Daar is ook geen twyfel aan nie dat die gebruik van slawe
heelwat bygedra het tot die ekonomiese ontwikkeling van die land,
vernaamlik van die meer intensiewe graan- en wynboerdery van die
westelike distrikte. Die aanwesigheid van die slawebevolking, wat
spoedig die blanke bevolking oorvleuel het [210], het egter nie alleen
goeie gevolge aan te wys nie. Onder die „lijfeigenen” was daar egte
booswigte wat hulle aan die ergste misdade skuldig gemaak het:
moordpartye op die persoon van hulle meesters, aanslae op vroue en
kinders, brandstigtings, ens. Andere, weer, het hulself nooit kan
versoen met hul nuwe toestand nie en het gedurig probeer om te ontsnap
die land in. Dit is ’n paar van dergelike episodes wat ons hieronder
plaas uit die pen van Peter Kolbe, die bekende skrywer van wat lank die
standaardwerk oor die Kaap gewees het, nl. die Naaukeurige en
Uitvoerige Beschryving van de Kaap de Goede Hoop [211]. Peter Kolbe
word nou deur heelwat mense as ’n bedrieër en kwaksalwer beskou; en ná
’n periode van roem het sy reputasie gedurig verbleek sedert die
aanvalle wat De la Caille, Le Vaillant en later skrywers op hom gemaak
het. Ons is egter van oordeel dat Kolbe nie so fantasties en
onbetroubaar is as wat hy soms voor uitgemaak word nie. Op sy
uiteensetting van die samestelling en werking van die verskillende
regeringsliggame, b.v., is maar bitter min aan te merk. Ook wat hy
meedeel oor die lewe en gewoontes van die Hottentotte, waarvoor hy die
aantekeninge van die uitstekende inboorlingkenner J. W. de Grevenbroeck
tot sy beskikking gehad het, is oor die algemeen geloofwaardig en
korrek. Ons kan nie die versoeking weerstaan nie om ook uit daardie
gedeelte van sy boek ’n paar uittreksels te plaas.
Ongelukkig is dit waar dat vir anekdotiese verhale hy maar alte dikwels
afgegaan het op sterk-gekleurde mededelinge van persone wat hul
gegewens ook al nie uit die eerste hand gekry het nie—mededelinge wat
hy somar sonder die minste poging tot kontrolering in sy werk opgeneem
het. En selfs daar waar hy self ooggetuie was van die feite wat hy
aangee, laat sy geheue vir hom meermale in die steek. Kolbe was heel
seker liggelowig en onkrieties van aanleg. Ons is egter geneig om vir
hom hierdie swakhede te vergewe, al was dit maar om die eg Afrikaanse
atmosfeer wat sy beskrywinge kenmerk, en die aansteeklike geesdrif
waarmee hy sy onderwerp behandel.