In die vorige hoofstuk het ons die beskrywing gehad van ’n skipbreuk in
die Tafelbaai. Hieronder gee ons die volledige verhaal van die
noodlottige reis in 1693 van die skip die Gouden Buys vanaf sy vertrek
uit Enkhuizen op weg na Oos-Indië tot sy stranding op die kus van
St.-Helena-Baai, nadat die skipper genoodsaak was daar anker uit te
werp by gebrek aan manskappe om die reis mee voort te sit. Dit gaan
swaar om vir ons ’n denkbeeld te vorm van die ontberinge en gevare
verbonde aan ’n lang seereis in daardie dae. Storme, wat op die swaar
want van die seilskepe veel meer vat gekry het as op ons moderne
stoomskepe; swaar-gewapende kapers wat daarop uit was om die rykbelade
handelskepe buit te maak; die lang duur van die reis; die gebrek aan
ruimte en lig; die eentonigheid van die voeding en die skaarsheid van
soetwater met hulle nasleep van siektes van allerlei aard, veral die
gevreesde skeurbuik—al hierdie omstandighede het hul deel bygedra om ’n
reis van en na Suid-Afrika ’n byna waaghalsige onderneming te maak. Van
dit alles skep die relaas van die reis van die Gouden Buys ’n treffende
en skrikwekkende beeld. Van die 190 man wat op 12 April 1693 Enkhuizen
verlaat het, het daar begin November van dieselfde jaar nog maar
sewen-en-twintig oorgebly. Van hierdie manskappe het sewe aan land
gegaan om van daar (St.-Helena-Baai) te probeer of hulle die Kaap
miskien nie kan bereik nie. Van die klomp wat aan boord gebly het, het
nie een in lewe gebly nie; en van die sewe wat die skip verlaat het,
het net twee man die ontberinge en teenspoede van die reis oorleef. Dit
is op grond van die beëdigde verklaringe wat hierdie twee man, Daniel
Silleman en Lourens Thijsz, ná hulle aankoms aan die Kaap gemaak het,
en van die mondelinge mededelinge van eersgenoemde ná sy terugkeer in
Holland, dat die verhaal saamgestel is (L. Thijsz is oorlede op die
skip gedurende sy terugreis na die vaderland). Wie die skrywer is, word
nie vermeld nie; maar dit is duidelik dat hy vir hom byna letterlik
gehou het aan die gegewens wat Silleman vir hom verstrek het. Afgesien
van die skriklike lye wat die twee oorblywende mans moes deurmaak, en
die gruwelike noodmiddels waartoe hulle die toevlug moes neem, is
interessant wat hulle meedeel oor die deurgaans vrindskaplike houding
van die Hottentotte, sonder wie se hulp hulle sonder twyfel ook sou
omgekom het.
Die teks wat ons gee, is dié van die uitgawe van 1706, by die weduwee
van J. van Poolsum, in Utrecht, waarvan ’n eksemplaar aanwesig is op
die Kaapse argief. Daar bestaan nog ’n vroeër uitgawe gedruk in
Enkhuizen by Hendrik van Straaten, waarvan ’n eksemplaar berus in die
Fairbridge-biblioteek, nou in besit van mejuffrou D. Fairbridge, op
Claremont. Ons het die twee drukke met mekaar vergelyk en geen
noemenswaardige afwykinge tussen hulle ontdek nie. ’n Gedeeltelik
gewysigde en gemoderniseerde herdruk het reeds verskyn in die
Zuid-Afrikaansche Tijdschrift van Junie 1885 (blss. 257–280) onder die
tietel „Een reis van Holland naar de Kaap 200 jaar geleden. Een verhaal
van jammer en ellende.” Ook in Die Brandwag van 1 Desember 1911 het die
laaste deel van die reisbeskrywing verskyn; maar die teks laat taamlik
te wense oor en is partykeer heeltemal onverstaanbaar of misleidend as
’n gevolg van slordige afskrif en byvoeging of weglating van woorde.