Buitengewoon talryk is die skipbreuke wat in vroeër dae op die
Suid-Afrikaanse kuste plaasgevind het. Die Kaap de Goede Hoop het sy
eerste naam van Cabo Tormentoso, of Stormkaap, ruimskoots verdien; en
ook in die Hollandse tyd het hy sy reputasie aanhoudend gehandhaaf. Dit
is genoeg om hier te herinner aan die name van die Santo Joano, die
Santo Alberto, die Sacramento, die Haarlem, die Naarstigheid, die
Stavenisse, die Jonge Thomas, die Gouden Buys, die Good Hope, die
Grosvenor, die Maréchal, die Fortuné, en soveel andere, om die yslikste
tonele van vernieling en verskrikking voor ons oë te sien verrys. Veral
langs die onherbergsame suidkus het die skepe dikwels met man en muis
verdwyn, maar tog het enkele manskappe daar nou en dan in geslaag om
die kus te bereik. Party van hulle het ná verloop van tyd verkies om
onder die inboorlinge te bly lewe; andere het probeer om te voet die
Kaap te bereik, terwyl die regering van sy kant hulpekspediesies te
land of ter see uitgestuur het. Dit is deur die verslae van hierdie
togte dat ons heelwat belangrike inligtings gekry het aangaande die
toestande onder die Hottentotte en Kafferstamme langs die suidkus van
Afrika in ’n tyd toe die Europese bestuur of die blanke nedersetting
hom nog nie so ver uitgestrek het nie. Ons het reeds die aandag daarop
gevestig hoe hierdie verhale ons o.a. toelaat om te bepaal wat die
verste punt gewees is van die weswaartse beweging van die
Bantoe-hordes. Afgesien, egter, van die bykomstige belang wat die
skipbreuke aldus oplewer vir die Suid-Afrikaanse geskiedenis, is hulle
ook op hulself uiters belangwekkend en werp hulle ’n tragiese lig op
die gevare en offers verbonde aan die toenmalige skeepvaart en aan
oorsese onderneminge oor die algemeen. Hulle verskaf ons eg epiese
bladsye van meedoënlose noodlot in sekere gevalle, in andere weer van
wonderlike reddings en byna bo-menslike heldemoed. Uit hierdie laaste
oogpunt beskou is wel die bekendste episode dié verbonde met die naam
van Wolraad Woltemade by die vergaan van die Jonge Thomas in 1773, ’n
voorval wat sedertdien in woord en beeld, in prosa en poësie na
verdienste verheerlik geword is. ’n Ander naam wat in die annale van
die Kaapse skipbreuke ’n roemryke plaas verdien, is dié van Jochem
Willemsz, die moedige redder by die skipbreuk van die Hoogergeest, die
Goede Hoop en die Engelse skip Orange aan die mond van die Sout-rivier
in Junie 1692. Die uitvoerigste relaas van die heldhaftige gedrag van
hierdie Hollandse matroos vind ons by François Valentijn, die skrywer
van ’n lywige werk in vyf foliante, half histories, half beskrywend van
aard, oor die gebiede wat in sy tyd onder die bestuur van die O.I.K.
gestaan het. In die vyfde deel word ’n belangrike afdeling (147
bladsye) opgeneem deur ’n beskrywing van die Kaapkolonie; en dit is
hierin dat o.a. ook die verhaal van die dapper daad van Jochem
Willemszoon voorkom. Ons ken die algemene vertroubaarheid en
nougesetheid van die skrywer, wat daar altyd na gestreef het om die
volledigste en bes moontlike informasie aangaande ’n onderwerp te
verkry. Wat die Kaap betref, b.v., weet ons dat hy hier herhaaldelik
(in 1685, 1695, 1705 en 1714) vir ’n kort tyd vertoef het en sekere
gebeurtenisse dus self bygewoon het. Sy vry ure het hy byna uitsluitlik
gebruik om aantekeninge te maak uit kaarte, rapporte, joernale en ander
bestuurlike stukke wat die Van der Stels tot sy beskikking gestel het,
of om mondeling by die regeringspersone en by die vernaamste ingesetene
van Kaapstad en die buitedistrikte verdere inligtinge in te wen. Die
onderstaande verhaal is, te oordeel na die datum, nie dié van ’n
ooggetuie nie; maar ds. Valentijn het die besonderhede kort ná die
voorval verneem uit die mond van ’n hele aantal persone wat die
skipbreuk en die daaropvolgende reddingswerk van begin tot end bygewoon
het. Trouens, wat ons oor hierdie gebeurtenisse vind in die offisiële
stukke van die argief stem volkome ooreen met die beskrywing van
Valentijn, wat egter heelwat samenhangender en uitvoeriger is.