Heelwat minder bekend as Van Riebeeck se Dagverhaal en heel verskillend
van aard is die Lust-Hof der Huwelyken van Meester Pieter de Neyn
[111]. Dit het maar gedeeltelik betrekking op die Kaap; maar die enkele
bladsye wat oor Suid-Afrikaanse toestande en gebeurtenisse handel,
bevat besonderhede wat ons nòg in ander skrywers nòg in die bestuurlike
stukke van sy tyd kan kry. So, b.v., sy uitvoerige beskrywing van die
manier waarop die destydse Hottentotte gewoond was om ter dood
veroordeeldes met stokke dood te slaan. Pieter de Neyn was die seun van
Cornelis de Neyn, pensionaris van Alkmaar en raadsheer in die hof van
Holland. Hy het gepromoveer in die regte; maar ná ’n kort praktyk as
advokaat het hy, teen die sin van sy vader, besluit om sy vaderland te
verlaat en sy geluk in die vreemde te gaan beproef. Op grond van sy
regskundige kennis en ondervinding het hy die aanstelling verkry tot
advokaat-fiskaal van die O.I.K. aan die Kaap. In Februarie 1672 hier
aangekom, het hy maar ’n paar jaar die fiskaalsamp uitgeoefen. In
Oktober 1674 verlaat hy die Kaap op reis na Batawië, soos hy self sê
ten minste, om aldaar promosie te gaan soek. Ook in Batawië het hy
egter nie alte lank vertoef nie; want end 1675 keer hy met ’n gebroke
gesondheid na Patria terug, volgens sommige, as ’n gevolg van sy
losbandige lewenswyse. Hy self gee in die voorwoord ’n gans ander
uitlegging van sy siekte (verhitheid en ’n koue bad in ’n rivier); maar
die feit dat hy as fiskaal van die retoervloot afgesit word, „om syn
gedeboucheert leven” en „onbequaam geoordeelt wert tselve ampt met
fatsoen te becleden,” [112] skyn wel die bewys te lewer dat sy
beskuldigers nie alte ver van die waarheid was nie. Ook die inhoud en
toon van sy gedigte, die Vrolycke Uyren, wat in die uitgawe van 1697 ’n
vervolg vorm op sy Lusthof, en waarvan party taamlik grof en onkies is,
kom hierdie vermoede nog versterk. Dit was ná sy aankoms in Holland dat
hy vir tydkorting „iets geneuchelijks” onderneem het, nl. die
saamstelling van ’n beskrywing van die huweliksgebruike van die
verskillende volke van die wêreld. Dit is ’n louter kompilasie, getrek
uit ’n massa van ander werke, veral reisbeskrywinge, en bevat dus maar
min wat nuut en oorspronklik is. Alleen die dertien bladsye wat hy wy
aan Kaapse aangeleenthede (nie slegs huweliksgebruike nie) berus op
persoonlike kennis en regstreekse informasie. Ongelukkig het hy net op
sy geheue moet afgaan, want hy vertel ons dat op sy tuisreis sy
joernaal en briewe soek geraak het; vandaar sekere onnoukeurighede, wat
egter ruimskoots vergoed word deur sy lewendige manier van vertel en sy
plastiese wyse van beskrywing.