Ons gee hieronder ’n paar uittreksels uit die dagverhaal van Van
Riebeeck. Hierdie joernaal het hy aangelê en bygehou in opdrag van sy
meesters, die Here XVII, wat hom instruksies saamgegee het, waarin o.a.
voorgeskrywe word dat hy „correcte notitie ende dagregisters zou houden
omtrent hetgeen voor zou vallen.” Op die belang en die aantreklikheid
van die dagverhaal van die eerste kommandeur van die Kaap is dit nie
nodig weer die aandag te vestig nie; dit is reeds ten oorvloede gedaan
geword deur al die skrywers wat die stigtingsperiode behandel het. Tog
bly dit ’n feit dat ofskoon die dagverhaal reeds driemaal die eer van
uitgawe geniet het [89], daar selfs in ons eie land maar min persone
sou kan gevind word wat die moeite geneem het om dit van begin tot end
deur te lees. Waarskynlik word die leser afgeskrik deur die
buitengewone lengte van die verhaal (byna 2,000 bladsye in die uitgawe
van die Historiese Genootskap), die gebrekkige styl en die verveligheid
van sommige altyd terugkerende mededelinge en opmerkinge. Dit sou egter
jammer wees as hierdie onmiskenbare gebreke van die teks sy ewe
onmiskenbaar goeie eienskappe uit die oog sou doen verloor: sy
betroubaarheid, sy verskeidenheid en rykdom van informasie, sy
aanskoulikheid van voorstelling. Daarom het ons dit goed geag om hier
party van die mees skilderagtige toneeltjies oor te neem en aldus te
laat sien watter hoogs boeiende lektuur ’n mens in die langdradige
joernaal, met ’n bietjie goeie wil en geduld, kan ontdek. As dit die
leser(es) mag bring tot ’n nader kennismaking met die dagverhaal, dan
sal ons reeds een van die doeleindes waar hierdie uitgawe na streef,
bereik het—nl. die opwek van belangstelling in ons historiese
bronneliteratuur. In hierdie verband wil ons daarop wys dat die
dagregister van Van Riebeeck trouens nie ’n alleenstaande verskynsel is
nie. Ook die later kommandeurs en goewerneurs van die Kaap het almal
sonder uitsondering, volgens die algemene gebruik in die besittings van
die O.I.K., aantekening gehou of laat hou van die vernaamste
gebeurtenisse wat van dag tot dag onder hulle aandag gekom het; die
ononderbroke reeks dagregisters van 1651 tot 1795 vorm dan ook een van
die mees belangrike en omvangryke versamelings historiese beskeide wat
ons in die Kaapse argief kan aantref [90].