INLEIDING.

Jan Huygen van Linschoten, gebore in 1563 in Haarlem, het sy

jongelingsjare in Enkhuisen deurgebring. Dit was in die begin van die

Tagtigjarige Oorlog. Die Nederlanders behaal hulle eerste oorwinninge,

en die Nederlandse skeepvaart word sterk en ondernemingslustig. Die

heroïese gees van die tyd was net na die smaak van die knaap. Soos hy

later in sy beroemde boek, die Itinerario, dit self uitdruk, was hy

„gheneycht .... tot lesen vreemde dingen van Landen ende

gheschiedenissen, waerinne besundere wel behaghen ende

vermaeckelickheyt hadde, met een grooter verweckinghe der begeerten om

vreemde ende onbekende landen te besien, ofte eenighe avontueren te

versoecken;” en in ’n brief aan sy ouers uit Goa lees ons: „Mijn hart

denct anders niet nacht ende dach, dan om vreemde landen te besien. So

weet men wat te vertellen als men oudt is. Daer en is geen tijt quader

versleten als een iongman op syn moeders kuecken te blyven, gelyck een

babock [31], ende weet niet wat armoede noch weelde is, noch wat de

werelt in sich heeft, twelck dickwils oorsaeck is van haer (sy)

verderffenis.”

Nieteenstaande die oorlog was die handelsbetrekkinge tussen Nederland

en Spanje nie afgesny nie. Twee van Jan Huygen se broers was handelaars

in Spanje, en as ’n eerste stap tot veel groter dinge kry die

sestienjarige jongeling in 1579 eindelik verlof van sy ouers om na sy

broers te gaan. In 1583 tree hy dan in die diens van die Portugese

aartsbiskop van Goa en vergesel hom na Indië. Eers in 1592 was Van

Linschoten weer terug in Lissabon, en in dieselfde jaar het hy ook sy

vaderland bereik. Die vrugte van sy reise is in sy Itinerario neergelê,

wat in 1595/6 verskyn het. Die invloed van hierdie werk was baie groot;

dit was die wegwyser vir die Nederlanders na die Ooste. Die eerste

Nederlandse vloot het wel na Indië geseil voor die verskyning van Van

Linschoten se boek, maar De Houtman het kennis gedra van sy

mededelinge.

Die Itinerario is deur prof. Kern vir die Linschoten-Vereniging

uitgegee (1910). Ons verwys met erkentlikheid na dié deeglike uitgawe

en vertrou dat onderwysers daarmee kennis sal maak, asook met die ander

werke van genoemde vereniging.

In die uittreksel uit die Itinerario wat hier volg, beskryf Jan Huygen

van Linschoten sy terugreis om die Kaap. Hy gee ons ’n treffende indruk

van die ontsettende moeilikhede en gevare wat die skepelinge destyds

aan die Suid-Afrikaanse kus moes verduur. Belangrik is ook die

onthulling wat hierin voorkom, van die swakhede van die Portugese

skeepvaart. Van Linschoten kan sy minagting vir die Portugese, wat

hulle skepe sleg voorsien en dan in ’n storm, as daar geen orige tou is

nie, op hulle knieë hulp by die Heilige Maag en die „Santen” soek, nie

verberg nie.

Die spelling is onveranderd gelaat, maar af en toe is ’n leesteken

gemoderniseer om die teks vir ongeoefendes te verduidelik. Die leek

word attent gemaak op die dubbele ontkenning, en .... niet, en op

ongewone samestellinge, soos b.v. betert (betere ’t), salmen (sal men),

ens. Let ook op naer vir na (of naar) en die weglating van

voornaamwoorde soos wij of zij in die eerste naamval.

Uit ou Reisbeskrywinge: Dagverhale en ander letterkundige bronne oor die Kaap · 第 14 / 39 题