Naby die stad Masapa is ’n baie hoë en majestueuse berg, wat die naam
Fura [29] dra en waarvandaan ’n groot gedeelte van die ryk van
Monomotapa sigbaar is. Om dié rede wil die koning die Portugese nie op
die berg laat gaan nie, om te voorkom dat hulle gierigheid deur die
uitgestrektheid en skoonheid van sy land, waarin so baie en sulke groot
goudmyne verberg is, sal gewek word.
Op die top van hierdie berg staan nog oorblyfsels van ou mure en
klip-gemesselde bouvalle, wat duidelik aantoon dat hier vroeër huise en
sterk geboue was, soos in die hele Kafferland nie te sien is nie; want
selfs die paleis van die koning is van hout en word met klei gesmeer en
met strooi gedek. Die inboorlinge van hierdie streke, veral party van
die oudste More, beweer dat hulle voorouers ’n tradiesie nagelaat het
dat hierdie ou geboue ’n faktory van die koningin van Skeba was en dat
van hier af ’n groot hoeveelheid goud na haar gebring is. Dit is op die
Cuama-riviere tot in die Indiese Oseaan vervoer, dan in skepe langs die
kus van Etiopië tot by die Rode See, verder in dié see op tot aan die
kuste van die gebied wat aan Egipteland grens. Hier is die goud
ontskeep en is oor land na die hof van die koningin van Skeba gebring,
want, sê hulle, sy was koningin en heerseres oor ’n groot deel van
Etiopië bokant Egipte; en langs die Rode See het sy haar vlote gestuur
vir die goud van hierdie riviere. Ek betwyfel dit nie erg nie, want
volgens die opvatting van sommige van ons ernstige skrywers het die
koningin van Skeba oor die deel van Etiopië wat bokant Egipte lê,
geregeer....
Ander, weer, sê dat dit die bouvalle is van ’n faktory van koning
Salomo en dat hy hier handelaars gehad het, wat ’n groot hoeveelheid
goud uit die streke gekry het; hulle het dit dan op dieselfde riviere
na die Indiese Oseaan vervoer en in skepe verder tot in die Rode See;
op die kus van Arabië naby Sues het hulle dit aan wal gebring en oor
land na Jerusalem, ’n reis van omtrent tagtig uur. Hulle beweer ook dat
die goud van Ofir wat koning Salomo gekry het, van Fura of Afura gekom
het, dat daar weinig verskil is tussen Ofir en Afura, en dat die naam
in die lang verloop van tyd ’n verandering ondergaan het.
Ek weet nie met welke grond hulle die een of die ander bewering maak
nie [30]; ek kan alleen sê dat daar ’n hoeveelheid fyn goud in die
streke rondom die berg is en dat dit op dié riviere in daardie tye kon
gestuur geword het, nes die Portugese dit nou doen, en voor hulle die
More van Mosambiek en Kilwa.
Die reis moes ’n lang tyd in beslag geneem het, want die weg was toe
nog nie so goed bekend soos nou nie, en hulle het ook nie sulke goeie
skepe gehad nie..... Buitendien veroorsaak die winde hier baie
oponthoud vir die skepe, want langs die hele kus van Etiopië waai slegs
twee winde, een uit die ooste en een uit die weste, elkeen ses maande
lank; en hulle word moessons genoem.... Dit is dus begryplik dat die
reis, soos in die Heilige Skrif aangegee, drie jaar kon geduur het.....
’n Ander bewys dat die vloot van koning Salomo miskien na die kus van
Etiopië gekom het om goud by Fura te kry, is dat dit ook
edelgesteentes, hout vir die tempel, ape en poue saamgeneem het—want al
dié dinge word op die kus gevind. By Sofala word pêrels uitgehaal, en
daar is ook kosbare hout..... En ofskoon ek geen poue gesien het in die
streke langs die kus nie, moet daar in die binnelande van hul wees,
want ek het Kaffers gesien met pouvere op hulle kop. Daar is ontsaglik
baie aapsoorte, en van die goud sal ek nie eens praat nie.