Die land wat ons die Koninkryk Sofala noem, is ’n uitgebreide gebied;
en daaroor regeer ’n heidense vors, Benomotapa genaamd. Dit is omring
deur twee lope van ’n rivier wat uit die belangrikste meer [18] in die
hele Afrika vloei. Die ou skrywers wou graag inligting omtrent hierdie
meer kry, omdat dit die verborge oorsprong van die beroemde Nyl is; en
daaruit vloei ook ons Zaire [19], wat deur die koninkryk Kongo loop....
Die rivier wat in die rigting van Sofala vloei, verdeel in twee lope
nadat dit uit die meer kom; en die een bereik die see deuskant Kaap
Correntes. Ons mense het dit vroeër Rio da Lagoa [20] genoem; maar nou
heet dit Espirito Santo—’n naam wat Lourenço Marques daaraan gegee het
toe hy dit in 1545 gaan ondersoek het.
Die ander loop bereik die see vyf-en-twintig uur [21] anderkant Sofala
en heet Cuama, ofskoon dit in die binneland die naam Sambesie dra....
Die groot koninkryk Sofala lê dus ingesluit deur hierdie twee strome en
die see, nes ’n eiland, met ’n omvang van sewehonderd-en-vyftig uur....
Die binnelande het ’n uitstekende, gematigde, gesonde en koel klimaat
en is vrugbaar vir alles wat dit oplewer. Alleen die deel wat tussen
Kaap Correntes en die mond van die Espirito Santo geleë is, bestaan uit
groot vlaktes [22], wat weiveld vir alle soorte van vee verskaf, maar
so sonder bome is dat die mense beesmis vir brandstof gebruik en
vel-klere dra, want die land is baie koud as gevolg van die winde wat
uit die suidelike yssee waai.
Die ander deel van die land, by die Cuamarivier en verder na binne toe,
is meestal bergagtig, met bome bedek, deur riviere besproei en
aangenaam geleë, en is dus digter bevolk; en Benomotapa woon gewoonlik
daar. Daar dit so dig bevolk is, vermy die olifante hierdie deel en
soek die reeds genoemde vlaktes op, waar hulle in troppe loop byna soos
koeie. En dit kan ook nie anders wees nie, want dit word gewoonlik
onder die Kaffers beweer dat vier- of vyfduisend olifante elke jaar
omkom; en hierdie bewering word bevestig deur die groot hoeveelheid
ivoor wat van daar uit na Indië gestuur word.
Van die myne van hierdie land waar goud uitgehaal word, is dié van
Manica naaste aan Sofala. Hulle is geleë in ’n vlakte, wat deur berge
omring is en ’n omvang van omtrent dertig uur het.... In die myne van
Manica [23], wat ongeveer vyftig uur wes van Sofala is, kry die Kaffers
dit taamlik swaar; want die streek is baie droog. Al die goud wat hier
gevind word, is in die vorm van stof; en hulle moet die grond wat hulle
uitgrawe, na ’n plek dra waar hulle water kan kry....
Die ander myne wat verder van Sofala af lê, nl. tussen ’n honderd en
tweehonderd uur, is in die distrikte Boro en Quiticuy; en in hierdie
myne en die reeds genoemde riviere wat die land besproei, word groter
korrels goud gekry, party in rotsare en party skoongewas deur die
winterstortvloede; en dus is dit hulle gewoonte om in die somer in die
stil rivierwater te duik, en veel goud word gevind in die modder wat
hulle opbring....
Daar die land ryk aan goud is, kon ’n groot hoeveelheid verkry word as
die mense hebsugtig was; maar hulle is so lui om daarna te soek, of
liewer hulle begeer dit so min, dat een van dié neërs al baie honger
moet wees voordat hy daarvoor sal grawe....
Daar is ander myne in ’n distrik, wat Toróa [24] genoem word, of ook
die Koninkryk Batua [25]. Hier regeer ’n vors met die naam Burrom, ’n
vasaal van Benomotapa; en sy gebied grens aan die bo-gemelde
uitgestrekte vlaktes. Hierdie myne is die oudste van dié wat in die
land bekend is. Hulle lê almal in die groot vlakte, en in die middel
daarvan is ’n vierkantige fort [26], van binne en buite gemessel en van
verbasend groot klippe gebou; en dit skyn asof geen kalk gebruik is om
hulle aan mekaar te heg nie. Die muur is meer as vyf-en-twintig span
wyd, en die hoogte is na eweredigheid nie so groot nie. Bo-oor die deur
van hierdie gebou is ’n opskrif, wat enkele geleerde Moorse koopmanne,
wat daarheen gegaan het, nie kon lees nie; en hulle kon die geaardheid
van die skrif ook nie bepaal nie. Hierdie gebou is amper deur heuwels
omring, en bo-op hulle is nog ander ook van sulke klippe en sonder kalk
opgerig; en een van hulle is ’n toring meer as twaalf vaam hoog.
Die inboorlinge van die land noem al die geboue Simbaoe, wat in hulle
taal hof beteken; want elke plek waar Benomotapa vertoef, word so
genoem.... Wanneer of deur wie hierdie geboue opgerig is, is nêrens
bewaar gebly nie, omdat die bewoners van die land die skryfkuns nie ken
nie. Maar hulle sê die forte is die werk van die duiwel; want in
vergelyking met hulle eie kundigheid en kennis skyn dit vir hulle
onmoontlik dat sulke geboue mensewerk kan wees. Sommige More wat dit
gesien het en aan wie Vicente Pegado, die kaptein van Sofala, ons fort
daar gewys het met sy vensters en boë, sodat hulle dit kon vergelyk met
die steenbewerking van die genoemde gebou, het verklaar dat die werk
van ons messelaars, wat gladheid en afgewerktheid betref, nie met die
ander ’n vergelyking kan uitstaan nie. Die afstand van Sofala na
hierdie gebou in ’n direkte lyn na die weste is eenhonderd-en-sewentig
uur, naastenby; en dit is geleë tussen de 20 graad en 21 graad
suiderbreedte [27].... Die More wat dit gesien het, meen dat dit baie
oud is en opgerig is om die besit van die myne te verseker....
Die feite skyn aan te dui dat een of ander vors wat in besit van die
myne was, die bou van die forte beveel het .... en dat hy, met verloop
van tyd en omdat sy eie koninkryk so ver verwyderd was, later sy gesag
hier verloor het....
Die bewoners van hierdie gebied is gewoonlik swart, met kroeserige
hare; maar hulle is meer intelligent as dié van Mosambiek, Kilwa en
Melinde.... Die gewone klere van almal bestaan uit stukke katoen, wat
hier gemaak word of uit Indië kom; en daaronder is sommige van sy en
gouddraad gemaak en tot twintig krusado’s elk werd, maar sulke klere
word deur die edelliede en die vroue gedra. En al is Benomotapa koning
van die land en heer van almal; en al is sy vroue ook in dié klere
gekleed, mag geen stof van vreemde maaksel sy persoon raak nie, maar al
sy klere moet in die land gemaak word, want die vrees bestaan dat
vreemde handewerk hom aan boosaardige invloede kan blootstel.
Hierdie koning, wat ons Benomotapa of Monomotapa noem, is soos ’n klein
keiser onder ons; want dit, volgens hulle, is die betekenis van die
naam. In sy hofhouding is geen groot vertoon nie ... want die grootste
versieringe in sy huis is katoendoeke in die land geweef.... Sy mense
bedien hom op die knie; en een proe sy kos, nie voor nie, maar nadat hy
geëet het, van wat oorbly. As hy drink of hoes, moet almal wat
teenwoordig is, hom iets goeds toewens; en waar die gelukwens gehoor
word, vlie dit rond van mond tot mond, sodat die hele stad weet dat die
koning gedrink of gehoes het....
Die Benomotapa het offisiële musiek van hulle eie soort, waar hy ook
mag wees—selfs in die veld onder ’n boom; en daar is ook vyfhonderd
grapmakers onder ’n kaptein, wat by beurte buitekant die huis waar hy
slaap, wag hou. Die koninklike insignia is ’n klein harkie met ’n steel
van ivoor, wat hy altyd in sy gordel dra en wat vrede beteken en aandui
dat almal die grond mag bewerk en die vrugte van die aarde geniet; en
hy dra ook nog een of twee asgaaie, wat reg en die verdediging van sy
mense voorstel.