In Mosambiek het [die onderkoning] vier-en-twintig dae vertoef, want ’n
lekkasie in die Belem moes reggemaak word. Van daar het hy sy reis
voortgesit, en met gunstige weer het hy om die Kaap die Goeie Hoop
geseil. Asof die end van die reis reeds bereik was [1], roep hy toe
uit: „God sy geloof! Nou is dit duidelik dat die towenaars van Cochin
leuenaars is!” Die rede hiervoor was ’n voorspelling van sommige in
Indië dat hy nie die Kaap sou omseil nie, en hierdie voorspelling het
volgens gerug sy oorsprong by die towenaars van dié land gehad.
Daar hulle water nodig gehad het en die Aguada de Saldanha [2], waarvan
ons reeds geskrywe het en waar skepe water kon inneem, naby die Kaap
was, het hy aan die stuurmanne bevel gegee om hom daarheen te bring. Om
nou die manskappe ’n bietjie ontspanning te verskaf ná die eentonigheid
van die see, het hy sommige wat met die watervate aan land gegaan het,
toegelaat om met die neërs, wat op die strand hulle verskyning gemaak
het sodra die skepe geanker was, handel te drywe. Die neërs het
heeltemal eie geword met ons mense en vee aan hulle verruil vir stukke
yster en doek, wat hulle hoog waardeer; en ’n paar van ons kêrels het
toe verder verlof gekry om met die inboorlinge na hulle dorpe toe te
gaan byna ’n uur van daar. Op hierdie ekspediesie het die neërs van
party messe gesteel en ook ander dinge, waarin hulle sin gehad het. Om
hierdie brutaliteit te wreek het een van die kêrels, Gonçalo, ’n
diensbode van die onderkoning, twee van die neërs met hom saamgevoer
onder die voorwensel dat hulle van die goed moes dra wat hy gekoop het;
maar hulle was huiwerig om saam te kom, want hulle was agterdogtig en
het gevrees dat sy bedoeling nie suiwer was nie. Toe wou hy hulle met
geweld dwing, maar hulle gooi die goed neer en het hom so toegetakel
dat hy met stukkende tande en ’n gesig vol bloed voor die onderkoning
verskyn het.
By die onderkoning was toe juis verskillende persone wie se diensbodes
dieselfde mishandeling van die neërs ondervind het, veral een met die
naam Fernando Carrasco, ’n bediende van Jorge de Mello; en hulle was so
kwaad dat hulle die onderkoning beweeg het om die neërs in hulle dorp
te gaan straf. Hy het ingewillig, nie so seer omdat hy self kwaad was
nie, maar om die adellike here te bevredig, ofskoon sommige van hulle
teen die aanval was, soos b.v. dom Lourenço de Brito, Jorge de Mello en
Martin Coelho.
Die dorpe was ’n bietjie verder op as die plek waar die skepe geanker
was, en die volgende dag, om die afstand te voet te verkort, het die
bote dus met omtrent ’n honderd-en-vyftig man, die fleur van die hele
geselskap, langs die kus tot digby die dorpe gevaar. Hulle het daar aan
wal gestap; en die onderkoning het aan sy skipper, Diogo d’Unhos, bevel
gegee om daar in die skuite te wag en nie van die plek af weg te gaan
nie. Dit wil waarlik skyn asof sy gees hom voorspel het in welke
verskriklike nood hulle na die skuite sou uitsien, en asof die
bedruktheid waarmee hy die onderneming begin het, ’n voorteken van sy
laaste uur was; want ná sy inwilliging aan die versoek van die
edelliede wat hom aangespoor het, was al sy woorde en dade soos dié van
iemand wat die dood verwag. Toe hy b.v. uit die skip in die boot klim,
sê hy, om te wys dat hy teen sy sin gaan: „Waarheen neem julle my
sestig jare?”
Later toe hulle langs die strand loop, sê hy daar is sand in sy skoene,
en hy vra vir Joano Gonçalves, sy lyfbediende, om hulle uit te trek; en
toe Joano Gonçalves die een teen die ander klop om die sand uit te
slaan, maak hy die opmerking: „As dom Joano de Menezes nog gelewe het
en jou daardie skoene teen mekaar hoor slaan het, sou hy g’n stap
verder gegaan het nie, al was dit ook in ’n slag wat grootliks tot sy
eer sou strek; maar daar ek meer in God glo as in sulke illusies, sal
ek my reis voortsit.” Hy het hier gesinspeel op ’n feit wat algemeen in
die koninkryk bekend is, nl. dat dom Joano de Menezes aan twee slegte
voortekens geglo het: die klop van twee skoene teen mekaar, en dat
Dinsdag ’n ongelukkige dag was. Die verklaring hiervan is as volg: dom
Joano was hooflyfwag van die prins dom Alfonso toe hy by Santarem van
sy perd geval het en aan die gevolge oorlede is; en terwyl hulle twee
naas mekaar op die wal van die Taag by Alfange ry, begin ’n knaap wat
in die Taag geswem het, sy skoene teen mekaar te klop om die sand uit
te kry, en net toe val die prins van sy perd; en dit was op ’n Dinsdag.
Dus, as gevolg van hierdie ongeluk het dom Joano altyd aan die twee
slegte voortekens geglo, en dit was so alom bekend in die koninkryk dat
toe hy in Arsilla [3] en later in Asamor[3] kaptein was, die inwoners
seker was dat hy niks op ’n Dinsdag of as hy twee skoene teen mekaar
hoor slaan, sou onderneem nie.
Hiervan was hulle so oortuig dat toe dom Joano in Arsilla ’n aanval op
’n paar dorpe wou maak ... en die inwoners, omdat dit winter was en
baie gereent het, nie graag wou saamgaan nie, vier van hulle ’n plan
gemaak het en ’n jongkêrel gekry het om by die poort van die stad
skoene teen mekaar te klop nes dom Joano daardeur ry, want hulle wou
hom so keer. Maar dom Joano het deur die plan gesien, en hy het geweet
dat die kêreltjie van ’n man kom wat in ’n neerlaag ’n goeie gebruik
van sy bene kon maak.
Hy roep hom dus toe: „Loop sê vir jou baas dat sy straf vir wat jy nou
doen, alleen sal wees dat hy sal moet saamkom; en op hierdie tog sal sy
bene vir hom van meer nut wees as daardie skoene.” Daarop ry hy toe
welgemoed verder; en die lis het hy geduie as ’n voorspelling van die
oorwinning, wat hy inderdaad behaal het.
Die onderkoning daarenteen het nie van die skoengeklop ’n grap gemaak
nie, en met teësin en in ’n treurige stemming het hy sy reis
voortgesit. ... En daar is mense wat beweer dat die siel van die mens
so deur die bedruktheid of opgewektheid wat hy voel, vooraf weet wat
met hom gaan gebeur; en in hierdie geval het g’n halfuur verbygegaan
nie, of die slegte voorbodes van die onderkoning was verwesenlik.
Net toe hulle die neërdorp intrek, het Fernando Pereira, die seun van
Reimano Pereira, gesneuwel. Party sê dit was ’n ongeluk, want hy was in
een van die hutte; en een van ons manne wat buitekant was, het hom
daarin gehoor, en in die gedagte dat dit ’n neër was, het hy sy spies
ingestoot en hom deur die lyf gesteek. Toe die onderkoning hiervan
hoor, sê hy: „As my moeilikhede met Fernando Pereira begin, dan sal dit
met nog meer ophou;” en hy het bevel gegee dat die manskappe dadelik
teruggeroep moes word.
Die gros van die geselskap het egter reeds deur ’n groot deel van die
dorp gegaan en kom terug met ’n aantal koeie en kinders, wat hulle in
die huise gekry het. Daarop verskyn toe omtrent tagtig neërs; met die
eerste skrik het hulle gaan wegkruip, maar nou was hulle klaar om vir
die behoud van die kinders die dood te trotseer. Toe Lourenço de Brito
sien hoe woes hulle aanstorm en waarom hulle dit doen, skree hy vir dié
wat die kinders wegvoer: „Laat die kalwers staan, want die koeie kom
agter hulle aan; en hulle bulk nie, hulle brul.” En ofskoon party van
ons mense toe die kinders laat loop het en die armsalige buit van die
dorp neergegooi het, was die neërs reeds so woedend dat hulle oor alles
heenspring en ons hoofmag aanval.
Hulle roep die beeste, wat aan dié soort van oorlogmaak gewend is, en
begin om vir hulle te fluit en met tekens te stuur; en agter die vee
beskut val hulle toe ons mense aan met hardgebrande hout-werpspiese.
Party val gewond neer en is deur die beeste vertrap; en daar die meeste
sonder skilde was en alleen lanse en swaarde gehad het, kon hulle in
dié soort van vegtery nie veel uitrig nie, terwyl die neërs tussen die
beeste uit met onmiddellike gevolg hulle wapens teen ons manskappe
slinger. Hulle val so veg-veg terug en kom uitgeput by die plek waar
Diogo d’Unhos volgens die bevel van die onderkoning met die skuite moes
gewag het; maar hulle was nie daar nie, want ’n storm het opgekom, en
die see was so onstuimig dat hy verplig geword het om die bote terug te
neem tot naby die skepe; waar ons mense dus verwag het om skuiling te
kry, het hulle die dood gevind.
Hulle sak weg in die seesand en was totaal magteloos en kon hulle nie
beweeg nie, terwyl die neërs op hulle afstorm so lig en rats dat hulle
na voëls lyk, of liewer na die beule van Satan. Hulle werp hul op die
edelliede, wat uit liefde vir die onderkoning nog ’n bietjie weerstand
gebied het, want die gemene volk het met die eerste buit vooruit
gehardloop. Die treurigste was dat sommige gewondes, wat nie in die los
sand kon loop nie, in die water vaste grond gaan soek het en dit met
hulle bloed bevlek het.
In hierdie moeilike tyd, toe iedereen vir homself gesorg het, kom Jorge
de Mello by die onderkoning, en hy vind hom min of meer verlate, want
iedereen moes na homself kyk en het sy hande daarmee vol gehad. Daar
Jorge de Mello half ontevrede met hom was in verband met sake tussen
Alfonso d’Albuquerque [4] en die onderkoning, sê hy toe aan hom:
„Senhor, ek sou graag party van dié by u gevind het aan wie u eer
verskaf het, want nou is die tyd om weldade te vergoed;” waarop die
onderkoning antwoord: „Senhor Jorge de Mello, dié wat aan my iets
verskuldig was, is reeds agtergelaat; dit is nou nie die tyd vir sulke
herinneringe nie; u moet liewer aan u adellike stand dink; en ek vra u
as ’n guns om by die banier van ons koninklike heer te bly en dit te
red, want dit word oneer aangedaan; wat my betref, ek kan met my sonde
en jare hier my lewe sluit, daar dit die wil van die Heer is.”
In die tussentyd het daar reeds geval Pedro Barreto de Magalhaens,
Lourenço de Brito, Manuel Telles, Martin Coelho, Antonio do Campo,
Francisco Continho, Pedro Teixeira, Gaspar d’Almeida en nog meer. So
lank soos hy kon, het Jorge de Mello by die vlag gestaan, en by die
onderkoning tot aan sy dood. ’n Werpspies het hom die keel deurboor,
nadat hy met stokke en klippe gewond was. Toe Diogo Pires, die
leermeester van dom Lourenço [5], hoor dat die onderkoning gesneuwel
het, keer hy terug met die woorde: „Mag God gee dat ek nie die seun en
vader moet agterlaat en met my lewe hier uitkom nie.” Hy gaan toe terug
na die plek waar die onderkoning lê; en daar het hy ook vir altyd
gebly.
Om nou te sluit—dit was die noodlottigste gebeurtenis wat in die
koninkryk plaasgevind het, want die neërs was eenhonderd-en-sewentig in
getal, en ons mense eenhonderd-en-vyftig, die edelste uit die vloot.
Van hierdie het meer as vyftig, waaronder twaalf kapteins, op die
strand omgekom, doodgegooi met stokke en klippe, en dit nogal uit die
hande nie van reuse of gewapende manne nie, maar van dierlike neërs—die
laagste op die hele kus; en al hulle verhewe moed en verstandige
bedrywigheid, wat hulle so dikwels in Indië en baie ander plekke in
skitterende krygsdade vir God en hulle koning vertoon het, het hulle
hier niks gebaat nie. Slegs ’n kort entjie pad en ’n bietjie sand het
hulle tot onmag verswak, sodat ons met waarheid kan sê dat hierdie twee
dinge die vernaamste oorsaak van hulle dood was, want baie was so
magteloos dat hulle neergeval het, en die neërs het hulle weerstandloos
met groot strandklippe die hoofde verbrysel.....
Van dié wat ontkom het, was byna almal met dieselfde primitiewe wapens
gewond, en die wonderlikste van al die wonde was dié van Jorge Lopes
Bixorda, die eienaar van die skip Santa Cruz. Sy skedel was met ’n klip
ingeslaan, en die gat op die naat was groot genoeg om ’n eier te bevat;
en toe die stukke been verwyder is, kon ’n mens sy harsings sien klop.
Dit was nie moontlik om hom aan boord skip gesond te maak nie. Maar
gelukkig het ’n hen begin lê, en ’n neërin het ’n kind gekry; en met
haar melk en die eiers van die hen is hy verpleeg, en die wond het
genees.
Jorge de Mello, wat vir die sorg van die vlugtelinge verantwoordelik
was ná hulle terugkeer, het die gewondes na die skepe vervoer en het
daarop teruggegaan na die strand om die dooies te begrawe. Toe hy kom
waar die lyk van die onderkoning lê, totaal ontkleed—want die wêreld
wou dat hy dit selfs sonder ’n doodshemp moes verlaat—, was hulle
droefheid so groot om hom daar in dié ellendige toestand te sien dat
dié wat daarby gestaan het, liewer met hom in die dood sou gegaan het
as om die eerbiedwekkende en beroemde man daar so te moet aanskou.
Jorge de Mello het hom en die ander op die woeste kus begrawe en het
teruggekeer na die skepe. Hy het die anker gelig en die reis na hierdie
koninkryk voortgesit, waar, ná sy behoue aankoms, die hele land oor die
noodlottige gebeurtenis in rou gedompel is.
VERHAAL VAN DIE SKIPBREUK VAN DIE GROOT GALJOEN, SINT JOHANNES,
BY DIE LAND VAN NATAL IN DIE JAAR 1552.