INLEIDING.

Op 1 Maart 1510 het die Portugese onderkoning, Francisco d’ Almeida,

wat met ’n vloot op die terugreis na Portugal was, met ’n vyftigtal van

sy aansienlikste manne op die strand van die Tafelbaai in ’n geveg met

die Hottentotte gesneuwel. Hy was ’n belangrike persoon en kan naas

Vasco da Gama en Alfonso d’Albuquerque genoem word as een van die

stigters van die Portugese koloniale ryk in Indië. In die groot seeslag

voor Diu in 1509 het hy die Mohamedaanse seemag in die Ooste

verpletter; en sy beroemde opvolger, d’Albuquerque, kon toe van hierdie

verswakking van die vyand gebruik maak en deur die besetting van die

belangrikste strategiese punte ’n vaste basis aan die Portugese mag in

Indië gee.

Dit spreek vanself dat die dood van die onderkoning groot opskudding in

Portugal verwek het; en die gebeurtenis word deur verskillende

beriggewers breedvoerig vermeld. Die beskrywinge is, wat besonderhede

betref, taamlik uiteenlopend; en hierin word miskien weerspieël die

toestand van totale verwarring en magteloosheid waarin die Portugese

gedurende die geveg verkeer het. Die beskrywing wat hier volg, is dié

van Joano de Barros (1496–1570), die grootste Portugese historikus van

daardie tyd. Theal het uittreksels uit sy Asia in Records of S.E.

Africa, VI, blss. 1 vv., afgedruk en vertaal. Die leser word daarheen

verwys—veral na blss. 298 vv. In II, blss. 45 vv., is die beskrywing

van Correa; in V, blss. 399 vv., dié van De Castanheda; en in III,

blss. 134 vv., dié van De Goes. ’n Vergelyking van die verskillende

berigte met mekaar openbaar groot afwykinge.

Uit ou Reisbeskrywinge: Dagverhale en ander letterkundige bronne oor die Kaap · 第 5 / 39 题