VI

Voorheen was in oom Gert se huis

'n sjieling net so skaars te kry

as in 'n bedelaar se kluis--

en tog was daar geen armoed' by.

Oom Gert se huis kos hom geen geld:

hy't self die muurtjies opgetrek,

die gras gesny op eie veld,

en toe met eie hand gedek.

Die hout was geelhout wat gesaag

is in die Houtbosbergse kuil,

vandaar met moeite uitgedraag

en oral in die land verruil.

Sy meubels is van eie maak,

en wie daarop gaan sit die voel:

dit is geen goed na vreemde smaak,

maar boer se eie bank en stoel.

Wat op sy tafel kom is uit

sy eie tuin of uit sy kraal--

daar's brood en melk, daar's boerbeskuit

en vleis, dit is die sober maal.

Hul klere kies hul so gering,

dat hoë ruil nie nodig is.

Die smouse het dit rondgebring:

ferweel en tabberdgoed en sis.

Ja, geld was skaars en goud was min,

maar min ook die onrus en gebrek;

daar was geen ryke of arme in

die land, niks wat die onrus wek.--

Hoe het die wêreld nou gedraai!

Hoe word oom Gert se vrees gewek!

Hy sien sy goed al opgelaai

en hoe sy wa weer noordwaarts trek.

Trekkerswee Met tekeninge van J.H. Pierneef · 第 27 / 45 题