Ons sien nou weer die loper loop.
'n Tolk en hy het keer op keer
met omhaalwoorde geprobeer
of hul oom Gert se plaas kan koop.
Oom Gert was na Pretoria:
hy het hom met sy sorg gewénd
na die vaderlike president,
en dié het hom geantwoord: Ja.
Maar ag, oom Gert se hart is swaar
as hy weer kom die bultveld oor;
daarbinne moet hy almaar hoor
'n stem so lastig, so onklaar:
"My plasie is my Nabots-erf
wat met sy weiveld wiegel oor
die Rand. Moet ek dit nou verloor
vir Agabs, om dan rond te swerf?
"Gewetenstem naas lotgeval!
Die stem is Jakobs stemklank, maar
die lewenslot 's die Esaus-haar,
en ek is blind soos Isak al!"
So het hy lank gepeins, gewag,
tot hy oplaas dink: "Laat maar gaan."
Hul bied hom tweemaal duisend aan,
en daarmee is die koop volbrag.
Oom Gert maak nog sy saak gewis:
hy vra net goudgeld en kontant,
en dat sy eie predikant
sal tel of hulle almal is.
V
o Heilige nagte van voorheen
as die maanlig skaars in die huisie dring,
waar oom Gert lê waak, soos die psalmis sing,
om te peins oor God,
die nagte nog lank, na skeppings-maak,
deur geen kunsglans nog verkort;
as die mens nog tyd het om wakker te word
en te peins oor God.
Die vetkers het maar kort gebrand
om te lig oor die oue Skriftuur
wat die stof bied in die vroeë uur
om te peins oor God.
Die siel doen soos die blomkelk dan
wat die blaartjies sluit by nag,
en stil-alleen op die son staan wag--
so peins die siel oor God.
Dit doen net soos die voël by nag,
wat die vlerk nie vliegend meer wil strek,
maar die koppie in die dons gaan dek--
so peins die siel oor God.
Dis doen en doen en nog eens doen,
totdat uit hoër, heil'ger oord
verruis die saalge stemmingswoord--
as die siel stil peins oor God.
Totdat 'n ligstraal na benee
val in die oog omhooggehou,
en die siel dan weer sy God aanskou--
terwyl dit peins oor God.
Dan voel dit weer aan wyding ryk
en beef stil opwaarts-heen
met groot verlange om nog
oor God te peins.
Maar ag, nóú is oom Gert vol sorg,
en sy bed is vuur onder hom:
'n ander god het daar gekom,
en die naam van die god is: Goud.