II

Die taal van berge en rante is oud.

Ek sien die letters voor my staan,

die skeure omlaag, die kranse omhoog;

maar dis 'n skrif wat nooit vergaan.

Die taal is geskrywe met letters

van kranse en klowe en rif;

dit lê oop en bloot op die wande, ...

maar niemand ontraadsel die skrif.

Die kranse en klowe is woorde

tot reuse-sinne vereen,

en die stippels en strepe daartussen

is tot massas rotse versteen.

Dit is die taal van skeppings-dae,

die taal ook van die sondvloed-tyd,

waarby die late mens verbysterd

staan klae van onwetendheid...

Spreek daardie taal van hoë waters

teen hoë bergwand uitgeslaan,

en van opdrifsels eeue later

tot kransversténing oorgegaan?

Of spreek die taal van vuur se werking,

van vreselike wêreldbrand

toe berggevaartes op kom rys het

uit die aard se vuurge ingewand?...

Die sleutel van pylskrif-figure

en hiërogliewe is gevind;

maar hier staan al die wyse same

onwetend soos 'n kind.

So swyg ook stil die Rand se rante.

Ja, die skeppingstaal is al te oud!...

Of spreek hier gryse lettermerke

miskien al lank die woord van: Goud?...

Trekkerswee Met tekeninge van J.H. Pierneef · 第 24 / 45 题