I
Dis heuwels, heuwels, heuwels net
sover 'n mens se oog kan speur;
dis of voorheen 'n monsterploeg
die wêreld hier wou stukkend skeur.
Ja, God se ploeg het hier geloop
in wentelkrag van vloed en vuur
toe heel die hoogland omgekeer
is in die aard' se wordings-uur.
Die reuse-sooi van daardie ploeg
'n berg was of 'n hoë rand;
en elke voor daaragter was
'n vrugbre moot of akkerland.
God se almagtige Hand het toe
daaroor gegaan met groot geswaai,
sodat 'n ganse goudveld is
in die aard se boesem uitgesaai.
Daarna het Hy die eeugety
stil oor sy akkerveld laat duur,
sonder dat een die geelblink vrug
versamel in sy voorraadskuur.
Geen Babilon se reusebeeld
is uit die goudsaad saamgesmelt;
geen wêreldstad se grootheid het
geskitter oor die heuwelveld.
Net Kaffervoete 't daar gegaan
wanneer hul hordes vlug of veg;
en die ondier het gelaer waar
die skatte van die wêreld leg.