Maar dit was in dierkunde dat die Boesman uitgeblink het. Dit is
waar dat hy nie 'n klassifikasie van die diere had of vir hulle lang
Latynse name gegee het nie, maar hy het hul spore geken en gegraveer
op rotse. Hy het hulle manier en gewoontes tot op 'n haar geken, en
gaan ure en ure van tevore sy posiesie inneem waar hy weet dat die
wild op 'n seker tyd sal kom. Die gevalle alreeds gesiteer met die
leeujag bewys byvoorbeeld dat hulle die leeu se gewoontes baie goed
geken het. Ja, en daar is van hulle wat beweer dat hulle die taal
van die leeu en ander diere kan verstaan. Moet ons die bewering as
verspot verklaar? Nee geensins. Laat ons weer hoor wat Campbell sê,
die man wat hier in ons land in 'n wit-en-blou-gestreepte broek
rondgery het om die Boesmanmeide die alfabet te leer. Hy sê dat
'n leeu en 'n volstruis so amper dieselfde geluid maak dat hy die
een nie uit die ander kon onderskei nie. Dat hulle in dieselfde
musikale klas kom, is waar, en Boesman folklore bewys dat die Boesman
dit ook besef het, maar geen volstruisboer sal vir 'n minuut twyfel
wanneer hy die een of die ander hoor nie. Blinddoek enige boereseun,
en plak hom by 'n hoenderhok neer. Van wat die hoenders daar gesels
sal hy haarfyn kan beskrywe wat onder hul daar plaasvind. Van 'n
hond se blaf kan 'n mens sê wat vir wild hy gevind het, en kortom,
verstaan ons die taal van die diere wat ons rondom ons het. Wat die
Boesman dus beweer van die dieretaal is heeltemal geloofbaar. Dat hy
hul gewoontes so goed ken dat hy as 'n dier vermom, tussen hulle kan
ingaan, bewys ook dat hy in daardie opsig baie meer kennis had as
ons hedendaagse dierkundiges. Dit is nou nie te lank gelede nie dat
Fabre, die Franse entomoloog, ontdek het waar die gif op die hare van
rispes vandaan kom. Die kortbeen-jagters het dit al lankal geken, en
na die bron daarvan gegaan om pylgif te kry. En die wonderlikste
van alles is nie dat hulle die en ook ander gifte ontdek het nie,
maar dat hulle met die verskillende teëgifte wat miskien die grootste
deel van hulle geneeskunde uitgemaak het, bekend geraak het. Hulle
het wel ook van ander medisyne af geweet, en hul dokters het kennis
gedra van nog meer; maar, soos selfs by ons moderne dokters in seker
mate oogverblindery uitgeoefen word, omdat die mensdom dit wil hê,
het hulle dokters ook getoor. Wat nou ook weer onlangs gebeur het,
bewys, alhoewel nie absoluut nie, dat die Boesman medisyne het. Tien
Boesmans (Marsarwes) is op 'n beskuldiging van moord, gevang, en in
die tronk vir tien maande opgesluit. Toe, na tien maande die regering
besluit het om nie met die saak aan te gaan nie, was daar maar vyf
oor! Die ander is intussen gesterwe, maar die oorblywende, wat darem
ook siek was, kom dadelik weer reg toe hul weer by hul wortels kon
kom. Van hul towermedisyne soos die gekruiste houtjies, en snye oor
hul liggaam, is dit onnodig om nou hier verder oor uit te brei. Hul
geneeskunde, as 'n ware kennis apart van bygeloof, het afgehang
van hul kennis van plantkunde, en dit soos ander kennis van hulle was
eg prakties. Van bolle en blare en saad, het hulle geweet wat eetbaar
is, wat medisyne is, en wat gif is--en dié vraag bly onbeantwoord:
waar, hoe, en wanneer het hulle die belangryke kennis opgedaan? Hulle
het nooit plante gekweek nie, nooit geploeg of gesaai nie, en
dus verwag 'n mens nie dat hulle die jaar in jaargetye sou verdeel
nie, maar hulle het 'n woord vir somer, 'n ander vir winter, en een
vir lente wat beteken vroeg-somer. Mejuffrou Bleek weet egter van
geen woord vir herfs nie. Die skrywer meen dat die begin van ware
sterrekunde in die landbou en die seevaart lê, en dat later die studie
weer 'n verder stoot gekry het deur die Bygeloof wat altoos met die
sterre gepaard gegaan het. Onder die Boesmans vind ons dus ook nie
'n ware kennis van sterrekunde met kennis van die reis van die son
deur die konstellasies nie, maar 'n kennis alleen van seker sterre en
sterregroepe. Canopus, een van die groter sterre, en Sirius het hulle
ook geken en aanbid soos alreeds vermeld, maar wat interessant is,
is hulle stories oor die Hart van die Dageraad. Uit die twede Rapport
van Dr. Bleek oor Boesman-Navorsinge, aan die Kaapse Parlement, 1875,
kom die volgende:--
"The 'Dawn's Heart' (The Star Jupiter) has a daughter who is
identified with some neighbouring star preceding Jupiter (at the
time when we asked, it was Regulus or Alpha-Leonis). Her name
is the 'Dawns-Heart-child' and her relation to her father is
somewhat mysterious. He calls her 'my heart', he swallows her,
then walks alone as the only Dawns-Heart Star, and, when she is
grown up, he spits her out again. She then herself becomes another
(female) Dawn's-Heart, and spits out another Dawns-Heart-child
which follows the male and female Dawn's-Heart."
Die eerste punt wat ons hier moet opmerk, is dat Dr. Bleek nie
heeltemal seker is watter ster met die planeet Jupiter geassosieer is
nie. Die tweede punt is dat uit die verhaal ons moet aanneem dat die
Hart van die Dageraad en sy kind en kleinkind hemelse liggame is wat
altoos naby mekaar bly, anders sou so'n intieme verhouding nie aan
hulle toegeskrywe word nie. Ten derde, is dit vermoedelik, dat die
gebeurtenis wat beskrywe word een is wat hom dikwels herhaal, anders
sou dit nie besonder indruk op die primitiewe brein gemaak het nie.
Dit is vir die skrywer heeltemal duidelik dat Dr. Bleek nie die Boesman
verstaan het toe laasgenoemde hom die "Hart van die Dageraad" in die
hemel probeer wys het nie.
En waarom het die misverstand ontstaan? omdat die Boesman na iets
wys wat die Blanke nie met sy blote oog kon sien nie! Die enigste
liggame wat met Jupiter die hemel deurreis is sy vyf mane, wat eers
in 1610 deur Galileo ontdek is, die eerste sterrekundige ontdekking
gedaan nadat hy sy verkyker gemaak het.
Om sy bewering te staaf, dat die Boesman twee uit die vyf mane geken
het, en dus waarskynlik lank voor Galileo hul ontdek het, is dit
nodig vir die skrywer om by bowestaande nog die volgende by te voeg
uit 'n boek oor sterrekunde deur Dr. Chas. A. Young, Professor in
Sterrekunde by Princeton Universiteit.
"When Jupiter is in opposition, the fourth satellite is sometimes
nearly 10-1/2' away from the planet, or one-third of the moon's
diameter; and in a very clear air (soos byvoorbeeld in die Karo)
can be seen by a sharp eye without telescopic aid. The third,
though larger, never goes more than 6' from the planet and it
is perhaps doubtful whether it is ever seen with the naked eye
unless when the fourth happens to be close beside it."
Hier sien ons hoe die prosaïese sterrekundige probleem van die
beweginge van Jupiter se mane wat ons soveel hoofbrekens op die
Universiteit veroorsaak het, in 'n digterlike manier deur die Boesman
behandel is. Digterlik is ook sy beskrywing van die oorsprong van die
maan dat dit 'n sandaal is wat !Kaggen in die lug gegooi het. Digterlik
omdat hulle altoos praat van die maan wat loop oor die hemel en die
skoen vir hulle die stoflike voorstelling van "loop" is. Soveel van
wat hul sê en doen is so deurtrek van digterlikheid, dat 'n mens
dikwels twyfel of die volk wat sulke wonderlike werk in die beeldende
kunste gelewer het, werklik nie meer as digters moet waardeer word
nie. Alleen die internasionale medium van die eersgenoemde kuns sal
waarskynlik altoos die skaal aan sy kant aftrek, daar die oorgrootste
meerderheid hul digkuns alleen deur 'n tolk kan geniet.
In die besit van die skrywer is 'n stoflike gedig--'n Boesman
gifpyl--die snel bode met 'n doodlike boodskap. Vooraan, op die kop
lê die slanggif dik, en agter in plaas van die gewone seningband,
is 'n ringetjie van slangvel aangekrimp. 'n Stoflike gediggie wat
die slang beskrywe. 'n Toehoorder mag miskien beswaar hê dat die
digterlikheid net in die verbeeldingskrag van die skrywer sit, maar
met jou studie van die Boesman sien 'n mens soveel van dié gees dat
dit nog lank nie onmolik is dat die pyl so afgewerk het nie. Dit
is swaar om 'n gedig aan te haal, want die skrywer moet ongelukkig
vertaal van 'n vertaling. Hier volg egter so 'n vertaling, en uit dit
inleiding blyk dit dat die digter 'n man is wat deur die sendelinge
sou beskrywe word as 'n man wat in die diepste ellende van onkunde
verkeer, en tog hoe pragtig is sy beskrywing van die leegheid nou
dat sy maat nie meer by hom is nie.
"Dit is 'n treurlied deur Gaattin gesing na die dood van sy vriend
die towenaar en reenmaker !Nuin !Kuiten wat aan die gevolge van
'n skot gesterwe het wat hom een aand getref het terwyl hy, in
die vorm van 'n leeu rondloop. (Hy sê die snaar wat daar so lief
in die blou hemel gesing het in die leeftyd van die towenaar,
word nie langer gehoor nie).