TAAL.

Sy brein is maar klein, maar sy lyf ook; en sy brein, sy wilskrag hou

hom gespanne as hy opgewonde raak. Met hom, soos met ons kunstenare

vandag, word 'n werk wat begin, en afgewerk kan word, met ywer gepak,

en klaargemaak; maar die nimmereindigende dagelikse klein werkies wat

die siel van 'n kunstenaar breek, kon die Boesman ook nie baasraak nie,

en daarvandaan die feit dat hul nie verder ontwikkel het nie. Brein,

nieteenstaande wat baie skrywers sê, had hulle bepaald. Dink maar

byvoorbeeld aan hulle ontwikkeling in hulle jagmetodes ens., wat hulle

hier in Suidafrika moes uitgewerk het, afgesien van die kennis wat

hulle uit die Noorde saamgebring het. Ook lewer die Boesman bewys van

sy vermoë deur die gemaklike wyse waarop hy tale aanleer. Verskillende

outoriteite maak spesiaal melding hiervan, en een vertel van 'n

Boesman wat buiten en behalwe sy eie taal vlot Afrikaans praat, meer

Engels ken as baie Boere, en sowat ses ander Hottentot- en Bantoe-tale

magtig is. Om hierdie punt te bespreek, sal ons 'n bietjie te ver van

ons onderwerp aflei. Ook die bespreking van hul taal is buiten die

bevoegdheid van die skrywer. Alle Afrikaners weet dat Boesman-taal,

saam met Hottentot- en een of twee Bantoe-tale die klappers besit, maar

dat die Boesman taal meer het as die ander. Die klappers is moeilik

vir die Blanke om uit te spreek, ja selfs om die aparte klappers

vanmekaar te onderskei, en die moderne uitvindsel die praatmasien,

probeer nie eers om die klappers weer te gee nie! Mejuffrou Doris

Bleek, een van die weinige Blankes wat vandag nog kennis het van die

Boesman-taal, het die skrywer 'n paar feite meegedeel; onder ander,

ook wat aantoon hoe die Boesman aggee op die gang van 'n mens,

vertel sy dat die Boesman byna tweemaal soveel werkwoorde het vir

verskillende maniere van loop, kruip, slinger ens.

Maar terwyl ons die behandeling van die onderwerp van taal moet oorlaat

aan die taalkundiges, is daar een metode van gedagtewisseling wat

die Boesman gebruik het, wat ons wel hier kan bespreek, naamlik die

seintaal. Dit is te verwag dat die Boesman 'n seintaal had. Alle nasies

of klasse wat met mekaar wil gesels waar daar te groot geraas is,

of waar daar nie mag gepraat word nie, het so iets. Die skooljong,

die arbeiders in seker fabrieke, die spoorwegwerkers ens., het

almal hul eie seintaal. Die bewoner van "flats" in Napels kan lang

besigheidsgesprekke met die groentesmouse onder in die straat voer

sonder om 'n woord uit te spreek. Die Grieke kon met gebare feitlik

enige getal merk of weergee. En wat vind ons in die geval van die

Boesman? Ongelukkig maar min besonderhede. Stow vertel dat hulle voor

'n strooptog die hele aanval in al sy besonderhede bespreek, en alle

moontlike uitslae bedink en 'n kode van seine uitwerk om mekaar

bekend te maak met die loop van sake gedurende die aanval. As dit

so is, moet ons verwag dat vir eenvoudigheid hulle, sover moontlik,

gedurig dieselfde seine gebruik het, en so 'n seintaal ontwikkel

het. Campbell en 'n paar ander skrywers vertel vir ons van enkele

gebare. Bleek en Lloyd vertel dat as 'n man by 'n jag flouval, hy stof

opgooi as 'n teken dat hy hulp nodig het. Campbell vertel ook hoe

hulle (d.w.s. onbekende wilde Boesmans) nog een aand met vuurseine

hom op die regte pad na water gehelp het. Vergelyk ook die volgende

twee uittreksels, een byna 'n eeu en 'n kwart oud van Lichtenstein,

dat ander nog geen ses maande gelede nie deur Reuter uit S.W. Afrika

gesein:

"Die Bosjesmanne het 'n onafgebroke kommunikasie met mekaar, so

goed, dat hulle alles weet wat in die land aangaan, nie alleen

gouer nie; maar meer akkuraat as enige ander nasie. Indiwiduele

Bosjesmanne, sê hulle (d.w.s. die Betjoeanas) kom ongewapend

en alleen na hulle (Betjoeana) veewagters en smeek om kos, in

terugbetaling waarvoor hulle meedeel enige nuus wat hulle van wis."

Die twede uittreksel is uit een van Reuter se telegramme oor die

geval van 'n seker patrollie onder Kapt. Swemmer wat 160 myl van

Grootfontein al hul kamele en al hul water buiten een kameel en een

bottel water kwytgeraak het.

"Toe kom een van die geheimsinnige gebeurtenisse wat in die

wilde Afrika gebeur. Op een of ander wyse stuur die Boesmans

die boodskap aan dat Kapt. Swemmer deur leeus aangeval is, en

met een kameel aankom en water nodig het. Die Boesmans op die

grens van Grootfontein ontvang die boodskap, en deel dit met

die beamptes by Grootfontein mee...... Hoe die nuus vervoer is,

bly onbekend. Boesman-bodes mag miskien die moeite gedaan het om

dit na Grootfontein te bring. Dit, dink die mense is nie baie

waarskynlik nie, en die ou Blanke-inwoners glo liewer dat die

Boesman die groot primitiewe gawe van telepatie besit."

En waaroor gesels die Boesman? Natuurlik oor sake wat binne of naby die

grense van sy kennis lê. Die Jonkvrou Augusta Uitenhaag de Mist het in

1802 baie kortaf die kennis van die Boesman beskrywe. "Hy het kennis

van niks," skrywe sy, "as van gifpyle en vuurmaak." Dit is egter nie

so nie, en buiten en behalwe sy kennis wat ons alreeds ondersoek het,

wil die skrywer 'n paar feite voorlê in verband met hulle kennis

onder die volgende hoofde: aardkunde, aardrykskunde, rekenkunde,

dierkunde, geneeskunde, plantkunde, sterrekunde, letterkunde, digkuns,

toneelkuns, danskuns, musiekkuns, graveerkuns en skilderkuns. In seker

van genoemde indelinge van kennis, is hulle vordering groot gewees,

in ander weer, minder; maar afgesien van hulle kunste, was hul

almelewe prakties. So was dit ook met hul kennis van aardkunde. Die

stowwe wat hulle van wis, was die grondstowwe waaruit hulle hul verf

gemaak het, waarvan hul hulle pylkoppe gemaak het, en hulle bore; maar

hulle het ook geweet wat vandag amper 'n verlore kuns is, d.w.s. hoe

om die vuurklip te slaan om die verskillende werktuie te maak; ook

wis hul waar om vir water te soek en dit was vir hulle altoos al te

mooi, wanneer in die diens van die Blanke, om met hul kennis te pronk,

en gou water te vind na die Bantoe tevergeefs probeer het.

Iets oor die Boesmankultuur 'n Lesing gehou voor die Suid-Afrikaanse Akademie op Stellenbosch, Januarie 1920, en gedruk op las van die Akademie · 第 28 / 35 题