DIE LIED VAN DIE NAGWIND.

Ek lê op my bed, so onrustig--

dis middernag lank al verby;

en ek hoor hoe die nagtlike koelte

deur eike en denne sig sprei.

Dit ruis nes die siltige waters,

wat daar skuif oor die sandige strand,

gehoor deur die wandelaar van verre,

wat seewaarts hom haas oor die land.

O nagwind, o nagwind, kom sê my,

wat spreek tog jou ruisende lied?

Vertel jy ’n tyding van liefde?

Bring jy vrede of wee en verdriet?

Dit is my of duisende stemme

van mense reeds lang weggekwyn,

vermeng met jou ruisende sugte

hul eggo van droefheid en pyn.

Die voorsang van duisende wesens,

nie-gebore, vertolk my jou sug,

die lied van hul komende weedom

die dra jy so sag deur die lug.

O nagwind, ek hoor maar deurgrond nie

jou klaende, suisende sang--

my harte klop sneller en sneller,

my kinderlik harte word bang!

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 54 / 122 题